Waarskuwings

Om dissipline te handhaaf in die werksplek is noodsaaklik vir produktiwiteit, sowel as ‘n positiewe werksomgewing. Net soos ‘n werknemer sekere regte het, het die werkgewer die reg om dissiplinêre stappe te neem en dissipline af te dwing.

Die uitreik van waarskuwings in die werksplek moet in lyn wees met die werkgewer se dissiplinêre kode. Waarskuwings kan wissel van ‘n mondelingse tot ‘n skriftelike, ernstige skriftelike en ‘n finale skriftelike waarskuwing en moet billik wees, asook in lyn met die erns van die oortreding. Dit is belangrik om elke saak op sy eie meriete te beoordeel, maar neem kennis dat konsekwentheid belangrik is om diskriminasie in die werksplek te vermy.

Wanneer om ‘n waarskuwing uit te reik – progressiewe dissipline

Progressiewe dissipline is algemeen bekend in die arbeidsomgewing en een van die belangrikste punte wat oorweeg moet word deur die KVBA, Bedingingsrade en Arbeidshof met onbillike ontslag dispute. Dit het ten doel om gedrag aan te pas en te verbeter deur regstelling, konsultasies en waarskuwings, eerder as om ‘n werknemer te straf of te ontslaan. Ontslag moet altyd die laaste opsie wees.

Tipes wangedrag
Dit is baie belangrik dat elke werksplek ‘n relevante dissiplinêre kode het wat op datum is. Die dissiplinêre kode is noodsaaklik om te verseker dat daar duidelike reëls in die werksplek is, met toepaslike sanksies, wat werknemers kan volg. Wanneer hierdie reëls oortree word, kan die werkgewer progressiewe dissipline toepas en in gevalle van ernstige wangedrag direk voortgaan met ‘n dissiplinêre verhoor Die werkgewer moet deeglik rekord hou van oortredings en sanksies soos toegepas.

Daar is verskillende soorte wangedrag in die werksplek wat wissel van minder ernstige oortredings tot baie ernstige oortredings, wat beïnvloed word deur die werknemer se tipe werk en verantwoordelikheid, die (moontlike) gevolge van die oortreding, asook die impak van die oortreding op die werknemer-werkgewer vertrouensverhouding.

In gevalle van minder ernstige oortredings, kan die werkgewer ‘n informele proses volg deur middel van goeie advies of leiding, regstelling en konsultasie. Indien die werknemer dan nie sy/haar optrede in lyn bring met die werkgewer se vasgestelde standaard in die werksplek nie, kan die werkgewer voortgaan met ‘n ernstiger sanksie deur waarskuwings uit te reik. Waar die oortredings van ‘n ernstiger aard is kan ‘n formele proses gevolg word in terme van skriftelike waarskuwings en/of ontslag na afloop van ‘n dissiplinêre verhoor.

Normale verloop van progressiewe dissipline

Progressiewe dissipline bestaan uit die volgende stappe en waarskuwings:

  • • Mondelingse waarskuwing – geldig vir drie maande
  • • Skriftelike waarskuwing – geldig vir ses maande
  • Ernstige skriftelike waarskuwing – geldig vir nege maande
  • Finale skriftelike waarskuwing – geldig vir twaalf maande
  • Ontslag (na afloop van ‘n dissiplinêre verhoor)

Arbeidswetgewing omskryf nie die termyn wat waarskuwings geldig is nie, maar in praktyk stel ons bogenoemde voor.

SLUIT AAN DIE LWO

Die werkgewer moet die erns van die oortreding oorweeg en progressiewe dissipline toepas volgens die aard van die wangedrag, byvoorbeeld in die geval van:

  • Afwesig sonder toestemming vir 1 dag = skriftelike waarskuwing
  • Afwesig sonder toestemming vir 2 dae aaneen = ernstige skriftelike waarskuwing
  • Afwesig sonder toestemming vir 3 dae aaneen = finale skriftelike waarskuwing
  • Minagting = finale skriftelike waarskuwing / dissiplinêre verhoor
  • Versuim om ʼn instruksie uit te voer = finale skriftelike waarskuwing / dissiplinêre verhoor

Wanneer die werknemer herhaaldelik dieselfde reël oortree en die werkgewer progressiewe dissipline toepas, kan die werkgewer ‘n ernstiger waarskuwing uitreik indien die vorige waarskuwing steeds geldig is. ‘n Werkgewer kan onder geen omstandighede ‘n werknemer ontslaan sonder om eers ‘n dissiplinêre verhoor te hou nie. Dit verseker dat billike prosedure gevolg is en daar substantiewe bewyse is om die werknemer te ontslaan.

Uitreik van ‘n waarskuwing

Voordat enige sanksie opgelê word, insluitend ‘n waarskuwing, moet die werkgewer eers met die werknemer konsulteer om op ‘n oorwig van waarskynlikheid te bewys dat die werknemer skuldig is, asook om die erns van die oortreding te bepaal. Die werknemer moet ook die geleentheid gegee word om meer inligting aan te bied en die situasie vanuit sy/haar oogpunt te verduidelik. Ons raai werkgewers aan om ‘n getuie by te hê tydens hierdie konsultasie en om ‘n gedetailleerde rekord te hou van alle dissiplinêre stappe wat in die werksplek geneem word.

Inligting wat op die waarskuwing moet verskyn

  • Die identiteit van beide partye
  • Die aard en datum van die oortreding
  • Die geldigheidstydperk van die waarskuwing
  • Duidelike verklaring van watter optrede van die werknemer vereis word om die situasie reg te stel
  • Duidelike verklaring van die gevolge sou die werknemer versuim om die situasie reg te stel

Weiering om te teken

Selfs al weier die werknemer om die waarskuwing te onderteken, is dit steeds geldig. Maak seker dat die getuie wat teenwoordig is met die konsultasie, die waarskuwing onderteken om te bevestig dat die waarskuwing wel uitgereik is en aan die werknemer verduidelik is.

Ons raai werkgewers altyd aan om bogenoemde in gedagte te hou en proaktief te wees deur te verseker dat daar duidelike reëls in die werksplek is en dat alle werknemers bewus is van hierdie reëls, sowel as beleide en prosedures.

VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

VIND NOU UIT.

Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.