Die diensverhouding – wanneer dinge verkeerd loop…

By die aanvang van die diensverhouding ken die partye mekaar nog nie, maar is daar reeds ‘n fidusiêre verpligting in plek wat vereis dat die werknemer in goeie trou en in die werkgewer se beste belang optree. Dit is belangrik dat die werkgewer ‘n skriftelike dienskontrak met elke werknemer implementeer op die eerste dag van diens – let wel dat daar aangevoer kan word dat indiensneming tydens die onderhoudsproses begin het, aangesien die werknemer eerlik moet wees oor die kwalifikasies en vermoëns wat die werknemer het.
’n Geskrewe dienskontrak skep duidelikheid deurdat die diensbepalings en -voorwaardes waarop ooreengekom is bevestig word, en beskerm ook die werkgewer in terme van die diensverhouding vorentoe. Maak seker dat ‘n posbeskrywing hierby ingesluit word wat die werknemer se pligte, asook die werkgewer se verwagtinge uiteensit. Die werknemer moet ook bewus wees van die gevolge indien hierdie pligte nie nagekom word nie.
Die diensverhouding is ‘n vertrouensverhouding wat gebaseer is op wedersydse voordele en respek. As ‘n besigheidseienaar moet die werkgewer altyd probeer antisipeer wat verkeerd kan loop in die diensverhouding, om sodoende risiko te beperk en beter geposisioneer te wees vir die pad vorentoe. Swak werkprestasie, konflik, wangedrag en ‘n vertrouensbreuk kan hierdie verhouding in gedrang plaas en werkgewers moet proaktiewe stappe neem om die diensverhouding te reguleer en hul regte te beskerm.
Die volgende kwessies kan ‘n verbrokkeling van vertroue in die diensverhouding veroorsaak:
Konflik
Die werksplek is ‘n baie diverse omgewing in terme van kultuur, godsdiens, oortuigings, waardes, politieke sienings, verwysingsraamwerke, werksetiek, opinies, ens. Almal sal nie altyd met mekaar oor die weg kom nie en wanneer konflik ontstaan, moet die werkgewer intree en help om die konflik op te los voordat dit eskaleer, of meer werknemers begin raak en besigheidsaktiwiteite negatief beïnvloed.
Oplossing: Konsulteer met die partye en help om ‘n geskikte oplossing vir alle partye te vind om verdere steurnisse in die werksplek te vermy.
WIE KONTAK JY WANNEER DINGE VERKEERD LOOP?
Wangedrag
Wangedrag kan beskryf word as ‘n werknemer se versuim om volgens die werkgewer se reëls en beleid op te tree, of versuim om sy/haar pligte na te kom. In basiese terme is wangedrag ‘n gedragskwessie van die werknemer. Sulke gedrag is gewoonlik doelbewus of nalatig, en werknemers kan verantwoordelik gehou word vir hul dade. Wangedrag kan verskeie vorme aanneem, insluitend diefstal, bedrog, oneerlikheid, insubordinasie, afwesigheid vanaf die werk sonder toestemming, ens.
Oplossing: Elke werksplek moet ‘n relevante dissiplinêre kode hê en werknemers moet daarvan bewus wees. Maak seker dat jy ‘n bywoningsregister en notules van die vergadering hou wanneer jy die dissiplinêre kode met die werknemers bespreek. Die dissiplinêre kode is noodsaaklik om te verseker dat daar duidelike reëls in die werksplek is, met toepaslike sanksies, wat werknemers kan volg. Wanneer hierdie reëls oortree word, kan die werkgewer progressiewe dissipline toepas en in gevalle van ernstige wangedrag direk voortgaan met ‘n dissiplinêre verhoor. Dit is noodsaaklik om altyd die korrekte prosedure te volg, aangesien die versuim om dit te doen kan lei tot ernstige gevolge met ‘n groot finansiële impak. Indien daar ‘n moontlikheid van ontslag is, moet ‘n dissiplinêre verhoor gehou word voordat ‘n werknemer ontslaan word. Die werknemer moet die geleentheid gegun word om hul saak te stel tydens ‘n billike dissiplinêre proses. Indien die wangedrag gelei het tot die onherstelbare verbrokkeling van die vertrouensverhouding, kan die diensverhouding beëindig word.
Swak werksprestasie
Swak werksprestasie verwys na ‘n werknemer se onbevoegdheid, wanneer ‘n werknemer nie daarin slaag om aan die werkgewer se werksprestasiestandaarde in terme van kwaliteit en kwantiteit te voldoen en dit te handhaaf nie. Alle dienskontrakte impliseer dat die werknemer onderneem om volgens die werkgewer se redelike, wettige en haalbare werksprestasiestandaarde te presteer. Indien die werknemer hierdie plig versuim, ten spyte van ondersteuning om die vereiste standaard te bereik, word gesê dat die werknemer onbevoeg is en het die werkgewer die reg om hom/haar te ontslaan onderhewig daaraan dat die korrekte prosedure gevolg word.
Oplossing: Swak werksprestasie behels ‘n konsultasieproses waar die werknemer ingelig word van tekortkominge en dan voorsien word van opleiding en leiding ten einde die gewenste uitkoms te bereik. Die werknemer word dan vir ‘n redelike tydperk gemonitor en verdere opleiding en leiding aangebied soos nodig. Assesseer die werknemer se verbetering tydens ‘n opvolgkonsultasie. Indien die werknemer nie genoegsaam verbeter nie, kan ‘n formele dissiplinêre proses volg wat tot ontslag kan lei.
Dit is belangrik om goeie en gesonde werksverhoudinge in stand te hou. Grense moet vanaf die begin van die diensverhouding ingestel word om enige onsekerhede vorentoe te vermy. Hou die kommunikasielyne oop vir alle partye om enige kwessies wat mag opduik, aan te spreek. Werkgewers moet sorg dat hulle die korrekte prosedures volg wanneer dissiplinêre stappe geneem word, of konsultasies gehou word. Maak seker dat jy ‘n bywoningsregister en notules van die konsultasies met die werknemer hou.
Kontak die LWO– vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.