2025 nasionale minimumloon verhoog met 4.4%

Die Minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, het op 4 Februarie 2025 die aanpassing in die nasionale minimumloon vir 2025 in die Staatskoerant gepubliseer. Die nuwe nasionale minimumloon wat reeds op 1 Maart 2025 in werking getree het is vasgestel op R28.79 per normale werksuur. Hierdie loon is van toepassing op werknemers wat resorteer onder die bestek van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, Wet 75 van 1997 soos gewysig (WBDV).
Nasionale Minimumloonkommissie
Ingevolge die Nasionale Minimumloonwet, Wet 9 van 2018 soos gewysig (NMLW), beoordeel en hersien die Nasionale Minimumloonkommissie (die Kommissie) jaarliks die nasionale minimumloon. Die Kommissie maak daarna ‘n aanbeveling aan die Minister van Indiensneming en Arbeid om die loon aan te pas.
Die kriteria wat die Kommissie oor die algemeen gebruik om die voorgestelde verhoging te bepaal, is die verbruikersprysindeks (VPI) plus ‘n addisionele persentasiepunt (gewoonlik 1.5%). Sleutelfaktore soos voorgeskryf deur die NMLW word ook in ag geneem en sluit dit die volgende in: inflasie en lewenskoste, loonvlakke en kollektiewe bedingingsuitkomste, die Bruto Binnelandse Produk (BBP) en produktiwiteit. Verdere faktore sluit in werkgewerlewensvatbaarheid en die impak op indiensneming, asook openbare insette.
Die Departement van Indiensneming en Arbeid het op 18 Desember 2024 in ‘n mediaverklaring aangedui dat die Kommissie in sy voorlopige verslag ‘n jaarlikse verhoging in die nasionale minimumloon in die omgewing van VPI + 1.5% vir 2024/2025 ondersoek.
Gegewe inligting wat ten tye van die artikel deur Statistieke Suid-Afrika reeds beskikbaar was kan ons sien dat die VPI met 0.1% verhoog het van 2.9% vir November 2024 tot 3.0% vir Desember 2024, wat die nasionale minimumloonverhoging dus op ongeveer 4.4% bereken het. Die Kommissie het in ooreenstemming hiermee, dié voorstel gemaak aan die Minister.
Dit is wel interessant dat die nuwe loon ook in lyn is met die algehele gemiddelde VPI vir 2024 van 4.4% soos gepubliseer deur Statistieke Suid-Afrika vroeër die jaar.
BETAAL JY TEN MINSTE DIE MINIMUM LOON?
Kwytskelding
As ‘n werkgewersorganisasie weet ons besighede word bedryf in ‘n uitdagende omgewing. Die nasionale minimumloon met gepaardgaande verhogings plaas dikwels bykomende druk op werkgewers aangesien daar nie oor die betaling van die loon onderhandel kan word nie. Dit is wel belangrik dat werkgewers weet dat hul versuim om aan die NMLW te voldoen kan lei tot fel boetes.
Die NMLW bepaal dat indien werkgewers nie die nasionale minimumloon kan bekostig nie, hulle aanlyn kan aansoek doen om kwytskelding (http://nmw.labour.gov.za). Indien kwytskelding toegestaan word, sal die werkgewer steeds minstens 90% van die nasionale minimumloon moet betaal. Kwytskelding is geldig vir ‘n periode van maksimum 12 maande.
As deel van die kwytskeldingsaansoek moet die werkgewer ‘n goeie rede vir die kwytskelding verskaf, asook bewys dat daar sinvol met werknemers en verteenwoordigende vakbond(e) gekonsulteer is waar van toepassing. Die regulasies bepaal verder dat so ‘n aansoek nie toegestaan sal word indien die werkgewer nie aan die bekostigbaarheidselemente ten opsigte van winsgewendheid, likiditeit en solvensie voldoen nie. Die berekeninge vir hierdie toetse word ingesluit as deel van die skedules tot die wet. Kwytskelding sal slegs oorweeg word indien die werkgewer op datum is met alle wetlike betalings, insluitend die Werkloosheidsversekeringsfonds, die Beroepsbeserings- en vergoedingsfonds (Vergoedingskommissaris) en enige ander toepaslike heffings.
Die uitkoms sal die datum van inwerkingtreding van kwytskelding bevestig, asook die tydperk waarvoor dit toegestaan word, die lone wat die werkgewer verplig is om te betaal en enige ander relevante voorwaardes. Indien kwytskelding toegestaan word, moet ‘n afskrif van die kwytskeldingsertifikaat in die werksplek vertoon word, asook aan die betrokke werknemers en verteenwoordigende vakbond(e) waar van toepassing verskaf word. Indien die aansoek onsuksesvol is, sal die werkgewer ‘n kennisgewing ontvang met die redes vir die weiering.
Hierdie artikel is bedoel om geag te word as algemene inligting en is nie bedoel om geag te word as regsadvies nie en werkgewers word aangeraai om ons te kontak om die korrekte minimum loon te bevestig wat op hul spesifieke bedryf van toepassing is, aangesien dit kan verskil van die nasionale minimum loon soos hierbo uiteengesit.
Kontak die LWO– vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.