Vervoer van werknemers

Die beskikbaarheid van veilige openbare vervoer vir werknemers wat buite normale werksure werk, is ‘n kritieke aspek om werksplekveiligheid en voldoening aan regulatoriese raamwerke te verseker. Dit is maar een van die vele beginsels wat ons wegneem wanneer ons kyk na die Arbeidsappèlhof uitspraak van TFD Network Africa (Pty) Ltd v Singh NO en Andere [2017] 4 BLLR 377 (LAC). In hierdie uitspraak werp die Arbeidsappèlhof lig op die verpligtinge van werkgewers met betrekking tot vervoer vir werknemers wat oortyd of nagskof moet werk.

Wet op Basiese Diensvoorwaardes

Ingevolge die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (WBDV), en spesifiek Artikel 17(2)(b), kan werkgewers slegs toelaat en/of vereis dat werknemers nagwerk verrig indien vervoer beskikbaar is tussen die werksplek en ‘n werknemer se woonplek. Nagwerk ingevolge die WBDV is werk wat voortduur na 18:00 en eindig voor 06:00 die volgende dag. Hierdie bepaling is nie beperk tot gereelde nagskofwerkers nie, maar sluit enige werknemer in wat vereis word om bo en behalwe hierdie ure te werk, insluitend oortyd.

 

Die WBDV maak ook voorsiening vir die Goeie Praktykkode met betrekking tot die Reëling van Werkstyd, wat verder bepaal dat werkgewers wat werknemers tydens nagwerk aanwend, onder andere moet verseker dat werknemers veilige, bekostigbare vervoer tussen hul woonplekke en werksplek kan bekom.

Die Arbeidsappèlhof uitspraak

Die Arbeidsappèlhof uitspraak van TFD Network Africa (Pty) Ltd v Singh NO en Andere het die belangrikheid daarvan beklemtoon dat ‘n werkgewer moet verseker dat vervoer beskikbaar is, en dat die werkgewer die veiligheid van werknemers moet oorweeg, veral in potensieel gevaarlike situasies soos om laat in die aand te moet pendel. Die Arbeidsappèlhof het beslis dat ‘n werkgewer nie onredelik van ‘n werknemer kan verwag om hul eie pad huis toe te vind nadat hy laat gewerk het nie, selfs al behels dit oortyd buite normale werksure. Die Hof het verder ook aangedui dat ‘n werknemer geregtig is daarop om die afwesigheid van hierdie maatreëls te opper as ‘n verweer teen ‘n aanklag van versuim om nagwerk te verrig, of die verontagsaming van ‘n opdrag om nagwerk te verrig, indien hierdie maatreëls nie in plek is nie.

VEREIS JY NAGWERK OF LAAT JY DIT TOE?

LAAT LWO JOU HELP!

In praktiese terme…

In praktiese terme behels nakoming verskeie sleutelstappe vir werkgewers:

 

  • Eerstens vereis dit dat bestaande beleide deeglik hersien word om te verseker dat dit ooreenstem met wetlike vereistes in die WBDV/relevante Bedingingsraad se kollektiewe ooreenkoms, met betrekking tot die voorsiening van vervoer.
  • Tweedens is dit noodsaaklik om gereelde risiko-evaluerings te doen ten einde die veiligheid van vervoeropsies wat aan werknemers beskikbaar is, te evalueer, veral in gebiede wat geneig is tot sekuriteitsrisiko’s of wat nie oor voldoende openbare vervoerinfrastruktuur beskik nie.
  • Derdens help dit om met werknemers te konsulteer ten einde hul pendeluitdagings en -voorkeure te verstaan, wat belangrike inligting is om vervoerreëlings te kan tref wat beide veiligheid en gerief prioritiseer.
  • Laastens is dit van kardinale belang om vervoerreëlings duidelik te dokumenteer en dit effektief aan werknemers te kommunikeer om deursigtigheid en begrip van hul regte, asook dit waarop hulle kan aapsraak maak, te verseker.

Gevolgtrekking

Hierdie Arbeidsappèlhof uitspraak skep duidelikheid rakende verskeie belangrike punte:

 

  • Die verpligting om te verseker dat vervoer beskikbaar is, is universeel en hang nie daarvan af of ‘n werknemer voortdurend nagskof werk nie; dit geld wanneer werk voortduur na 18:00, ongeag skofpatrone of oortydooreenkomste.
  • Werkgewers moet die veiligheid van die vervoer wat beskikbaar is, of wat hulle verskaf, deeglik beoordeel om te verseker dat dit werknemers voldoende beskerm wanneer hulle pendel. Dit sluit in die inagneming van die geografiese ligging, veiligheid van roetes en die spesifieke omstandighede van elke werknemer.
Nog nie ‘n LWO lid nie?
KYK NA ONS LIDMAATSKAPPAKKETTE.

Deur aan hierdie verpligtinge te voldoen, handhaaf werkgewers nie net wetlike nakoming nie, maar word die gesondheid, veiligheid en welstand van hul arbeidsmag geprioritiseer, wat ‘n ondersteunende werksplekomgewing bevorder wat aan wetgewing voldoen.

 

Hierdie artikel het ten doel om ‘n kort en algemene oorsig te wees van sommige van die kompleksiteite van moderne werkreëlings wat werkgewers in ag moet neem wanneer skofte en nagwerk geskeduleer word. Vir advies, kontak asseblief die LWO by 0861 101 828.

 

Kontak die LWO vir enige advies of bystand!

Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.

VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

VIND NOU UIT.

Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.