Arbitrasietoekennings en wat jy moet weet

‘n Arbitrasietoekenning is ‘n wetlik bindende besluit wat uitgereik en oorhandig word deur ‘n kommissaris in óf die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), óf ‘n Bedingingsraad. Hierdie toekennings spesifiseer gewoonlik die uitslag van die dispuut en word uitgereik nadat die partye hul arbitrasieverrigtinge by die KVBA of Bedingingsraad afgehandel het. Vir die kommissaris om die aangeleentheid af te handel, moet die partye hul sake stel en al hul getuienis tersaaklik tot die aangeleentheid tydens die arbitrasieverrigtinge lewer. Dit is uiters belangrik om te verstaan dat hierdie toekennings bindend is vir alle partye tot die verrigtinge en wettiglik uitgevoer kan word in die geval van nie-nakoming.
Wanneer die arbitrasietoekenning uitgereik word
Sodra die proses afgehandel is, sal die arbitrasietoekenning binne ‘n paar weke uitgereik word en, indien die werknemer suksesvol was, sal die toekenning regstellende stappe teen die werkgewer bevat, soos om die werknemer vergoeding te betaal, of om die werknemer weer aan te stel of in diens te neem.
Nadat die toekenning uitgereik is en die werkgewer nie aan die toekenning voldoen het nie, kan die werknemer kies om die toekenning teen die werkgewer af te dwing om nakoming daarvan te verseker.
Die afdwing van ‘n arbitrasietoekenning
Artikel 143 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, Wet 66 van 1995 soos gewysig (WAV), bied ‘n effektiewe en toeganklike manier om ‘n arbitrasietoekenning af te dwing indien die toekenning nie nagekom is nie. Die WAV laat toe dat ‘n gesertifiseerde toekenning afgedwing word asof dit ‘n bevel van die Arbeidshof is ten opsigte waarvan ‘n lasbrief uitgereik is, tensy dit ‘n adviserende arbitrasietoekenning is.
Arbitrasietoekennings kan na die direkteur van die KVBA verwys word vir sertifisering en dit word gedoen op aansoek van die party wat die toekenning wil afdwing. Die proses om die arbitrasietoekenning te sertifiseer verander die toekenning in ‘n uitvoerbare regsdokument, wat afdwinging deur die hofstelsel moontlik maak. Sonder sertifisering kan die toekenning dus nie as ‘n bevel van die hof afgedwing word nie.
WIE ONDERSTEUN JOU MET REGSADVIES EN VERTEENWOORDIGING?
Nie-nakoming
Werkgewers moet daarop let dat nie-nakoming van arbitrasietoekennings baie riskant kan wees. Sodra dit gesertifiseer is, kan die arbitrasietoekenning afgedwing word op dieselfde wyse as ‘n bevel van die Arbeidshof, of Landdroshof. In wese kan afdwingingsmetodes ‘n lasbrief vir die beslaglegging van eiendom, beslagleggingsbevele of minagting van hofverrigtinge insluit.
In gevalle waar ‘n skriftelike onderneming, of ‘n nakomingsbevel, nie deur enige van die partye teen wie die bevel uitgereik is nagekom is nie, kan ‘n aansoek of versoek aan die KVBA gerig word om die onderneming of nakomingsbevel ‘n arbitrasietoekenning te maak in terme van artikels 68(3) of 73(1) van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, Wet 75 van 1997 soos gewysig (WBDV).
Ingevolge artikel 143(5) van die WAV moet ‘n arbitrasietoekenning wat bevel gee aan die betaling van ‘n som geld, afgedwing of uitgevoer word asof dit ‘n bevel van die landdroshof is. Waar ‘n arbitrasietoekenning bevel gee aan die uitvoering van ‘n handeling anders as die betaling van geld (bv. herinstelling), kan enige party tot die toekenning dit sonder verdere bevel afdwing by wyse van minagtingverrigtinge wat by die Arbeidshof ingestel is.
Dit is van kardinale belang vir werkgewers om te verseker dat hulle by die arbitrasie self teenwoordig is en hul saak na die beste van hul vermoë stel. Indien ‘n toekenning teen die werkgewer uitgereik word, is dit uiters belangrik dat die werkgewer advies inwin van ‘n arbeidsadviseur oor die toekenning, sodat hulle kan kyk na opsies om die toekenning te betwis, of alternatiewelik om te verseker hulle voldoen aan die toekenning binne die bepaalde tydperk om enige verdere reperkussies vir nie-nakoming te vermy.
Kontak die LWO– vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.