2020 – Aangewese werkgewers & die Wet op Billike Werksgeleenthede

Die Wet op Billike Werksgeleenthede is op alle werkgewers van toepassing, maar ‘n “aangewese werkgewer” (wat aan die minimum vereistes voldoen) het addisionele verpligtinge. Maak seker jy weet wat van JOU verwag word en dat jy daaraan voldoen! Die Wet op Billike Werksgeleenthede het ten doel om onregverdige diskriminasie in die werksplek uit te skakel deur gelyke geleenthede en billike behandeling te bevorder.

Is jy ‘n “aangewese werkgewer”?

‘n “Aangewese werkgewer” is enige werkgewer met 50 of meer werknemers OF ‘n totale jaarlikse omset van:

  • R6 miloen – Landbou
  • R22.5 miloen – Mynbou en Steengroewe
  • R30 miljoen – Vervaardiging
  • R30 miljoen – Elektrisiteit, Gas en Water
  • R15 miljoen – Konstruksie
  • R45 miljoen – Kleinhandel, Motorhandel en Hersteldienste
  • R75 miljoen – Groothandel, Kommersiële agente en Geallieerde handel
  • R15 miljoen – Spyseniering, Akkommodasie en ander Handel
  • R30 miljoen – Vervoer, Stoor en Kommunikasie
  • R30 miljoen – Finansies en Besigheidsdienste
  • R15 miljoen – Gemeenskaps-, Spesiale en Persoonlike dienste
Nog nie ‘n LWO-lid nie?
Kyk gerus na ons lidmaatskappakkette.

Wat gebeur as ek versuim om hieraan te voldoen?

ndien ‘n “aangewese werkgewer” versuim om aan hierdie verpligtinge te voldoen, is die boete vir ‘n eerste oortreding :

  • R1.5 miljoen of 10% van die werkgewer se jaarlikse omset (wat ook al die grootste is); en/of
  • 10 jaar tronkstraf

Wat word verwag van ‘n “aangewese werkgewer”?

‘n “Aangewese werkgewer” het addisionele verpligtinge en moet sorg dra dat die volgende in plek is:
  1. Stel ‘n Senior Billike Werksgeleenthede Bestuurder aan om die Billike Werksgeleenthede Plan te ontwikkel, te moniteer en te implementeer (sien stap 7 hieronder). Hierdie aanstelling moet ‘n permanente werknemer wees en direk aan die HUB van die besigheid rapporteer.

  2. Versamel inligting – elke werknemer moet die EEA1 vorm voltooi wat die werknemer se ras, geslag, nasionaliteit en enige gestremdhede bevestig waar van toepassing.

  3. Skep billike werksgeleenthede bewustheid met betrekking tot alle werknemers – alle werknemers moet bewus gemaak word en ingelig word met betrekking tot die doelwitte, inhoud en toepassing van die Wet op Billike Werksgeleenthede, die regulasies en Goeie Praktykskode.

  4. Vestig ‘n Billike Werksgeleenthede komitee om gereelde konsultasies te hou met betrekking tot die nakoming van die Wet op Billike Werksgeleenthede. Hierdie komitee moet verteenwoordigend wees van beide aangewese en nie-aangewese werknemers en alle beroepsvlakke. Vakbonde in die werksplek moet ook betrek word word en deel vorm van konsultasies.

  5. Hou gereelde (ten minste kwartaallikse) konsultasies om die uitvoer van ‘n ontleding, ontwikkeling van ‘n plan en indiening van die verslae aan die Departement van Arbeid te bespreek. Hierdie konsultasies moet gestruktureerd wees en gerekordeer word deur agendas, teenwoordigheidsregisters en notules van vergaderings gehou.

  6. Stel ‘n analise saam (EEA12) wat die volgende moet insluit:
    • Beleide en prosedures om die onderverteenwoordiging van aangewese groepe en ‘n gebrek aan diversiteit in die werksplek aan te spreek
    • Werkswyses en faktore om billike werksgeleenthede te bevorder
    • Onderverteenwoordiging van aangewese groepe en beroepsvlakke

  7. Stel ‘n Billike Werksgeleenthede Plan saam (EEA13) wat die volgende inligting bevat:
    • Doelwitte vir elke jaar van die plan (die plan is geldig vir tussen een tot vyf jaar)
    • Regstellende aksiemaatreëls
    • Numeriese doelwitte om billike verteenwoordiging te bereik
    • ’n Tydrooster vir elke jaar
    • Interne monitering en evaluasie prosedure, insluitend interne dispuutoplossingsmeganismes
    • Geïdentifiseerde persone om die plan te implementeer en te moniteer

  8. Indien van Billike Werksgeleenthede Verslae (EEA2 en EEA4) om te rapporteer rondom vordering met die implementering van die plan. Die verslagdoenperiode is ‘n twaalf maande periode (ons beveel aan dat die werkgewer se finansiële tydperk gebruik word) Verslae kan elektronies op die Departement van Arbeid se webtuiste ingedien word voor 15 Januarie 2021..

Die LWO het samewerkingsooreenkomste in plek met ‘n paneel van diensverskaffers wat spesialiseer in die Wet op Billike Werksgeleentede en spesiale tariewe aan LWO lede bied. Ons moedig lede aan om hulle spoedig te kontak vir spesialis bystand.

Neem kennis van die COVID-19 pandemie se impak op staatsdepartemente wat druk plaas op spertye. Kontak asseblief die diensverskaffers direk – hiermee die kontakbesonderde:

  • MOULDER SKILLS DEVELOPMENT BK – James Moulder: 073 096 0078 | jamesm@msdev.co.za (lees meer oor die samewerkingsooreenkoms tussen die LWO en Moulder Skills Development hier)
  • EUNIMA SOLUTIONS (PTY) LTD – Adv. Ernst Richter: 082 336 6074 | labourlawsa@gmail.com

VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

VIND NOU UIT.

Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.