Summiere ontslag?

Kan die werkgewer ‘n werknemer summier ontslaan? Suid-Afrika se arbeidsomgewing is hoogs gereguleerd. Elke werksplek is uniek en moet werkgewers daarop let om arbeidsverhoudinge in lyn met wetgewing te bestuur. Daar is egter verskeie mites rondom arbeidsreg in die praktyk wat veroorsaak dat werkgewers in goeie trou glo hulle tree korrek op terwyl hulle inderwaarheid hul besigheid op risiko plaas.
BESKERM JOU REGTE AS WERKGEWER
LAAT LWO JOU HELP!

Die mite van summiere ontslag

Een van hierdie mites is dat ‘n werknemer summier ontslaan kan word met die pleeg van ‘n ernstige oortreding. Die realiteit is dat ‘n werkgewer onder geen omstandighede (selfs al maak die dienskontrak voorsiening hiervoor) ‘n werknemer kan ontslaan (selfs met ‘n geldige rede) sonder om eers ‘n dissiplinêre verhoor te hou nie. ‘n Dissiplinêre verhoor verseker dat ‘n billike prosedure gevolg word en dat daar geldige rede is om die ontslag te regverdig.

Die oorgrote meerderheid van sake wat na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys word, is na aanleiding van “onbillike ontslag”, waarvan die meerderheid van hierdie sake verwant is aan wangedrag wat gelei het tot ontslag.

Oor die algemeen word arbitrasiebevele wat in die werknemer se guns toegestaan word, direk gekoppel aan die werkgewer wat nie die korrekte prosedure gevolg het nie. Dis belangrik dat werkgewers die beginsel van summiere ontslag reg verstaan en toepas.

Die toepas van dissipline in die werksplek

Elke werksplek moet ‘n relevante dissiplinêre kode hê, wat verseker dat daar duidelike reëls in die werksplek is, met toepaslike sanksies, wat werknemers kan volg. Wanneer hierdie reëls oortree word, kan die werkgewer progressiewe dissipline toepas, of in gevalle van ernstige wangedrag direk voortgaan met ‘n dissiplinêre verhoor. Die werkgewer moet deeglik rekord hou van oortredings en sanksies soos toegepas.
Die werkgewer moet die erns van die oortreding oorweeg en progressiewe dissipline daarvolgens toepas. Die erns van ‘n oortreding word beïnvloed deur die werknemer se tipe werk en verantwoordelikheid, die (moontlike) gevolge van die oortreding, asook die impak van die oortreding op die werknemer-werkgewer vertrouensverhouding.
Voorbeelde van eenmalige oortredings wat summiere ontslag kan regverdig, sluit in growwe oneerlikheid (diefstal, bedrog, valse verklaring), opsetlike beskadiging van eiendom, aanranding of poging tot aanranding, growwe nalatigheid, uiterse gevalle van minagting en om opsetlik mense se lewens in gevaar te stel.
Dissipline in die werksplek het ten doel om gedrag aan te pas en te verbeter deur regstelling, konsultasies en waarskuwings, eerder as om ‘n werknemer te straf of te ontslaan. Ontslag moet altyd die laaste opsie wees. Ontslag moet altyd die laaste opsie wees.

Volg die korrekte prosedure

Arbeidswetgewing vereis twee aspekte alvorens ontslag as billik geag kan word: substantiewe billikheid (‘n geldige rede vir die ontslag) en prosedurele billikheid (die korrekte prosedure moet gevolg word, wat ‘n dissiplinêre verhoor insluit).
Sodra die werknemer egter na afloop van die verhoor skuldig bevind word, mag hy summier ontslaan word. Dit beteken dat die werknemer vanaf hierdie oomblik nie meer in jou diens is nie en die perseel moet verlaat. ‘n Kennisperiode is nie van toepassing nie.

Dis belangrik om te weet dat voor ’n ontslag vir wangedrag kan plaasvind, die volgende in ag geneem moet word:

  • Is daar ’n werksplek reël oortree en hou die reël verband met die werksplek?
  • Is hierdie ’n geldige reël?
  • Was die werknemer bewus van die reël of kan daar redelik verwag word dat die werknemer bewus was van die reël?
  • Word hierdie reël konsekwent toegepas?
  • Was ontslag die toepaslike sanksie vir die oortreding? Werkgewers moet proaktief optree en verseker dat dienskontrakte, die dissiplinêre kode, prosedures en beleide in plek is en hierdie dokumentasie aan toepaslike wetgewing voldoen.

VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

VIND NOU UIT.

Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.