Coid wet voorheen bekend as workmens compensation

Artikel verskaf deur Stephan Pietersen, Work Accident Support.

Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (COID-wet), 1993

Ingevolge die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes, No 130 van 1993 (COID-wet), voorheen bekend as “Workmen’s Compensation”, moet alle besighede wat een of meer werknemers in diens het binne sewe dae nadat die eerste werknemer aangestel is, Department of Employment and Labour’s Compensation Fund Dit is om werknemers teen werkongelukke en beroepsiektes te dek. Dit is van toepassing op tydelike, deeltydse, voltydse en seisoenale werknemers. Kwytgestelde werkgewers sal nie aanslaggelde aan die Vergoedingsfonds hoef te betaal nie, maar sal hul eie werknemers wat werkongelukke opgedoen het, of ‘n beroepsiekte gely het, moet vergoed.

Kwytgestelde werkgewers is:

  • nasionale en provinsiale regeringsdepartemente
  • sekere plaaslike owerhede
  • werkgewers wat verseker word deur ‘n ander maatskappy as die Vergoedingsfonds

13 verskillende klasse en subklasse

Besighede wat ingevolge die COID-wet geregistreer is, val in 13 verskillende klasse en word verder in subklasse verdeel. Elke subklas het sy eie tarief wat periodiek aangepas word. Dit is die tarief wat besighede betaal vir elke R100 wat hulle in lone/salarisse aan hul werknemers uitbetaal. Die subklasse en tariewe is in 2020 hersien en word jaarliks tot 2025 ingefaseer.
Besighede in die boubedryf is gelisensieer aan die Federated Employers Mutual Assurance (FEMA) en dié in die volgende klasse is gelisensieer aan Rand Mutual Assurance Company (RMA):
  • Mynboubedryf
  • Yster
  • Staal
  • Kunsledemate
  • Galvanisering
  • Motorhawens
  • Metale
BESKERM JOU REGTE AS WERKGEWER
LAAT LWO JOU HELP!

Verklaar jaarlikse verdienste

Besighede moet hul verdienste by die Vergoedingsfonds, of die onderskeie lisensiehouer, verklaar sodat hul aanslag bereken kan word. Sodra dit bereken is, sal fooie binne 30 dae betaalbaar wees. Versuim om die verdienste voor die sperdatum te verklaar sal daartoe lei dat ‘n boete van 10% op die huidige jaar se aanslagfooi uitgereik word en ‘n bykomende boete van 10% op die volle aanslagfooi indien die rekening laat betaal word.
Besighede moet daarvan bewus wees dat hulle vir ‘n betalingsreëling kan aansoek doen. Let ook daarop dat indien ‘n fout gemaak is met die verklaring van die verdienste, ‘n besigheid 60 dae het om ‘n hersiening van die rekening te versoek. Wanneer ‘n besigheid bedrywighede gestaak het, moet dit by die Vergoedingsfonds aansoek doen om gederegistreer te word en kan dit slegs per hand gedoen word.

Wysigingswet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes, 2022

Op 17 April 2023 is die Wysigingswet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes, 2022 as wet onderteken. Alhoewel dit as wetgewing onderteken is, is die implementeringsdatum nog nie verskaf nie. Besighede sal groot finansiële verliese ly indien hulle die sperdatum vir die verklaring van die opbrengs van verdienste of die laat betaling van die aanslag misloop. Terwyl besighede tans met 10% van die aanslag gepenaliseer word, bepaal die wysigingswet dat besighede met 10% van die verklaarde jaarlikse verdienste gepenaliseer sal word, wat veel groter finansiële gevolge sal inhou.

Besighede wat by die Vergoedingsfonds geregistreer is, het in 2020 R9,5 miljard aan aanslaggeld betaal, maar daar is tienduisende besighede wat by die Fonds geregistreer is, maar wat nie hul verdienste verklaar nie. Die meer as 25 000 besighede wat by Rand Mutual Assurance geregistreer is, het R2,5 miljard se aanslaggelde betaal en R870 000 miljoen is ontvang deur besighede wat by Federated Mutual Association geregistreer is.

Brief van goeie stand

‘n Besigheid is in goeie stand wanneer dit:

  • By die Vergoedingsfonds geregistreer is – artikel 80
  • Die jaarlikse verdienste verklaar – artikel 82
  • Die aanslagfooi ten volle betaal / paaiemente betaal – artikel 86
  • Ongelukke betyds rapporteer
BESKERM JOU REGTE AS WERKGEWER
LAAT LWO JOU HELP!

Werkongelukke

Alle ongelukke en beweerde ongelukke moet aangemeld word binne sewe dae nadat ‘n werkgewer kennis van so ‘n ongeluk ontvang het, en in die geval van ‘n beroepsiekte is die tydsraamwerk 14 dae. Die werknemer moet onmiddellik mediese behandeling soek wanneer ‘n persoonlike besering opgedoen is en dit is die verantwoordelikheid van die werkgewer om vervoer vir die werknemer na die naaste dokter te verskaf. Versuim om die ongeluk binne sewe dae aan te meld, kan daartoe lei dat ‘n boete van 10% van die verklaarde verdienste en ‘n boete van die volle koste van die vervoer van die beseerde werknemer uitgereik word. Ingevolge die COID-wet moet ‘n besigheid 75% van die werknemer se salaris vir ‘n tydperk van tot drie maande betaal terwyl hy van diens af geboek is en dit by die Vergoedingsfonds terugeis.

Die volgende dokumente moet ingedien word om ‘n besering aan te meld:

  • ‘n Werkgewer se verslag van ‘n ongeluk (WCI.2)
  • Die behandelende dokter se eerste mediese verslag (WCI.4)
  • Die beseerde werknemer se betaalstrokie soos ten tyde van die ongeluk
  • ‘n Geldige gesertifiseerde afskrif van die werknemer se ID of ander bewys van identifikasie
Dit is belangrik vir besighede om te verseker dat al hierdie dokumente ingedien moet word aangesien dit die beregting van die eis kan vertraag, wat kan verhoed dat dokters betaal word vir dienste gelewer. Waar werkgewers self die mediese uitgawes betaal het en die beseerde werknemer vervoer het om mediese behandeling te ontvang, kan daardie uitgawes ook van die Vergoedingsfonds of die betrokke lisensiehouer teruggeëis word. Die salaris wat deur die werkgewer betaal word, kan ook by die eis ingesluit word.

Voordele betaalbaar ingevolge die COID-wet

Daar is verskeie voordele betaalbaar indien die eis vir die betaling van redelike mediese uitgawes en vergoeding aanvaar word:
  • Tydelike totale ongeskiktheid – verlies aan salarisinkomste terwyl die werknemer van diens af geboek is en mediese behandeling ontvang
  • Permanente ongeskiktheid – die werknemer het gestremdheid opgedoen en is nie in staat om te funksioneer soos voor die ongeluk nie
  • Dood – in die ongelukkige geval waar ‘n werknemer oorlede is, kwalifiseer die gade en minderjarige kinders vir ‘n maandelikse pensioen. Die begrafnisuitgawes is ook betaalbaar.
  • Mediese uitgawes – Die Vergoedingsfonds is ook ‘n mediese fonds en mediese uitgawes en die vervoer van die beseerde werknemer sal volgens die mediese fondstariewe betaal word
  • Konstante bywoningtoelaag – ‘n Bykomende betaling van vergoeding kan goedgekeur word wanneer die beseerde persoon wat ‘n maandelikse pensioen ontvang, konstante hulp nodig het om die noodsaaklike lewensaksies uit te voer.
In 2020/2021 het die Vergoedingsfonds R9,5 miljard se vergoeding uitbetaal wat mediese betalings, vergoeding en pensioenbetalings insluit. Dit was ‘n afname in vergelyking met 2019/2020 waar R12,5 miljard uitbetaal is. Gedurende die 2020/2021 het die Rand Mutual Assurance R1,5 miljard se vergoeding uitbetaal.
‘n Paar jaar gelede het die Vergoedingsfonds ‘n bykomende 500 inspekteurs aangestel om te verseker dat werkgewers voldoen aan die COID-wet. Die wysigingswet plaas ‘n groter klem op werkgewers om daaraan te voldoen aangesien die boetes wat opgelê kan word, groot finansiële implikasies sal inhou.

Work Accident Support saam met die LWO bied ‘n manier vir ons lede om alle onsekerheid rakende die COID-wet te verban. Laat Work Accident Support verseker dat jy aan wetgewing voldoen terwyl jy op jou besigheid fokus.

VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

VIND NOU UIT.

Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.