Personeelvermindering – nie ‘n eendagproses nie

Personeelvermindering is die geenfout beëindiging van ‘n werknemer se dienste en word gereguleer deur Artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, Wet 66 van 1995 soos gewysig (WAV). Dit word nodig wanneer operasionele vereistes dit noodsaak om die arbeidsmag te verminder. Operasionele vereistes word gedefinieer as vereistes gebaseer op ekonomiese, tegnologiese, strukturele of soortgelyke behoeftes van die werkgewer.
Die personeelverminderingsproses
Die personeelverminderingsproses word duidelik uiteengesit in Artikel 189 en 189A van die WAV en moet gevolg word om te verseker dat sodanige proses beide substantief en prosedureel billik is.
Dit is belangrik vir werkgewers om kennis te neem dat die personeelverminderingsproses ingestel moet word sodra dit oorweeg word. Die proses van personeelvermindering kan ‘n aansienlike hoeveelheid tyd neem aangesien dit afhang van verskeie faktore soos die aantal werknemers wat betrokke is en die omvang van die beoogde afleggings. Werkgewers word dus gewaarsku om dit nie tot die laaste minuut te laat om met die proses te begin nie.
Alle redelike alternatiewe
Werkgewers word aangemoedig om vroegtydig met die proses te begin om vas te stel of daar enige aksies is wat geneem kan word om te verhoed dat enige werknemers afgelê word. Die personeelverminderingsproses behels dat alle redelike alternatiewe uitgeput moet word om enige afleggings te probeer voorkom, en die howe het verklaar dat die aflê van enige werknemer die laaste uitweg moet wees.
Voorbeelde van redelike alternatiewe kan die volgende insluit: korttyd, vermindering in salarisse, oorplasing van werknemers na ander departemente, vermindering van oortyd, “bumping” en vrywillige skeidings om net ‘n paar te noem. Dit is belangrik vir werkgewers om die alternatiewe met werknemers te bespreek om hul toestemming daartoe te verkry voordat dit geïmplementeer kan word.
WIE GEE VIR JOU REGSADVIES OOR DIE DIENSVERHOUDING?
Volg die prosedure
Die onderstaande prosedure moet gevolg word wanneer die werkgewer die moontlikheid van personeelvermindering oorweeg (vir die doel van hierdie artikel sal ons slegs na Artikel 189 kyk en nie Artikel 189A-grootskaalse personeelvermindering nie).
1. Reik ‘n kennisgewing uit van moontlike personeelverminderings-konsultasie ingevolge Artikel 189 van die WAV
Hierdie kennisgewing moet die datum, plek en tyd van die vergadering asook ander spesifieke besonderhede bevat, wat insluit:
- Rede vir moontlike afleggings
- Alternatiewe wat deur die werkgewer oorweeg is
- Aantal werknemers en poskategorieë wat heel waarskynlik geraak sal word
- Voorgestelde metode om werknemers te selekteer om af te lê
- Wanneer die personeelvermindering heel waarskynlik in werking sal tree
- Voorgestelde skeidingsvergoeding
- Bystand wat deur die werkgewer aangebied kan word
- Moontlikheid van toekomstige indiensneming
- Aantal werknemers in diens
- Aantal werknemers wat in die afgelope 12 maande ontslaan is weens operasionele vereistes
Hierdie kennisgewing moet aan die volgende persone uitgereik word:
- Alle werknemers wat heel waarskynlik deur die personeelvermindering geraak sal word
- Enige persoon met wie die werkgewer ingevolge ‘n kollektiewe ooreenkoms moet konsulteer, en indien geen, moet die kennisgewing aan die werksplekforum uitgereik word
- Die vakbondverteenwoordiger indien die werknemers deur ‘n vakbond verteenwoordig word
2. Behoorlike konsultasie
Behoorlike konsultasie moet gehou word met werknemers wat heel waarskynlik deur die personeelvermindering geraak sal word, of met hul vakbondverteenwoordiger. Tydens die konsultasie moet alle aspekte soos vervat in die kennisgewing volledig bespreek word. Die werknemers, of verteenwoordiger, moet die geleentheid gegun word om hul terugvoer oor alle aspekte te gee, asook alternatiewe wat oorweeg kan word om afleggings te voorkom. Dit kan meebring dat verdere konsultasies geskeduleer moet word om voort te gaan met die bespreking van moontlike alternatiewe of enige ander aspek wat uitgeklaar moet word.
Die personeelverminderingsproses is ‘n konsensussoekende proses waartydens die partye moet probeer om ‘n ooreenkoms te bereik oor hoe die afleggings (en die gevolge daarvan) so ver moontlik vermy en versag kan word.
Indien daar geen redelike alternatiewe is wat geïmplementeer kan word nie, en afleggings nie vermy kan word nie, moet kennisgewing van personeelvermindering aan die geaffekteerde werknemers uitgereik word.
Kontak die LWO– vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.