Werkgewers het twee doelwitte: winsgewendheid en volhoubaarheid. Personeelvermindering is die proses wat die werkgewer moet volg wanneer, onder andere, ‘n werknemer se posisie oorbodig word en ontslag plaasvind weens operasionele vereistes.
Arbeidswetgewing vereis ‘n streng prosedure wat gevolg moet word. Die bepalings en voorwaardes van indiensname mag nie eensydig aangepas word nie.
Substantiewe billikheid – vir watter redes kan die werkgewer werknemers aflê:
Ekonomiese redes
Dit verwys na wanneer ‘n besigheid nie meer in die finansiële posisie is om alle huidige personeel indiens te hou nie, bv:
- die ekonomie;
- ‘n droogte;
- wetswysigings wat impakteer op besigheidskoste;
- toetrede van konkurrente tot die mark; ens.
Tegnologiese redes
Die vooruitgang in ‘n sektor bring dikwels nuwe werkswyses en tegnologie voort. Hierdie vooruitgang kan lei tot poste wat oorbodig word, bv:
- nuwe tegnieke;
- uitvindsels;
- masjinerie en meganisasie
Strukturele redes
Wanneer die besigheid aanpas by ‘n veranderende omgewing, hetsy positief of negatief, vind herstrukturering plaas. Dit kan lei tot poste wat oorbodig raak. Strukturele redes kan ook verwys na wanneer ‘n besigheid strategiese veranderinge maak in terme van visie en doelwitte.
Prosedurele billikheid – volg die korrekte prosedure:
Stel die werknemer in kennis
Nadat alle moontlikhede oorweeg is en personeelvermindering die laaste opsie is, moet die werkgewer werknemers deur ‘n geskrewe memorandum hiervan inlig. Spesifieke inligting moet hierin vervat word en moet werknemers ten minste 48 uur kennisgewing ontvang om voor te berei vir die konsultasie. Vakbonde moet ook in kennis gestel word waar van toepassing.
Konsulteer
Alle partye neem deel aan die konsultasie ten einde alternatiewe tot personeelvermindering te ondersoek, tydslyne opstel en die negatiewe impak van die aflegging te beperk. Die werkgewer moet deurgaans ontvanklik wees vir voorstelle en konsulteer met elke werknemer wat moontlik hierdeur geaffekteer kan word.
Implementering nadat konsensus bereik is
Partye moet aanhou om te konsulteer totdat konsensus bereik is. Indien daar steeds geen alternatief tot afleggings bestaan nie, kan die werkgewer voortgaan met die personeelvermindering – hierdie werknemers is dan geregtig op die volgende betalings waar van toepassing:
- skeidingspakket (een week vir elke voltooide jaar van diens)
- kennisperiode
- uitstaande verlof
- enige ander uitstaande bedrag waarop die werknemer geregtig is.
Meeste sake wat na die KVBA verwys word hou verband met onbillike ontslag. Arbitrasiebevele word in die algemeen in die guns van die werknemer bevind as gevolg van die werkgewer wat nie die korrekte prosedures volg nie. Om aan arbeidswetgewing te voldoen is nie onderhandelbaar nie en hou ‘n groot besigheidsrisiko in vir die werkgewer – bestuur dit pro-aktief en beskerm jou besigheid.
Kontak die LWO vir enige bystand en advies aangaande personeelvermindering.
Nog nie ‘n lid by die LWO nie? Gaan kyk gerus na ons lidmaatskap pakkette.