Mediese sertifikate en sieknotas

Mediese sertifikate, algemeen bekend as sieknotas, speel ‘n belangrike rol in die bestuur van siekverlof in die werksplek. Dit dien as bewys dat ‘n werknemer weens siekte of besering nie in staat was om sy/haar normale werksverpligtinge na te kom nie. Hoewel die meeste werknemers en werkgewers vertroud is met die konsep van ‘n sieknota, bestaan daar dikwels onsekerheid oor wanneer dit vereis mag word, watter inligting daarop moet verskyn en hoe om die geldigheid daarvan te bepaal.
Wat bepaal wetgewing oor sieknotas
Ingevolge artikel 23 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, Wet 75 van 1997 (WBDV), kan ‘n werkgewer nie vir elke dag van afwesigheid ‘n sieknota vereis nie. Die wet bepaal dat ‘n werknemer slegs verplig is om ‘n mediese sertifikaat voor te lê indien die werkgewer dit versoek en hy/sy:
- vir langer as twee opeenvolgende dae van die werk afwesig was weens siekte of besering; en/of
- op meer as twee geleenthede gedurende ‘n tydperk van agt weke afwesig was weens siekte of besering, selfs al is die werknemer slegs afwesig vir een dag.
In sulke gevalle kan die werkgewer regmatig bewyse van die werknemer se ongeskiktheid vir werk verlang.
‘n Geldige mediese sertifikaat
‘n Mediese sertifikaat is slegs geldig indien dit uitgereik en onderteken is deur ‘n mediese praktisyn of ander gesondheidspraktisyn wat wettig geregistreer is by ‘n toepaslike professionele raad. Hierdie vereiste beskerm die werknemer sowel as die werkgewer en verseker dat die nodige siekverlof gebaseer is op die professionele mening van ‘n gekwalifiseerde persoon.
Die WDBV omskryf nie al die inligting wat op die sieknota moet verskyn nie, maar die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (“HPCSA”) stel riglyne waaraan praktisyne moet voldoen. Die mediese sertifikaat behoort die volgende inligting te bevat:
- die praktisyn se naam, adres, kwalifikasie en registrasienommer, asook sy/haar voorletter en van in blokletters
- die pasiënt se naam en werknemernommer (indien van toepassing)
- die datum en tyd van die ondersoek
- die datum en grondslag waarop die sertifikaat uitgereik is
- ’n beskrywing van die siekte of kwaal in leketaal (met die pasiënt se toestemming)
- of die pasiënt heeltemal ongeskik is vir diens, of ligter werk kan verrig
- die presiese tydperk van die aanbevole siekverlof
Openbaarmaking van die diagnose
‘n Belangrike aspek wat dikwels misverstaan word, is die openbaarmaking van die werknemer se diagnose. Die WBDV vereis nie dat die spesifieke mediese toestand of diagnose op die sertifikaat aangedui moet word nie. Mediese inligting word as privaat en vertroulik beskou en geniet beskerming ingevolge die werknemer se reg op privaatheid. Daarom is dit voldoende indien die sertifikaat bloot meld dat die werknemer weens ‘n “mediese kondisie” of “mediese redes” nie geskik was om te werk nie. Werkgewers behoort hierdie beginsel van vertroulikheid te respekteer en nie onnodig toegang tot sensitiewe mediese inligting te probeer verkry nie.
Ondersoek die geldigheid
Tog beteken dit nie dat ‘n werkgewer ‘n mediese sertifikaat blindelings hoef te aanvaar nie. Indien daar redelike gronde bestaan om die egtheid of geldigheid van die dokument te bevraagteken, mag die werkgewer ondersoek instel. Sulke ondersoeke kan insluit om die praktisyn se registrasie te verifieer by die toepaslike professionele raad, om die datum van die konsultasie te bevestig, of die tydperk waarvoor die werknemer afgeboek is te bevestig.
Daar is egter duidelike perke aan sodanige ondersoeke. Werkgewers mag nie navraag doen oor die werknemer se diagnose of enige ander vertroulike mediese besonderhede sonder die werknemer se toestemming nie. Die doel van die ondersoek is uitsluitlik om die geldigheid van die mediese sertifikaat te bepaal en nie om toegang tot privaat gesondheidsinligting te bekom nie.
Mediese sertifikate vervul dus ‘n belangrike funksie in die arbeidsverhouding. Dit beskerm werknemers wat werklik siek is en verseker dat hulle billik behandel word, terwyl dit werkgewers in staat stel om afwesigheid effektief te bestuur en moontlike misbruik van siekverlof aan te spreek. Wanneer beide partye die wetlike vereistes en regte verstaan, dra dit by tot ‘n professionele, produktiewe en billike werksomgewing.
Kontak die LWO vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.