Permanente en tydelike mediese ongeskiktheid

Ongeskiktheid verwys na wanneer ‘n werknemer onbevoeg is en inherent nie in staat is om aan vasgestelde prestasiestandaarde te voldoen nie, hetsy weens swak gesondheid of swak werkprestasie. Wanneer die werknemer weens swak gesondheid nie volgens die werkgewer se vereiste standaard kan presteer nie, moet die werkgewer die aard van die werknemer se werk, tydperk van afwesigheid, erns van die werknemer se siekte of besering, die moontlikheid om die werknemer se gestremdheid te akkommodeer, en die moontlikheid van alternatiewe indiensneming binne die besigheid, in ag neem.
Werknemers wat nie op die vereiste standaard kan presteer nie, het ‘n groot impak op ‘n besigheid se normale bedrywighede, aangesien die meeste werkgewers nie die luukse van spaarkapasiteit met betrekking tot hul arbeidsmag het om vir hierdie tekort te vergoed nie. Werkgewers het die reg om ‘n standaard in die werksplek in terme van kwaliteit en kwantiteit vas te stel en om redelike en wettige opdragte te gee.
Dit is noodsaaklik dat werkgewers altyd die korrekte prosedures volg soos vereis deur arbeidswetgewing:
Die ondersoekproses
Wanneer ‘n werknemer op ‘n gereelde basis afwesig is, moet die werkgewer op lêer rekord hou van die datums en redes vir die afwesigheid. Indien dit deurlopend om dieselfde rede is, kan dit wees dat daar ‘n onderliggende mediese rede is wat ondersoek moet word indien dit die werkgewer se bedryfsvereistes beïnvloed.
Indien die werknemer dit onder die werkgewer se aandag bring dat hy/sy ‘n mediese toestand het, of indien die werkgewer van mening is dat die werknemer ‘n mediese toestand het wat die werknemer se vermoë om sy/haar werk te doen affekteer, moet ‘n konsultasieproses met die werknemer gehou word.
Die konsultasieproses
Raadpleeg die werknemer om vas te stel wat die mediese toestand is en hoe dit die werknemer se werk affekteer. Bespreek die pad vorentoe en bepaal of dit nodig is om die werknemer vir ‘n mediese ondersoek te stuur. Verseker dat alle konsultasies wat met die werknemer gehou word, op rekord is en in die teenwoordigheid van ‘n getuie gehou word.
Die mediese ondersoek
Die werkgewer moet die werknemer versoek om ‘n mediese verslag te bekom. Dit word sterk aanbeveel dat die werkgewer die mediese praktisyn wat die ondersoek gaan doen, voorsien van die werknemer se vereiste pligte op ‘n dag-tot-dag basis. Die mediese verslag moet die volgende uitlig:
- die oorsaak van die ongeskiktheid;
- of die mediese toestand gaan verbeter of vererger; en
- wat die verwagte tydperk is vir die mediese toestand om te verbeter.
Indien die werkgewer die mediese verslag aanvra, kan die werkgewer aanspreeklik wees vir die koste daarvan. Dit is belangrik om ‘n datum vas te stel teen wanneer die werknemer die mediese verslag moet verskaf.
Die werknemer is geregtig daarop om ‘n tweede opinie te bekom. Net so, indien die werknemer die mediese verslag op eie rekening bekom het, kan die werkgewer ‘n tweede opinie inwin. Indien ‘n werknemer versoek om voort te gaan met verdere mediese toetse, gee hom/haar die geleentheid om dit te doen.
Die assessering
By ontvangs van die mediese verslag sal die werkgewer in staat wees om die pad vorentoe te bepaal. Die werknemer se gesondheid en werkgewer se operasionele vereistes moet in ag geneem word. Indien die werknemer herstel, is dit nie nodig om voort te gaan met ‘n ongeskiktheidsverhoor nie. Die werkgewer kan egter voortgaan om die individu te monitor.
Die ongeskiktheidsverhoor
By die ongeskiktheidsverhoor sal dit nodig wees om vas te stel of die ongeskiktheid tydelik of permanent is. Bespreek die volgende vrae deeglik tydens die verhoor:
- Is die omstandighede permanent of wat is die verwagte duur van die ongeskiktheid?
- Is dit duidelik hoe lank die werknemer afwesig sal wees of nie in staat sal wees om sy/haar pligte uit te voer nie?
- Is daar ‘n tydperk van ligte diens wat deur die mediese praktisyn voorgeskryf word?
- Het die werkgewer ligte dienspligte vir die werknemer beskikbaar?
- Kan die werkgewer van ‘n tydelike werker gebruik maak totdat die werknemer kan voortgaan werk te verrig?
Indien die ongeskiktheid tydelik is, moet die werkgewer bepaal of dit moontlik is om die werknemer te akkommodeer en of die werkgewer die werksomgewing redelikerwys kan aanpas om die werknemer te akkommodeer. Ontslag moet slegs as ‘n laaste uitweg gevolg word sodra alle opsies ondersoek is. Indien die ongeskiktheid permanent is, soos deur ‘n mediese praktisyn bevestig is, mag die werkgewer geen ander keuse hê as om met ‘n ontslag voort te gaan nie.
Indien ‘n werknemer weens ongeskiktheid ontslaan word nadat ‘n billike proses gevolg is, moet die werkgewer die volgende uitbetaal: enige opgehoopte verlof, salaris tot die laaste werksdag (moontlik siekverlof indien mediese sertifikate verskaf is) en die kennistydperk soos op ooreengekom in die dienskontrak.
Dit is belangrik dat werkgewers kwessies in die werkplek so vinnig en doeltreffend moontlik hanteer, terwyl hulle versigtig moet wees om objektief en konsekwent op te tree. Deur proaktief te wees, kan die werkgewer grootliks bydra tot die besigheid se volhoubaarheid en winsgewendheid, asook ‘n werksomgewing skep met verminderde konflik, wrywing en misverstand, wat weer ‘n gestruktureerde omgewing daarstel wat ontvanklik is vir groei.
Kontak die LWO– vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.