Die oordrag van ‘n kontrak ingevolge Artikel 197

Die Wet op Arbeidsverhoudinge, Wet 66 van 1995 (WAV) stel streng voorwaardes waaraan voldoen moet word wanneer ‘n Artikel 197-oordrag van besigheid hanteer word. Dit is uiters belangrik dat beide werkgewers met mekaar oor die oordrag konsulteer, sowel as met die werknemers.
Artikel 197 van die WAV
Artikel 197 van die WAV se verstekposisie en effek is dat werknemers outomaties van een werkgewer na ‘n ander oorgeplaas word wanneer ‘n besigheid oorgedra word. Wanneer ‘n besigheid as ‘n lopende saak oorgedra word, word werknemers van die ou werkgewer (oordraggewer) outomaties na die nuwe werkgewer (oordragnemer) oorgeplaas op dieselfde diensvoorwaardes en -bepalings. Dit beteken dat die werknemer se kontrak met die ou werkgewer ongeskonde bly en die diensvoorwaardes (insluitend lone, voordele en dienstydperk) onder die nuwe werkgewer behoue bly. Hierdie bepaling verseker kontinuïteit en stabiliteit vir werknemers, wat beskerm word teen skielike veranderinge in hul diensvoorwaardes as gevolg van die oordrag.
Aan die einde van die dag moet die nuwe werkgewer verseker dat die werknemers in diens geneem word op bepalings en voorwaardes wat as geheel nie minder gunstig is as dié waaronder die werknemers by die vorige werkgewer in diens was nie.
Beswaar teen die oordrag
Soms is werknemers ontevrede om na ‘n nuwe werkgewer oorgeplaas te word en wil hulle beswaar maak teen die oordrag van die vorige na die nuwe werkgewer. Terwyl werknemers nie ‘n statutêre reg het om beswaar teen ‘n outomatiese oordrag aan te teken nie, kan sommige werkgewers werknemers toelaat om dit te doen, wat hulle in staat stel om in diens van die vorige werkgewer te bly. Dit sal egter normaalweg tot nadeel van die betrokke werknemer wees aangesien die vorige werkgewer se operasionele vereistes heel moontlik die werknemer se daaropvolgende ontslag kan regverdig.
IS JY BETROKKE BY ‘N OORDRAG VAN BESIGHEID?
Gevallestudie
So ‘n beswaar is bespreek in die Durbanse Arbeidshofsaak van Krishna v University of KwaZulu-Natal (2012) 33 ILJ 1688 (LC). Die Hof het bevind dat ‘n werknemer wat na die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens oorgeplaas is vanaf ‘n laboratoriumdiens wat deur haar universiteit namens die nasionale departement bedryf word, nie ontslaan is (soos sy beweer) weens die universiteit se operasionele vereistes nie.
Die werknemer was ‘n administratiewe assistent by die universiteit se mikrobiologie-afdeling by die universiteit se mediese skool. Die mediese skool het destyds laboratoriums vir die Departement van Gesondheid (DvG) bedryf wat ook deur ‘n toekenning van die DvG befonds is. Toe die nasionale departement die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens gestig het, moes daardie eenheid toe na die departement oorgeplaas word. Die besluit was dat al die laboratoriumpersoneel oorgeplaas moes word na die nuutgestigte Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens wat ingevolge ‘n Parlementswet tot stand gebring is.
In hierdie geval het die werkgewer aan die werknemer ‘n keuse gegee om die outomatiese oorplasing na die nuwe werkgewer te aanvaar en toe te stem daartoe, of om beswaar te maak en ‘n moontlike ontslag in die gesig te staar weens operasionele vereistes. Nadat die werknemer ingestem het en oorgeplaas is, het sy aksie ingestel en beweer dat sy onbillik ontslaan is en dat sy gedwing is om die oordrag te aanvaar.
Nadat die keuse wat aan die werknemer gegee is, behoorlik ondersoek is, het die Hof bevind dat dit glad nie ‘n dreigement was nie, en is sy ook nie gedwing om die oordrag te aanvaar nie. Dit was bloot ‘n kennisgewing van die moontlike gevolge sou sy weier. Volgens die Hof het die werkgewer dus behoorlik opgetree toe hy die werknemer ingelig het van ‘n moontlike ontslag weens operasionele vereistes sou sy beswaar maak teen die oordrag.
Voorwaardes van ‘n Artikel 197-oordrag
Werkgewers moet bewus wees van die voorwaardes van ‘n Artikel 197-oordrag, want indien hierdie voorwaardes nie nagekom word nie, kan dit ernstige finansiële implikasies vir die werkgewer/besigheid inhou. Wanneer ‘n ontslag spruit uit die oordrag van ‘n besigheid, hetsy in sy geheel of gedeeltelik, kan dit lei tot ‘n outomatiese onbillike ontslageis ingevolge Artikel 187(1)(g) van die WAV. Dit kan die werknemer op tot 24 maande se vergoeding geregtig maak.
Gevolgtrekking
Werkgewers word aangemoedig om hul arbeidsregverteenwoordigers te kontak om te verseker dat die korrekte prosedure gevolg word indien hulle betrokke is by ‘n oordrag, of ‘n gedeeltelike oordrag van besigheid as ‘n lopende saak.
Kontak die LWO– vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.