Nuut verhoogde inkomsteplafon

Dit is uiters belangrik vir elke werkgewer om te bepaal watter werknemers bo die inkomsteplafon verdien en watter werknemers onder die inkomsteplafon verdien, aangesien dit ‘n groot impak het op die diensvoorwaardes en -bepalings waarop die werkgewer en werknemer kan ooreenkom. Die inkomsteplafon is weereens verhoog met intrede 1 Maart 2023 en is tans vasgestel op R241 110.59 (‘n maandelikse bedrag van R20 092.55). Die vorige inkomsteplafon van R224 080,48 was sedert 1 Maart 2022 van krag.
BESKERM JOU REGTE AS WERKGEWER
LAAT LWO JOU HELP!

Wat is verdienste (inkomste)?

“Verdienste” beteken ‘n werknemer se gereelde jaarlikse vergoeding voor aftrekkings (bv. inkomstebelasting, pensioenfondsbydraes, mediese fondsbydraes en soortgelyke betalings), maar sluit uit enige bydraes gemaak deur die werkgewer ten opsigte van die werknemer. Verblyf- en vervoertoelae ontvang, prestasietoekennings en betalings vir oortyd gewerk word ook uitgesluit binne die bestek van vergoeding.
Die inkomsteplafon het ‘n effek op drie stelle wetgewing, insluitende die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 1997, die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 en die Wet op Billike Werksgeleenthede, 1998 (WBW).
  • Wet op Basiese Diensvoorwaardes (WBDV): Werknemers wat bo die inkomsteplafon verdien word uitgesluit van sekere artikels in die WBDV. Hierdie uitsluitings verwys na die bepalings wat die volgende reguleer: normale werksure, oortyd, saamgeperste werksweke, gemiddelde werksure, etensbreuke, daaglikse en weeklikse rusperiodes, Sondagbetaling, betaling vir nagwerk en betaling vir werk gedoen op openbare vakansiedae.
Dit beteken dat indien ‘n werknemer bo die inkomsteplafon verdien, die regulering van bogenoemde deur onderlinge ooreenkoms moet geskied en nie deur die WBDV gereguleer sal word soos wat die geval is met werknemers wat onder die inkomsteplafon verdien nie.
  • Wet op Arbeidsverhoudinge (WAV): Ingevolge die WAV word werknemers wat deur ‘n tydelike werksverskaffingsdiens/arbeidsmakelaar aangestel word en wat nie ‘n tydelike diens verrig nie, geag as werknemers te wees van die kliënt. Die WAV meld verder dat werknemers op ‘n vastetermyn na drie maande onbepaald in diens geneem word en as permanente werknemers geag word in die afwesigheid van ‘n regverdigbare rede om die dienskontrak se termyn vas te stel.

Werknemers wat bo die inkomsteplafon verdien, is nie onderhewig aan enige van hierdie bepalings nie en kan op ‘n vastetermynbasis van langer as drie maande in diens geneem word sonder ‘n regverdigbare rede.

  • Wet op Billike Werksgeleenthede (WBW): ‘n Werknemer wat bo die inkomsteplafon verdien en ‘n dispuut het onder Hoofstuk II van die WGI wat verband hou met onregverdige diskriminasie, kan nie die dispuut na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA (“CCMA”)) verwys nie. So ‘n werknemer is verplig om die dispuut direk na die Arbeidshof te verwys vir beslegting, tensy:
    • die dispuut verband hou met beweerde onregverdige diskriminasie op die gronde van seksuele teistering; of
    • indien die partye almal tot arbitrasie by die KVBA instem.
Die inkomsteplafon word meer gereeld as in die verlede verhoog en werkgewers word aangemoedig om ingelig te bly ten einde diensvoorwaardes en -bepalings dienooreenkomstig te kan aanpas vir werknemers wat onderskeidelik bo en onder die inkomsteplafon verdien.

VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

VIND NOU UIT.

Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.