Plaaswerkers se reg tot gesinsverantwoordelikheidsverlof

Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing voorsien werknemers van ‘n menigte verskillende regte op verlof, insluitend jaarlikse verlof, siekverlof, gesinsverantwoordelikheidsverlof, kraamverlof, ouerlike verlof, aannemingsverlof, opdraggewende ouerlike verlof en studieverlof. Dit blyk egter steeds dat daar baie werknemers is wat gesinsverantwoordelikheidsverlof verwar met ander vorme van verlof, asook wanneer hulle geregtig is daarop om gesinsverantwoordelikheidsverlof te neem.

 

In die landbousektor het werkgewers gereeld navrae oor plaaswerkers wat daarop aandring om gesinsverantwoordelikheidsverlof met ander vorme van verlof te kombineer, bv. gesinsverantwoordelikheidsverlof en/of siekverlof neem om hul kinders se roetinekliniek- of hospitaalondersoeke by te woon.

Wat is die feite #1 & #2:

1. ‘n Plaaswerker is nie geregtig op betaalde gesinsverantwoordelikheidsverlof om ‘n kind vir ‘n roetine-ondersoek na ‘n kliniek te neem nie.

2. ‘n Plaaswerker kan nie sy/haar eie siekverlof gebruik om ‘n kind vir ‘n roetine-ondersoek na ‘n kliniek te neem nie.

Gesinsverantwoordelikheidsverlof

Arbeidswetgewing vervat die reg tot gesinsverantwoordelikheidsverlof wat ‘n werknemer toelaat om sekere spesifieke gesinsverantwoordelikhede na te kom, soos wanneer die werknemer se kind, of aangenome kind, siek is. Siekverlof daarenteen gun die werknemer tyd af van werk om te herstel van ‘n ongeskiktheid wat hom/haar tydelik onbekwaam of medies ongeskik laat om te werk weens siekte of besering.

Wat is die feite #3:

3. ‘n Plaaswerker is nie geregtig daarop om gesinsverantwoordelikheidsverlof te neem met die geboorte van hul kinders nie.

 

Ongeveer vier jaar na die wetswysiging, is hierdie wanopvatting steeds gewild… Voorheen het die wet voorsiening gemaak vir ‘n werknemer wat die eggenoot of lewensmaat was van ‘n persoon wat geboorte skenk, om drie dae se gesinsverantwoordelikheidsverlof te neem. Die wet het egter sedertdien verander om ander vorme van verlof in te sluit. Vanaf 1 Januarie 2020 is plaaswerkers (buiten hul gades/lewensmaats wat met kraam-, aanneming- of opdraggewende ouerlike verlof is) nie meer geregtig op die drie dae gesinsverantwoordelikheidsverlof vir die geboorte van hul kind nie, maar is wel nou geregtig op onbetaalde ouerlike verlof.

 

Tans is die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (soos gewysig), meer algemeen bekend as die WBDV, saamgelees met Sektorale Vasstelling nommer 13 (van toepassing op die landbousektor), die belangrikste wetgewende gesag oor wetgewing rondom gesinsverantwoordelikheidsverlof vir plaaswerkers.

voldoen jy aan arbeidsreg?

LAAT LWO JOU HELP!

Vereistes om vir gesinsverantwoordelikheidsverlof te kwalifiseer

In wese bepaal die wet huidiglik dat plaaswerkers geregtig is op drie dae se betaalde gesinsverantwoordelikheidsverlof per jaarlikse siklus, mits hulle vir ‘n tydperk van langer as vier maande in diens is en ten minste vier dae per week vir die werkgewer werk.

 

Gesinsverantwoordelikheidsverlof kan in die geheel of in dae geneem word, soos dit nodig is. Wanneer ‘n plaaswerker gesinsverantwoordelikheidsverlof versoek, kan die werkgewer redelike bewyse, soos ‘n mediese of doodsertifikaat, aanvra.

 

Werkgewers word slegs vereis om plaaswerkers betaalde gesinsverantwoordelikheidsverlof toe te staan indien hulle oor voldoende gesinsverantwoordelikheidsverlof beskik, en slegs in die volgende gevalle:

 

  • Wanneer die plaaswerker se kind siek is; of
  • Indien enigeen van die plaaswerker se ondergenoemde familielede tot sterwe sou kom:
    • die plaaswerker se gade/lewensmaat,
    • die plaaswerker se kind/aangenome kind,
    • die plaaswerker se ouer/aagenome ouer,
    • die plaaswerker se broer/suster,
    • die plaaswerker se grootouer,
    • die plaaswerker se kleinkind.

Die skep van ‘n presedent

Die werkgewer het wel die diskresie om meer tyd af toe te staan, of om ‘n plaaswerker toe te laat om ander vorme verlof te neem soos jaarlikse of spesiale verlof, wat betaald of onbetaald kan wees, indien die plaaswerker se reg tot gesinsverantwoordelikheidsverlof uitgeput is. Indien die werkgewer egter in hierdie gevalle addisionele betaalde verlof toestaan, kan dit as ‘n bykomende voordeel vir die plaaswerker beskou word. Dit kan ook ‘n presedent in die werksplek skep en daarom moet die werkgewer sorg dat hy konsekwent optree in die toestaan van soortgelyke voordele teenoor alle werknemers.

    Nog nie ‘n LWO lid nie?
    KYK NA ONS LIDMAATSKAPPAKKETTE.

    Deur hierdie wanopvattings uit die weg te ruim, kan ons ‘n beter begrip van plaaswerkers se regte in Suid-Afrika bevorder, ten einde te verseker dat beide werkgewers en werknemers in die landboubedryf billike behandeling en ondersteuning ontvang om hul werk- en gesinsverantwoordelikhede te balanseer.

    Kontak die LWO vir enige advies of bystand!

    Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.

    VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

    VIND NOU UIT.

    Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.