Onwettige buitelanders in diens in SA

Sommige werkgewers is verkeerdelik onder die indruk dat ‘n werknemer wat nie in besit is van die relevante en wetlike dokumentasie om in Suid-Afrika werk te verrig nie, nie deur Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing beskerm sal word nie en daar dus geen beroep op onbillike arbeidspraktyk gedoen kan word nie.

Wat sê wetgewing

Ingevolge artikel 38(1) van die Immigrasiewet, Wet 13 van 2002 soos gewysig tesame met die regulasies wat kragtens die wetgewing gepubliseer is, word werkgewers verbied om ‘n persoon wat nie wettig in Suid-Afrika is met die nodige dokumentasie nie, in diens te neem.

 

Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, Wet 75 van 1997 soos gewysig en die Wet op Arbeidsverhoudinge, Wet 66 van 1995 soos gewysig (WAV) bied egter steeds aan hierdie werknemers beskerming teen onbillike arbeidspraktyke. Hierdie wetgewing bevorder die grondwetlike reg tot billike arbeidspraktyke vir alle werknemers en nie net Suid-Afrikaanse burgers nie, soos voorgeskryf deur artikel 23 van die Republiek van Suid-Afrika se Grondwet, 1996.

Wat is die risiko

Werkgewers loop die risiko om deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Departement van Binnelandse Sake se Immigrasiedienste in hegtenis geneem te word indien hulle buitelanders onwettig in diens neem. In so ‘n geval kan die werkgewer tronkstraf kry en/of ‘n boete uitgereik word vir elke onwettige werknemer wat in diens is. Die werknemer kan ook die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) nader vir vergoeding in die geval van onbillike arbeidspraktyk of onbillike ontslag.

 

In die Arbeidshofsaak van Discovery Health Beperk teenoor KVBA en andere (2008) 29 ILJ 1480 (LC) het die hof in wese tot die gevolgtrekking gekom dat almal in Suid-Afrika die grondwetlike reg op billike arbeidspraktyke het, wat by ‘almal’ berus en nie net op partye wat by ‘n dienskontrak ingesluit word nie. In die lig gesien van die WAV se uitdruklike doel om ekonomiese ontwikkeling, maatskaplike geregtigheid, arbeid, vrede en die demokratisering van die werksplek te bevorder, moet howe dus meer waaksaam wees om daardie werknemers te beskerm wat kwesbaar is vir uitbuiting deurdat hulle inherent ekonomies en sosiaal swakker is as hul werkgewers.

HET JY BUITELANDERS IN DIENS?

LAAT LWO JOU HELP!

Nodige dokumentasie

Daar moet verder kennis geneem en beklemtoon word dat die verantwoordelikheid op die werkgewer rus om sy/haar eie omsigtigheidsondersoek te doen alvorens ‘n buitelander in die werksplek aangestel word. As deel van die omsigtigheidsondersoek moet die werkgewer die Departement van Binnelandse Sake en/of Immigrasiedienste kontak om die geldigheid van die werknemer se dokumentasie wat verskaf is, te bevestig.

 

Hou in gedagte dat dokumentasie soos die werkspermit verval. Die werkgewer moet dan onmiddelik optree en die werknemer skriftelik daaraan herinner en daarvan in kennis stel, asook redelike bystand verleen om nuwe dokumentasie te bekom. Gee die werknemer tyd af om ‘n aansoek om dokumentasie by die betrokke staatsdepartement te rig, asook die kontakbesonderhede van ‘n immigrasie besigheid of diensverskaffer wat hiermee behulpsaam kan wees.

Ongeskiktheidsprosedure

Indien die werkgewer alles van sy/haar kant af gedoen het om die werknemer by te staan, kan die werkgewer die ongeskiktheidsprosedure volg aangesien die werknemer onbevoeg is om sy/haar pligte wettiglik in Suid-Afrika uit te voer.

Nog nie ‘n LWO lid nie?
KYK NA ONS LIDMAATSKAPPAKKETTE.

As gevolg van die kompleksiteit en sensitiwiteit van die situasie word dit altyd aangeraai dat die werkgewer kundige arbeidsregshulp en -advies inwin om te verseker dat die korrekte prosesse gevolg word en om die besigheid en werkgewer se risiko te beperk.

Kontak die LWO vir enige advies of bystand!

Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.

VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

VIND NOU UIT.

Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.