Waarskuwing aan werkgewers: gesamentlike inspeksies

Die nuwe Minister van Binnelandse Sake, dr. Leon Schreiber, het in Julie 2024 planne aangekondig om samewerking tussen sleutelbelanghebbendes te verbeter en dringende kwessies binne die immigrasiesektor aan te pak. Dit sluit die samewerking tussen die Departemente van Binnelandse Sake, Indiensneming en Arbeid, SA Polisiediens (SAPD) en plaaslike regering in. Minister Schreiber het verder aangekondig dat hierdie departemente gesamentlike operasies sal uitvoer om wetgewing af te dwing.
Gesamentlike multi-departementele blitsinspeksie-operasie
Na afloop van klagtes ingedien by die Departement van Indiensneming en Arbeid (DvIA) en sosiale media-uitroepe, is ‘n gesamentlike multi-departementele blitsinspeksie-operasie middel September 2024 uitgevoer deur die Departemente van Binnelandse Sake, DvIA, Bedingingsraad amptenare, en die “HAWKS” (Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek) by twee gasvryheidsinstansies in Menlyn, Stad Tshwane. Verskeie gevalle van beweerde nie-nakoming van arbeids- en immigrasiewetgewing deur die onderskeie werkgewers is ontbloot en daar is berig dat verskeie arrestasies gemaak is. Die DvIA het in verskeie media-inligtingsessies gesê dat hulle gevind het dat die werkgewers nie voldoen het daaraan om die toepaslike lone te betaal nie. Ongedokumenteerde buitelandse werknemers is ook tydens dié inspeksies gevind.
Hierdie multi-departementele blitsinspeksies deur die DvIA in samewerking met Bedingingsraad amptenare, die Departement van Binnelandse Sake en SAPD is toe uitgerol na die gasvryheidsektor by restaurante regoor Suid-Afrika.
Beoordeling van nakoming
Inspekteurs doen ‘n beoordeling van nakoming om te verseker dat werkgewers aan wetgewing voldoen, insluitend die:
- Wet op Basiese Diensvoorwaardes (Wet 75 van 1997 soos gewysig)
- Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid (Wet 85 van 1993 soos gewysig)
- Werkloosheidsversekeringswet (Wet 63 van 2001 soos gewysig)
- Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (Wet 130 van 1993 soos gewysig)
- Wet op Indiensnemingsdienste (Wet 4 van 2014 soos gewysig)
- Nasionale Minimumloonwet (Wet 9 van 2018 soos gewysig)
Hierdie streng benadering tot nakoming weerspieël die Nasionale Regering van Eenheid se verbintenis daartoe om die hardnekkige kwessie van die indiensneming van onwettige buitelandse burgers aan te spreek. Dit is van kardinale belang vir besighede om immigrasieregulasies na te kom om wetlike reperkussies te vermy en by te dra tot ‘n regverdige en veilige arbeidsmark in Suid-Afrika. Werkgewers wat immigrasiewetgewing oortree kan aansienlike gevolge in die gesig staar, insluitend boetes, gevangenisstraf, of ‘n kombinasie daarvan.
Werkgewers – sleutelaspekte vir die pad vorentoe:
- Toename in inspeksies: gebaseer op mediaverklarings, beoog die Departement van Binnelandse Sake om inspeksies by restaurante, spaza-winkels, plase en myne met meer as 50% te verhoog om onwettige indiensnemingspraktyke aan te spreek.
- Samewerking en gesamentlike operasies tussen die DvIA, SAPD, Bedingingsrade en plaaslike regeringsagentskappe sal waarskynlik voortgaan.
- Onwettige buitelandse werknemers geniet dieselfde beskerming onder Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing as werknemers wat Suid-Afrikaanse burgers is. As sulks mag hulle ook nie aan onbillike behandeling in die werksplek onderwerp word, of summier ontslaan word sonder dat behoorlike en regverdige prosedures gevolg word nie.
- Onwettige buitelandse werknemers het ook die regstoevlug om geskille te verwys na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), Bedingingsrade en in sommige gevalle die Arbeidshof.
- Werkgewers word verbied om enige onwettige buitelandse burgers in diens te neem ingevolge die Immigrasiewet (Wet 13 van 2002 soos gewysig), met strawwe wat tot ‘n boete en/of tronkstraf kan lei.
- Die wette en ooreenkomste wat diensvoorwaardes en toepaslike minimum lone reguleer, is nie identies vir alle tipes bedrywe en industrieë nie en kan heel moontlik verskil na gelang van die werkgewer se bedryf en geografiese ligging, asook die werknemer se posisie by die werkgewer.
- Nakoming van wetgewing is fundamenteel, en nie-nakoming het ernstige gevolge.
Werkgewers word sterk aangeraai om te verseker dat hulle aan alle relevante wetgewing voldoen om moontlike boetes of ontwrigtings te vermy. Lede word aangemoedig om die LWO Werkgewersorganisasie te kontak om bystand te bied met inspeksies. Ons is hier om jou by te staan ten einde nakoming te verseker en enige uitdagings wat verband hou met inspeksies suksesvol te navigeer.
Telefoon: 0861 101 828 | E-pos: info@lwo.co.za | Webwerf: www.lwo.co.za
Kontak die LWO– vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.