Nalatigheid en growwe nalatigheid in die werksplek

Die nalatige optrede of aksies van werknemers kan vir die werkgewer skade veroorsaak, insluitend finansiële skade. In sulke gevalle kan die werkgewer dissiplinêre optrede oorweeg en moet die saak dan ondersoek word om te bepaal of die werknemer se optrede as nalatigheid geag kan word. Indien wel, moet die werkgewer verder bepaal of die werknemer se optrede growwe nalatigheid daarstel, ten einde te verseker dat die korrekte dissiplinêre proses gevolg en geïmplementeer word.

Hoekom? Wat is die verskil?

Dit is noodsaaklik om die toepaslike prosedures te bepaal wat gevolg moet word in terme van werksplekbeleide en dissiplinêre kodes. Indien ‘n werknemer aan nalatigheid skuldig bevind word, sal die tipe nalatigheid (d.w.s. nalatigheid vs. growwe nalatigheid) oor die algemeen verskillende sanksies tot gevolg hê. Afhangende van die dissiplinêre kode in die werksplek, kan growwe nalatigheid tot ‘n sanksie van ontslag lei na afloop van ‘n dissiplinêre verhoor, in teenstelling met ‘gewone’ nalatigheid wat slegs daartoe kan lei dat ‘n waarskuwing aan die werknemer uitgereik word.

Nalatigheid

In sy boek getiteld Workplace Law (11de uitgawe), stel John Grogan die volgende met inagneming van ‘n werknemer se nalatigheid:

 

“In arbeidsreg het nalatigheid dieselfde betekenis as wat dit op ander regsgebiede het: die strafbare versuim om die mate van sorg wat van ‘n redelike persoon verwag word, te beoefen. In die werksplekkonteks sou die ‘redelike persoon’ ‘n verantwoordelike werknemer wees met ervaring, vaardigheid en kwalifikasies wat vergelykbaar is met die beskuldigde werknemer. Nalatigheid kan manifesteer in dade of weglatings. Die toets is of ‘n redelike persoon in die posisie van die beskuldigde werknemer die moontlikheid van skade sou voorsien het en stappe geneem het om teen daardie skade te waak.”

Growwe nalatigheid

Growwe nalatigheid kan beskryf word as ‘n handeling of weglating wat so onverskillig of roekeloos is dat dit ‘n algehele miskenning van veiligheid of welsyn toon. Dit vind plaas wanneer ‘n werknemer se gedrag in so ‘n mate van die redelike persoon se standaard afwyk, dat dit behoorlik as ekstreem gekategoriseer kan word. Ons howe het bevind dat dit, in gevalle waar daar bewustelike risikoneming is ‘n totale gebrek aan bewustheid of kommer moet demonstreer, en in die afwesigheid van bewustelike risikoneming, ‘n absolute versuim om sorg te dra deur die werknemer moet demonstreer.

 

Growwe nalatigheid is ‘n verhoogde vlak van risiko bo en behalwe tipiese nalate. Dit beklemtoon ‘n voorsienbare moontlikheid van ernstige skade indien toepaslike sorg nie geneem word nie, en/of ‘n bewustelike en vrywillige verontagsaming om redelike sorg te neem, wat waarskynlik tot ernstige besering of skade sal lei.

HET JY ‘N SAAK VAN NALATIGHEID

LAAT LWO JOU HELP!

‘n Objektiewe toets

Uit hierdie beskrywings sien ons dat ‘n objektiewe toets gebruik word om nalatigheid te bepaal. Vir growwe nalatigheid moet daar beoordeel word of die werknemer ‘n hoë mate van roekelose minagting vir sy/haar handelinge of weglating getoon het, en ‘n versuim om die standaard van sorg wat redelikerwys van ‘n werknemer verwag word met hul vlak van kennis, vaardigheid en ervaring, te beoefen.

 

Dit is belangrik om te onthou dat die onus by die werkgewer rus om te bewys dat die werknemer aan nalatigheid en/of growwe nalatigheid skuldig is. Wanneer die werknemer ontslaan word op gronde wat verband hou met growwe nalatigheid, moet die werkgewer kan bewys dat ontslag substantief en prosedureel billik was inaggenome van die meriete van die saak.

Gevolgtrekking

Om tussen nalatigheid en growwe nalatigheid te onderskei is van kardinale belang om die toepaslike dissiplinêre optrede in die werksplek te bepaal. Growwe nalatigheid behels ‘n hoër mate van roekelose minagting van ander se veiligheid of welstand, wat ‘n afwyking toon van die standaard van sorg wat van ‘n redelike werknemer verwag word. Werkgewers moet deeglike ondersoeke doen om te bepaal of ‘n werknemer se gedrag aan die hoër gestelde standaard voldoen, aangesien growwe nalatigheid dikwels strenger sanksies regverdig, insluitende ontslag. Die werkgewer dra die las om beide die gebeurtenis van growwe nalatigheid, asook die billikheid van enige ontslag wat mag volg te bewys, om te verseker dat dissiplinêre maatreëls in ooreenstemming is met beide substantiewe en prosedurele billikheid.

    Nog nie ‘n LWO lid nie?
    KYK NA ONS LIDMAATSKAPPAKKETTE.

    Die inhoud in hierdie artikel is slegs vir inligtingsdoeleindes en moet nie as regsadvies beskou word nie. Kontak asseblief die LWO vir advies en/of bystand.

    Kontak die LWO vir enige advies of bystand!

    Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.

    VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

    VIND NOU UIT.

    Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.