Ongeskiktheid as grond vir ontslag

In Suid-Afrika hou ongeskiktheid as grond vir ontslag verband met ‘n werknemer se onvermoë om hul pligte en verantwoordelikhede effektief uit te voer, hoofsaaklik weens swak werksprestasie, swak gesondheid of beserings. Die Wet op Arbeidsverhoudinge, Wet 66 van 1995 (WAV) reguleer hierdie ontslag en vereis dat dit substantief en prosedureel billik moet wees.
Kategorieë van ongeskiktheid
Ontslag op grond van ongeskiktheid word hoofsaaklik in twee kategorieë geplaas:
- Swak werksprestasie: Swak werksprestasie verwys na situasies waar ‘n werknemer konsekwent nie aan die vereiste standaarde van hul werk voldoen nie. Hierdie ongeskiktheid spruit nie voort uit wangedrag nie, maar uit ‘n werknemer se gebrek aan vaardighede, kennis of vermoë om hul pligte te verrig.
- Swak gesondheid of besering: Wanneer ‘n werknemer nie hul pligte kan uitvoer nie weens fisiese of psigiese gesondheidsuitdagings, of ‘n besering wat opgedoen is, word hierdie vorm van ongeskiktheid ‘n moontlike grond vir ontslag.
Ander algemene voorbeelde van ongeskiktheid sluit in operasionele ongeskiktheid, wat verwys na wanneer ‘n werknemer nie ‘n inherente vereiste, bepaling of voorwaarde van hul indiensneming, of van wetgewing, kan nakom nie. Byvoorbeeld indien dit absoluut noodsaaklik is dat ‘n werknemer sy ‘n eie betroubare voertuig moet hê om sy werksverpligtinge na te kom, kan dit lei tot ‘n moontlike geval van ongeskiktheid indien die werknemer nie meer ‘n voertuig tot sy beskikking het nie.
IS JY BEKOMMERD OOR ONGESKIKTHEID IN DIE WERKSPLEK?
Billikheid
Die WAV bied die grondslag vir ontslag weens ongeskiktheid en beklemtoon billikheid en regverdige prosedures. Artikel 188 van die WAV bepaal dat ‘n ontslag beide substantief en prosedureel billik moet wees. Verder bied Skedule 8 van die WAV, die Kode van Goeie Praktyk: Ontslag, riglyne oor hoe om hierdie soort ontslag te hanteer.
- Substantiewe billikheid vereis dat daar ‘n geldige rede vir die ontslag moet wees. By ongeskiktheid weens swak werksprestasie moet die werkgewer kan bewys dat die werknemer se prestasie onder die verwagte standaard was, dat die werknemer bewus is van die standaard, redelike opleiding en bystand ontvang het om die standaard te kan bereik, en dat die werknemer se sodanige prestasie die besigheid negatief beïnvloed het. By swak gesondheid of besering moet die werkgewer kan bewys dat die werknemer se mediese en/of psigologiese toestand hulle nie in staat stel om hul kontraktuele verpligtinge na te kom nie.
- Prosedurele billikheid behels dat die werknemer geraadpleeg word, in kennis gestel word van hul tekortkominge of gesondheidsprobleme en die geleentheid gebied word om te verbeter of te herstel. By swak werksprestasie moet die werkgewer opleiding, leiding of bykomende hulpbronne aanbied om die werknemer te help om aan die vereiste standaard te voldoen. In gevalle van swak gesondheid moet die werkgewer alternatiewe rolle of aanpassings ondersoek voordat ontslag oorweeg kan word.
Gevallestudie
In die saak van Parexel International (Edms) Bpk v Chakane en andere [2019] 11 BLLR 1245 (LAC), het die Arbeidsappèlhof ‘n saak beslis van ‘n werknemer wat vir nege maande van die werk afwesig was weens ‘n besering aan diens. Die hof het bevind dat daar nie van die werkgewer verwag kan word om ‘n werknemer se langdurige afwesigheid weens swak gesondheid te duld nie en dat ‘n werkgewer nie verplig is om die werknemer se werk onbepaald oop te hou nie. Maar die hof het terselfdertyd die belangrikheid beklemtoon van deeglike ongeskiktheidsondersoeke om die werknemer se toestand te evalueer en moontlike aanpassings te ondersoek voordat ontslag as ‘n absolute laaste uitweg oorweeg kan word.
Kragtens wetgewing word werkgewers verplig om werknemers met gestremdhede of gesondheidstoestande redelik te akkommodeer, veral waar dit uit die omvang van hul werk ontstaan het. Dit sluit in die aanpassing van werksure, wysiging van pligte, of voorsiening van tegnologie as hulpmiddel. Versuim om sulke maatreëls te oorweeg, kan ontslag weens ongeskiktheid moontlik onbillik maak.
Ongeskiktheid as ‘n grond vir ontslag vereis dat werkgewers ‘n balans handhaaf tussen operasionele behoeftes en die regte van werknemers. Arbeidswetgewing vereis dat ontslag op hierdie grond met billikheid en empatie hanteer word. Werkgewers moet billike prosedures volg, geleenthede vir verbetering bied en redelike akkommodasie oorweeg voordat ‘n werknemer se indiensneming as ‘n absolute laaste uitweg beëindig kan word.
Kontak die LWO– vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.