Tipes wangedrag in die werksplek

Dit is baie belangrik dat elke werksplek ‘n relevante dissiplinêre kode het wat verseker dat daar duidelike reëls (met toepaslike sanksies) in die werksplek is wat werknemers kan volg. Wanneer werknemers die reëls oortree, het die werkgewer die reg om op te tree. Daar is verskillende tipes wangedrag in die werksplek wat wissel van minder ernstige oortredings tot baie ernstige oortredings. Die erns van die oortreding word beïnvloed deur die werknemer se tipe werk en verantwoordelikheid. Asook die (moontlike) gevolge van die oortreding en die impak van die oortreding op die werknemer-werkgewer vertrouensverhouding.

6 kategorieë van wangedrag:

1. Afwesigheid

Afwesigheid is ‘n algemene tipe wangedrag wat ‘n groot invloed op besigheidsaktiwiteite het en effektief aangespreek moet word om produktiwiteit te verseker. Dit is die werknemer se plig om dienste te lewer volgens die werksure wat deur die werkgewer vereis word.

Afgesien daarvan om nie by die werk te wees nie, sluit afwesigheid die volgende in:

  • Laatkommery – solank as wat die werknemer nie by die werk is nie, is dit steeds afwesigheid
  • Vroeg loop
  • Ongemagtigde breuke
  • Verlengde breuke – rook, kleedkamer, ete, ens.
  • Geveinsde siekte
  • Ander onverklaarde afwesigheid vanaf die werkstasie of perseel

2. Kontrole by die werk

Alle werknemers het die verpligting om pligte en take soos op ooreengekom uit te voer. Hierdie pligte en take moet aan die werkgewer se vasgestelde standaarde in terme van kwaliteit en kwantiteit voldoen. Werknemers moet ook binne die werksplek se reëls, beleide en vasgestelde werkswyses optree. Dit is die werkgewer se reg om kontrole in die werksplek uit te oefen, ook met betrekking tot wangedrag. Hierdie kontrole het betrekking tot onder andere swak tydhouding, slaap aan diens, nalatigheid in die hantering van die werksgewer se eiendom en swak werksprestasie. Die bogenoemde kom voor as gevolg van onvoldoende aandag, nalatigheid, verontagsaming van reëls en beleide en tydvermorsing.

3. Staking / Industriële aksie

Staking verwys na die georganiseerde onderbreking van werk vir ‘n tydperk met intensie om eise op die werkgewer af te dwing. Wanneer werknemers nie die korrekte prosedure volg voordat die staking plaasvind nie, word die staking as onbeskermd geag. Die werkgewer kan dan dissiplinêre stappe neem. Wanneer werknemers wel die korrekte prosedure volg, kan werkgewers dissiplinêr optree indien werknemers skade aan eiendom aanrig of wanordelik optree. Hierdie wanordelike gedrag sluit in intimidasie, sabotasie en aanhitsing.

Industriële aksie verwys na wanneer werknemers met opset sloer, hul samewerking weerhou, sekere produkte boikot of ‘n sit-in aksie hou as deel van ‘n poging tot passiewe oorname.

4.  Wanordelike gedrag

Wanordelike gedrag behels enige gedrag wat harmonie en orde in die werksplek versteur.

Oortredings sluit die volgende in:

  • Insubordinasie – verontagsaming van instruksies, wanneer die werknemers weier om ‘n wettige en redelike instruksie uit te voer of nie die werksplek se reëls, beleide en vasgestelde werkswyses nakom  nie.
  • Beledigende gedrag en taalgebruik
  • Bakleiery, aanranding, seksuele teistering, intimidasie, ens.
  • In besit of onder die invloed wees van dwelms of alkohol.
  • Opsetlike verlies, beskadiging of misbruik van die werkgewer se eiendom.

5. Diefstal, bedrog en die verbreking van konfidensialiteit en vertroue

Oneerlikheid in die werksplek word as ‘n baie ernstige tipe wangedrag geag. Dit verwys na korrupsie, bedrog, valse bewyse en verklarings, diefstal, openbaarmaking van vertroulike inligting en die wanaanwending van die werkgewer se eiendom. Elke werknemers het die verpligting om in goeie trou in belang van die werkgewer op te tree. Werknemers is ook verplig om enige afwykings in terme van die werkgewer se dissiplinêre kode dadelik te rapporteer. Indien ‘n werknemer bewus is van ongeruimdhede in die werksplek en dit nie rapporteer nie, kan die werkgewer dissiplinêre stappe neem teenoor hierdie werknemer.

6. Behuising as deel van die diensooreenkoms

Somige werkers bly dikwels op die werkperseel self. Dit is gewoonlike as gevolg van geografiese, praktiese en historiese redes. Dit is uiters belangrik om behuising op die werkperseel direk te koppel aan indiensname. Die terme en voorwaardes daarvan moet ook in ‘n klousule in die dienskontrak te vervat word. Hierdeur word moontlike toekomstige dispute proaktief bestuur en die werkgewer se regte beskerm. Wanneer die diensverhouding beëindig word, verbeur die werknemer outomaties die voordeel van behuising op die werkperseel. Dissipline rondom hierdie verblyf as voordeel, word gereguleer deur die dissiplinêre kode, waar oortredings gelys word met verwysing na:

  • Die werkgewer se eiendom – aanhou van lewende hawe of troeteldiere sonder toestemming, onderverhuring, vermorsing van water en elektrisiteit, strooi van rommel, ens.
  • Alkohol-en dwelmmisbruik
  • Besoekers op die werkgewer se eiendom
  • Bakleiery, aanranding, seksuele teistering, intimidasie, ens.
  • Opsetlike beskadiging van die werkgewer se eiendom.

Dit is uiters belangrik dat die werksplek se reëls met die werknemers bespreek en op skrif gestel word. Slegs dan kan werkgewers bewys dat werknemers bewus is van die reëls asook die gevolge wanneer hierdie reëls oortree word.

Deel dit op:

Share on facebook
Facebook
Share on google
Google+
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
LWO Regsadviseur - LWO Legal Advisor

LWO Regsadviseur - LWO Legal Advisor

Laat 'n antwoord of kommentaar

Teken op vir ons nuusbrief

Klik op wysig knoppie om hierdie teks te verander. Lorem ipsum dolor sit amet, consectetur adipiscing elit

Aandag alle WERKGEWERS!

Skryf vandag in

om meer inligting oor die LWO en jou

GRATIS Arbeidsreg Ouditkontrolelys

Op maat gemaak vir jou besigheidsbehoeftes

U inligting is veilig en sal nie met derdeparty-maatskappye gedeel word nie.