Lidmaatskap Ooreenkoms – Telefoniese Bystand

1. WOORDOMSKRYWINGS:

Hernuwingsjaar:
Die tydperk vanaf die datum waarop lidmaatskap begin tot en met 12 (twaalf) maande daarna.

Labour Quest:
’n Geaffilieerde maatskappy waarna lede verwys sal word indien verdere bystand of dokumentasie buite die bestek van hierdie pakket benodig word.

Lid:
Enige natuurlike persoon of regsentiteit wat as werkgewer optree, wat aansoek doen om lidmaatskap en wie se aansoek deur die LWO aanvaar word. Lidmaatskap word gevestig wanneer ’n lidnommer uitgereik word.

LWO Werkgewersorganisasie (die LWO):
’n Geregistreerde werkgewersorganisasie ingevolge Artikel 96(7) van die Wet op Arbeidsverhoudinge, Wet 66 van 1995, soos gewysig, met registrasienommer LR2/6/3/271, hierna verwys na as “die LWO”.

Telefoniese advies:
Telefoniese arbeidsregleiding wat aan lede deur die LWO verskaf word.

Werkgewer:
Enige persoon (hetsy ’n natuurlike persoon of regsentiteit) wat ’n ander persoon ingevolge ’n dienskontrak aanstel. In die geval van ’n natuurlike persoon sluit dit ’n opvolger, erfgenaam of genomineerde van die werkgewer in.

Werkgewersorganisasie:
Enige aantal werkgewers wat saam verenig is met die doel om, hetsy op sigself of saam met ander doeleindes, betrekkinge tussen werkgewers en werknemers of vakbonde te reël.

Werknemer:
Enige persoon, behalwe ’n onafhanklike kontrakteur, wat vir enige ander persoon werk en vergoeding ontvang of geregtig is om vergoeding te ontvang, en enige persoon wat op enige wyse die werkgewer help om sy besigheid te bedryf of te bestuur.

2. TERME EN VOORWAARDES:

2.1 Aansluitingsfooi
2.1.1 Die eerste maandelikse of jaarlikse premie is betaalbaar voordat ‘n lid vir enige telefoniese bystand kwalifiseer.
2.2 Algemeen
2.2.1 Hierdie pakket is slegs beskikbaar vir nuwe lede en mag nie as ‘n afgraderingsopsie deur bestaande LWO lede gekies word nie.

2.2.2 Lede kan op enige stadium gedurende die hernuwingsjaar aansoek doen om op te gradeer na ‘n hoër lidmaatskappakket. Waar opgradering versoek word as gevolg van ‘n spesifieke aktiewe aangeleentheid, behou die LWO die reg voor om ‘n lid te versoek om die volle jaarlikse lidmaatskapfooi van die gekose pakket te betaal, alternatiewelik ‘n eenmalige betefooi te hef.

2.2.3 Lidmaatskapfooie kan maandeliks of jaarliks per debietorder betaal word.

2.2.4 Lidmaatskap is beperk tot werkgewers met ‘n maksimum van drie (3) werknemers.

2.2.5 Hierdie pakket sluit nie dokumentasie, bystand op die perseel of heen-en-weer e-pos korrespondensie in nie.

2.2.6 Waar ‘n lid se navraag, dokumentasie of uitgebreide betrokkenheid vereis, sal die LWO die lid na Labour Quest verwys vir verdere bystand teen aparte tariewe.

2.3 Verantwoordelikhede van die lid
2.3.1 Dit is die lid se verantwoordelikheid om die LWO te kontak vir advies in alle arbeidsverwante sake.

2.3.2 Om voortdurend te voldoen aan alle toepaslike bepalings van die LWO se Konstitusie.

2.3.3 Regskoste wat deur die LWO aangegaan word vir die invordering van koste en uitstaande en/of agterstallige fooie, kan verhaal word op ’n prokureur-en-kliënt-skaal.

2.4 Verantwoordelikhede van die LWO Werkgewersorganisasie
2.4.1 Die LWO sal te alle tye die lid waardeer en met respek en integriteit behandel.

2.4.2 Die lid se belange sal geprioritiseer word, tensy dit in konflik is met die LWO se Konstitusie, openbare belang en/of toepaslike arbeidswetgewing of ander Suid-Afrikaanse wetgewing.

2.4.3 Die LWO onderneem om telefoniese bystand te verskaf, beperk tot arbeidsreg advies soos uiteengesit in die lidmaatskapvoordele.

2.4.4 Die LWO onderneem om die lid se persoonlike inligting te verwerk in ooreenstemming met die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) en slegs vir die doel om die LWO se verpligtinge en wettige funksies binne die raamwerk van die LWO se Konstitusie na te kom.

3. LIDMAATSKAP VOORDELE:

Die volgende voordele is van toepassing en word deur die lidmaatskapfooi gedek, wat vooruit betaalbaar is:

  • Elektroniese nuusbrief met relevante inligting;
  • Gratis telefoniese advies is 24 uur per dag en sewe dae per week beskikbaar. Elke oproep is beperk tot 20 minute. Oproepe wat lei tot konsultasies of langer as 20 minute duur, kan teen die standaard LWO-uurtarief wat op daardie tydstip geld, gefaktureer word;
  • Uit oproepe kan ‘n enkele opvolg e-pos deur die LWO gestuur word om advies op te som of te verduidelik. Hierdie pakket sluit heen-en-weer e-pos korrespondensie of opstel dokumentasie uit;
  • Indien ‘n lid enige dienste, dokumentasie, sjablone of beleide benodig, sal hulle na Labour Quest verwys word of ‘n opgradering na ‘n hoër LWO lidmaatskappakket aangebied word.

4. UITSLUITINGS:

4.1 Enige arbeidsverwante dienste;

4.2 Arbeidswetdokumente, sjablone en beleide.

5. BESLEGTING VAN GESKILLE:

5.1 Indien enige geskil tussen die lid en die LWO ontstaan oor lidmaatskap, lidvoordele of enige ander relevante aangeleentheid, stem die lid in dat:
5.1.1 Die geskil eers deur die betrokke afdeling van die LWO hanteer moet word; en dan

5.1.2 Indien nodig, deur die Hoof Uitvoerende Beampte; en dan

5.1.3 Indien nodig, deur die Bestuurskomitee; en dan

5.1.4 Indien nodig, deur die LWO-Raad — elk onderskeidelik binne 30 (dertig) dae.

5.2 Indien die geskil steeds onopgelos bly, stem die lid in dat ’n eksterne bemiddelaar, soos deur albei partye ooreengekom, die geskil sal besleg en dat die uitkoms van hierdie proses finaal en bindend sal wees.

5.3 Die koste van die eksterne bemiddelaar sal deur albei partye op ’n 50/50-basis betaal word.

6. VEELVULDIGE LIDMAATSKAPPE:

Lidmaatskap van die LWO Werkgewersorganisasie berus by die natuurlike persoon of regsentiteit wat as werkgewer optree. Verskillende werkgewers moet dus elk ’n afsonderlike lidmaatskap neem

7. BESKERMING VAN PERSOONLIKE INLIGTING (“POPI”):

7.1 Die lid erken en stem in dat die LWO persoonlike inligting sal versamel, verwerk en bewaar in ooreenstemming met toepaslike wetgewing oor databeskerming, insluitend maar nie beperk nie tot die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA).

7.2 Die werkgewer onderneem om die persoonlike inligting van werknemers slegs te verwerk in ooreenstemming met die voorwaardes vir regmatige verwerking soos uiteengesit in POPIA en slegs tot die mate wat nodig is om verpligtinge na te kom en funksies as werkgewer binne die raamwerk van die diensverhouding uit te voer.

7.3 Die LWO sal redelike maatreëls implementeer om die vertroulikheid en sekuriteit van persoonlike inligting te beskerm en ongemagtigde toegang, openbaarmaking, wysiging of vernietiging te voorkom.

7.4 Die lid het die reg om toegang tot, regstelling of uitwissing van hul persoonlike inligting wat deur die LWO gehou word, aan te vra, ooreenkomstig toepaslike databeskermingswette.

7.5 Die LWO sal persoonlike inligting slegs behou vir so lank as wat nodig is om die doeleindes te bereik waarvoor dit versamel is, tensy ’n langer tydperk deur die wet vereis word.

7.6 In die geval van ’n databreuk wat persoonlike inligting in gevaar kan stel, sal die LWO toepaslike maatreëls tref om die impak te versag.

7.7 Die lid stem in om die LWO onmiddellik in kennis te stel van enige veranderinge aan hul persoonlike inligting om akkurate en bygewerkte rekords te verseker.

7.8 Die LWO mag hierdie POPI-klousule aanpas soos nodig om te voldoen aan wysigings in databeskermingswette. Lede sal in kennis gestel word van enige wesenlike veranderinge.

Deur hierdie ooreenkoms te onderteken, erken die Lid dat hulle die inhoud van hierdie POPI-klousule gelees, verstaan en aanvaar het.

8. KANSELLASIE VAN LIDMAATSKAP:

8.1 Bedanking as lid kan gedoen word deur 30 (dertig) dae kennis skriftelik aan die LWO te gee.

8.2 Lidmaatskap kan opgeskort of beëindig word ooreenkomstig die LWO se Konstitusie in gevalle van nie-nakoming, reputasionele skade of wangedrag.

9. DIE LWO KONSTITUSIE:

Deur hierdie ooreenkoms te onderteken, aanvaar die lid die LWO se Konstitusie, en die inhoud van hierdie ooreenkoms sal geïnterpreteer word gebaseer op enige bepalings wat in die Konstitusie uiteengesit is of enige redelike uitleg daarvan.