STAKINGS EN INDUSTRIËLE AKSIE

Die Wet op Arbeidsverhoudinge (WAV) definieer ‘n staking as die gedeeltelike of volkome gesamentlike weiering om te werk, of die vertraging of belemmering van werk deur werknemers met die oog op die regstelling van ’n grief of die beslegting van ’n geskil rakende enige aangeleentheid van onderlinge belang tussen werkgewer en werknemer.

WANNEER IS ‘N STAKING “BESKERMD”?

Elke werknemer het ingevolge Suid-Afrika se Grondwet die reg om te staak. Die WAV stipuleer wel sekere bepalings vir ‘n staking om as ‘n beskermde staking gesien te word. Indien hierdie bepalings nie nagekom word nie, sal die staking as ‘n onbeskermde staking gesien word.

 

Werknemers moet in alle gevalle, met die hantering van ‘n grief of kwessie in die werksplek, van die interne grieweprosedure gebruik maak. Wanneer die uitkoms van die grief nie bevredigend is nie, kan die werknemer die saak na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (“KVBA”) verwys. ’n Kommissaris sal dan probeer om die geskil deur middel van konsiliasie op te los. Indien die dispuut nie opgelos kan word nie, of na die verloop van 30 dae sedert die verwysing van die dispuut na die KVBA, sal die kommissaris ‘n sertifikaat uitreik wat verklaar dat die saak onopgelos is en dat die werknemers die reg het om met ‘n beskermde staking te begin. Werknemers moet egter in alle gevalle die werkgewer in kennis stel van hul voorneme om te staak deur die werkgewer ten minste 48 uur kennis van die voorgenome staking te gee.

VERGOEDING TYDENS ‘N BESKERMDE STAKING?

‘n Werkgewer hoef nie ‘n werknemer te vergoed vir dienste wat ‘n werknemer nie tydens ‘n beskermde staking lewer nie. Die geen-werk-geen-betaal-beginsel sal geld.

SLUIT AAN BY DIE LWO

WANNEER IS ‘N STAKING “ONBESKERMD”?

’n Onbeskermde staking is ‘n stakingsaksie wat nie aan die vereistes ingevolge die WAV voldoen nie. ‘n Werkgewer moet sekere prosedurele stappe volg wanneer ‘n staking plaasvind om te verseker dat enige dissiplinêre stappe wat teen werknemers geneem word vir ‘n onbeskermde staking as prosedureel billik geag word.

WAT IS ‘N UITSLUITING?

‘n Uitsluiting is ‘n reaksie van ‘n werkgewer sodra die werkgewer die skriftelike kennisgewing van die stakingsprosedure ontvang het. Die definisie hiervan is die uitsluiting deur ‘n werkgewer van werknemers vanaf die werkgewer se perseel met die doel om die werknemers te beweeg om ‘n eis te aanvaar ten opsigte van enige saak van wedersydse belang. Die werkgewer sal 48 uur skriftelike kennis van ‘n uitsluiting aan die vakbond en nie-vakbondwerknemers gee.

INDUSTRIËLE AKSIE

Industriële aksie is wanneer werknemers die werkgewer onder druk plaas om tot hul eise in te stem. Industriële aksie kan sommige van die volgende vorme aanneem:

 

  1. Wegbly – wanneer werknemers gesamentlik besluit om nie vir diens aan te meld nie;
  2. Gaan-stadig – wanneer werknemers gesamentlik stadiger werk;
  3. Sit-in – wanneer werknemers gesamentlik besluit om aan te meld vir diens, maar weier om hul pligte uit te voer.

STAKINGS EN WANGEDRAG

Ingevolge Skedule 8 Goeie Praktykkode: Ontslag, word ‘n staking wat nie aan die WAV voldoen nie, as wangedrag beskou en kan ‘n werkgewer dissiplinêre stappe neem. Die tipe dissiplinêre stappe wat geneem word, sal afhang van die feite van elke saak sowel as die werkgewer se dissiplinêre kode. Voordat dissiplinêre stappe geneem word, moet die werkgewer met die vakbond skakel en ultimatums stel in ooreenstemming met voorgeskrewe prosedures ingevolge arbeidswetgewing.

    VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

    VIND NOU UIT.

    Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.