COIDA – regulasies en wysigings

COIDA – Tariewe vir aanslag

edurende November 2020 het die Minister van Indiensneming en Arbeid nuwe regulasies goedgekeur rakende die tariewe vir aanslag onder die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (Compensation for Occupational Injuries and Diseases Act (COIDA). Hierdie tariewe, in kombinasie met ‘n besigheid se verklaarde betaalrol, word gebruik om die besigheid se rekening te bereken wat jaarliks betaalbaar is aan die Vergoedingsfonds. Hierdie tariewe hou verband met ‘n industriële bateklas (besigheidsindustrie) en hoe hoër die risiko om beseer te word, hoe hoër die tarief. Daar is huidiglik 13 verskillende bateklasse.

Sodra ‘n besigheid sy jaarlikse betaalrol aan die Vergoedingsfonds verklaar, word ‘n rekening uitgereik wat binne 30 dae betaalbaar is. Die verklaring van jaarlikse opbrengste vir 2021 moet tussen 1 April 2021 en 31 Mei 2021 gedoen word en gedurende hierdie tydperk moet ondernemings verklaar wat hul betaalrol was van 1 Maart 2020 tot 28 Februarie 2021, asook skat wat dit sal wees vir die periode van 1 Maart 2021 tot 28 Februarie 2022.

Neem kennis: besighede moet die betaalrol slegs tot en met R484 200.00 verklaar tot 28 Februarie 2021 en tot en met R506 472 tot 28 Februarie 2022. Die versuim om die betaalrol te verklaar, asook die betaling binne 30 dae te maak, sal lei tot ‘n boete van 20% gebaseer op die aanslag. Dit kan ‘n reuse impak hê op die kontantvloei van enige besigheid. Gedurende 2018/2019 is bykans R1 miljoen in boetes bereken deur die Vergoedingsfonds.

Besighede wat nie in staat is om hul volle rekening te betaal nie, kan binne 30 dae nadat die rekening uitgereik is, aansoek doen vir ‘n betalingsreëling met die Vergoedingsfonds.

BESKERM JOU REGTE AS WERKGEWER
LAAT LWO JOU HELP!

COIDA – Besering aan diens

COIDA vereis dat werksongelukke binne sewe dae gerapporteer word by die Vergoedingsfonds. Versuim om dit te doen, sal lei tot swaar boetes.
Die werkgewer word vereis om ‘n werkgewersverslag oor die ongeluk (“Employer’s Report of Accident”) te voltooi en in te dien op die Compeasy-stelsel tesame met ‘n gewaarmerkte afskrif van die beseerde werknemer se ID en betaalstrokie. Die beseerde werknemer moet dan ‘n afskrif van die verslag (“Report of Accident”) na die behandelende dokter neem.
Werkgewers moet die beseerde werknemer sy/haar normale salaris betaal indien die werknemer vir ten minste vier dae afgeboek is, maar kan dit weer van die Fonds terugeis sodra die werknemer terugkeer werk toe. Nie die werkgewer of die beseerde werknemer moet vir mediese koste betaal nie, aangesien die Fonds ook as mediese fonds funksioneer en die behandelende dokter die eis direk by die Fonds moet indien.

Voordele betaalbaar in terme van COIDA sluit in:

  • Betaling van salarisse aan beseerde werknemers (terugbetaling van betaalde salarisse aan werkgewers)
  • Permanente gestremdheid
  • Mediese uitgawes, insluitend chroniese medikasie
  • Sterftevoordele: begrafnisvoordele en pensioen aan weduwee/wewenaar/kinders
  • Geen vergoeding is betaalbaar vir pyn en lyding nie

COIDA – Wysigings onder hersiening

Verskeie wysigings word tans deur die Vergoedingsfonds hersien rakende boetes vir nie-nakoming. Sommige van hierdie wysigings is soos volg:
  • Versuim deur die werkgewer om binne sewe dae ‘n ongeluk aan te meld, sal lei tot ‘n boete van 10% op die verklaarde jaarlikse betaalrol.
  • Versuim deur die werkgewer om die werkgewersverslag van die ongeluk volledig te voltooi, sal lei tot ‘n boete gelykstaande aan die volle vergoedingsbedrag plus rente.
  • Versuim deur die werkgewer om ‘n beseerde werknemer sy/haar salaris te betaal terwyl die werknemer vir meer as vier dae van diens af is, sal lei tot ‘n boete van dubbel die volle bedrag van drie maande se vergoeding plus rente.
  • Versuim deur die werkgewer om ‘n beseerde werknemer na die naaste dokter te vervoer, sal lei tot ‘n boete gelyk aan die volle vervoerkoste.
  • Versuim deur die werkgewer om rekord te hou van ‘n werknemer se verdienste, sal lei tot ‘n boete van 10% van die werklike of beraamde jaarlikse verdienste.
Hierdie boetes kan ernstige gevolge vir die werkgewer hê indien die regte prosedure nie gevolg word nie. Werkgewers moet hulle hiervan vergewis en hul werknemers inlig oor wat hulle moet doen as ‘n ongeluk by die werk plaasvind.

COIDA – Wat van huiswerkers?

Op 10 Februarie 2021 het die Kommissaris vir Vergoedingsfondse die insluiting van huishulpe onder COIDA onderteken vir inwerkingtreding (laai die Staatskoerant 44250 af), wat verseker dat huiswerkers deur die Wet gedek word en vir voordele kwalifiseer. Die Grondwethof het op 19 November 2020 verklaar dat artikel 1 (xix)(v) van die Wet ongeldig is met onmiddellike en terugwerkende effek tot 27 April 1994.
Privaat huishoudings wat huiswerker(s) in diens neem, moet as ‘n huishoudelike werkgewer registreer. Huishoudelike werkgewers val onder sy eie subklas met ‘n tarief van 1.04 wat betaalbaar is. Die volgende dokumente moet ingedien word sodat die werkgewer kan registreer:
  • Aansoekvorm vir die huishoudelike werkgewer om te registreer
  • Afskrif van die werkgewer se ID/paspoort/werkspermit
  • Bewys van die werkgewer se woonadres
  • Afskrif van die werknemer se ID/paspoort/werkspermit
  • Afskrif van die dienskontrak
  • Huishoudelike werkgewers moet ook ‘n rekord indien van die jaarlikse lone wat aan die huiswerker(s) betaal is (opbrengs van inkomste).
    Eise vir beserings of siektes kan aanlyn geregistreer word of by die naaste Arbeidsentrum ingedien word. Die verdienste moet op die voorgeskrewe vorm voltooi word om die voordele te bereken en te betaal. Wanneer ‘n huiswerker by meer as een werkgewer in diens is en ‘n ongeluk/besering vind plaas, moet die verdienste wat deur al die werkgewers ontvang word, aan die Vergoedingsfonds voorgelê word.

    COIDA en die LWO

    As ‘n geregistreerde werkgewersorganisasie by die Departement van Indiensneming en Arbeid, spesialiseer die LWO in arbeidsreg en kan werkgewers daarom slegs in hierdie spesifieke veld bystaan en van hulp wees. Ons ondersoek egter altyd geleenthede om hande te vat met diensverskaffers op ander spesialis-gebiede ten einde oplossings vir ons lede op die tafel te plaas. Kontak Stephan Pietersen van Work Accident Support vir COIDA bystand: 064 360 2638 | support@workaccident.co.za.

    VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

    VIND NOU UIT.

    Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.