Kollektiewe bedinging en rol van bedingingsrade

Ten einde die grondwetlike regte van vakbonde en werkgewersorganisasies te handhaaf om by kollektiewe bedinging betrokke te raak, is wetgewing verorden om die raamwerk waarbinne hierdie proses plaasvind, daar te stel.
Die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 (WAV)
Die WAV lê die grondslag vir kollektiewe bedinging deur die raamwerk vir bedingingsrade daar te stel. Kragtens Artikel 27 van die Wet mag geregistreerde vakbonde en geregistreerde werkgewersorganisasies ‘n bedingingsraad vir ‘n spesifieke sektor en gebied vorm. Boonop laat die Wet toe dat die staat ‘n party tot ‘n bedingingsraad kan wees.
Die primêre doelwit van vakbonde en werkgewersorganisasies met die vorm van ‘n bedingingsraad is om nywerheidsverhoudinge aangeleenthede tussen werkgewers en werknemers binne hul onderskeie sektore en gebiede te reguleer.
Doel van bedingingsrade
Regspraak het bevestig dat die primêre funksies van bedingingsrade is om kollektiewe ooreenkomste oor diensbepalings en -voorwaardes of sake van gemeenskaplike belang te sluit en af te dwing, asook om arbeidsgeskille binne die werksplek te voorkom en op te los.
IS DAAR ‘N BEDINGINGSRAAD IN JOU BEDRYF?
Kollektiewe ooreenkomste
Die onderhandel en sluit van kollektiewe ooreenkomste is die uitkoms van kollektiewe bedinging tussen werkgewersorganisasies en vakbonde. Kollektiewe ooreenkomste kan gedefinieer word as ooreenkomste tussen vakbonde en werkgewersorganisasies wat diensvoorwaardes en sake van wedersydse belang reguleer.
’n Kollektiewe ooreenkoms wat in ’n bedingingsraad gesluit is, bind die partye tot die bedingingsraad wat ook partye tot die kollektiewe ooreenkoms is. ’n Bedingingsraad kan skriftelik versoek dat die Minister van Indiensneming en Arbeid die kollektiewe ooreenkoms uitbrei na nie-partye binne sy geregistreerde bestek, soos geïdentifiseer in die versoek en onderworpe aan sekere vereistes uiteengesit in die Wet. Sodra die Minister die ooreenkoms na nie-partye uitbrei, sal enige werkgewer wat nie oorspronklik ‘n party tot die ooreenkoms was nie, verplig wees om aan die bepalings daarvan te voldoen en by die betrokke bedingingsraad te registreer.
Kollektiewe ooreenkomste word vir ‘n spesifieke tydperk gesluit, en word die geldigheidstydperk duidelik in die ooreenkoms uiteengesit. Sodra hierdie tydperk verstryk het, sal die ooreenkoms nie meer bindend op die partye wees nie, tensy dit vir ‘n bykomende tydperk verleng is of ‘n nuwe kollektiewe ooreenkoms gesluit is.
Geskilbeslegting
Nog ‘n sleutelfunksie en -bevoegdheid van ‘n bedingingsraad is om geskilbeslegtingsfunksies uit te voer, wat tipies deur die kollektiewe ooreenkoms en binne hul jurisdiksie voor voorsiening gemaak word, soortgelyk aan die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA). Algemene tipes geskille wat deur ‘n bedingingsraad voorgesit word, sluit in onbillike arbeidspraktyk- en onbillike ontslaggeskille.
Monitering van nakoming
Bedingingsrade monitor ook die nakoming van arbeidswetgewing in die algemeen, asook spesifiek met die bepalings van enige kollektiewe ooreenkomste wat binne hul onderskeie bedryf en gebied van krag is.
Kragtens die WAV kan die Minister van Indiensneming en Arbeid, op versoek van ‘n bedingingsraad, aangewese agente aanstel om nakoming van enige kollektiewe ooreenkoms te bevorder, moniteer en af te dwing. Hierdie aangewese agente word bemagtig om nakoming te verseker deur die inhoud van ooreenkomste bekend te maak, inspeksies uit te voer, klagtes te ondersoek en ander funksies te verrig soos deur die bedingingsraad toegewys.
Bedingingsrade speel ‘n deurslaggewende rol in die daarstel van bepalings en voorwaardes van diens, of om sake van wedersydse belang binne ‘n spesifieke bedryf aan te spreek. Hulle werk ook om arbeidsgeskille binne die werksplek te voorkom en op te los.
Kontak die LWO– vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.