Ongetekende dienskontrakte

Dit gebeur dat ‘n werknemer in diens geneem word, maar die dienskontrak net bloot nie onderteken word nie. Werknemers is dikwels onder die wanindruk dat indien die dienskontrak nie geteken word nie, hy/sy nie onder dieselfde reëls en regulasies gebind kan word as ander werknemers wat wel die dienskontrak geteken het nie.
Die werkgewer-werknemer verhouding kom tot stand wanneer die werknemer en werkgewer op bepalings van indiensname ooreenkom. Die werknemer kan dus steeds gedissiplineer word indien die werksplek se reëls en dissiplinêre kode oortree word mits die werkgewer kan bewys dat die reëls bestaan het, dit redelik was, dit konsekwent toegepas was, die werknemer die reëls verbreek het en die werknemer redelike kennis gehad het van die reëls en regulasies in die werksplek.
Wat sê die wet?
Volgens die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, Wet 75 van 1997 soos gewysig (WBDV), moet ‘n werknemer op die eerste dag van sy diens skriftelik in kennis gestel word van die besonderhede rakende die indiensnemingverhouding. Die WBDV gee verder ‘n gedetailleerde lys van wat in hierdie kennisgewing moet staan.
‘n Skriftelike dienskontrak wat wel deur beide partye onderteken is formaliseer die verhouding en gee sekerheid aan alle partye. Sonder ‘n dienskontrak kan dit moeilik wees om te bewys dat die werknemer ingestem het tot sekere bepalings soos verkorte etenstye, of selfs die tydperk in gevalle van vastetermyn dienskontrakte waar die kontrak slegs vir ‘n spesifieke tyd/projek bedoel was.
HET JY GETEKENDE DIENSKONTRAKTE IN PLEK MET ELKE WERKNEMER?
Waar begin ek as werkgewer?
Los die situasie op deur die volgende stappe te volg:
- Konsulteer met die werknemer wat nie die dienskontrak wil onderteken nie om weer die kontrak aan hom/haar te verduidelik en redes te bekom vir die weiering;
- Gee die werknemer ‘n redelike tyd om skriftelike redes in te dien waarom hy/sy nie die kontrak wil teken nie, of die kontrak te onderteken indien daar geen rede is om dit nie te teken nie;
- Indien geen rede/beswaar gegee word waarom die kontrak nie geteken word nie, mag die werkgewer die werknemer weer versoek om die kontrak te teken.
- Indien daar wel redes verskaf kan word, kan dit bespreek word tussen die werknemer en werkgewer.
Die werkgewer kan verdere stappe neem om die indiensnemingsverhouding en die betrokke werknemer se regte in terme van die WBDV te bevestig deur ‘n skrywe aan die werknemer te rig wat die bepalings en voorwaardes soos voorgeskryf in die WDBV bevestig. Die werkgewer sal aan die bepalings van die WBDV voldoen indien hy die werknemer van ‘n afskrif van die konsepkontrak voorsien met ‘n aantekening dat die werknemer geweier het om dit te teken.
Ons beveel altyd aan dat werkgewers vir alle konsultasies ‘n bywoningsregister en notule hou wat aandui dat die werkgewer ‘n redelike proses gevolg het en dat die werknemer steeds aangehou werk het volgens die bepalings van die kontrak, al is die kontrak nie onderteken nie. Sou die werknemer sy/haar regte verbaal erken, word daar ‘n indiensnemingsverhouding gevestig en word die persoon dan as ‘n werknemer geag.
Let daarop dat ‘n werkgewer nie net ‘n werknemer kan afdank omdat hy/sy nie die dienskontrak wou onderteken nie. Indien ‘n werkgewer die dienskontrak termineer, hetsy dit verbaal of skriftelik op ooreengekom is, kan dit lei tot ‘n verwysing van ‘n onbillike ontslag dispuut by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA). Die werknemer kan dan geregtig wees op herindiensname of vergoeding, selfs indien hulle nog nie begin werk het nie. Indien die regte prosesse egter gevolg word, kan die situasie maklik reggestel en/of vermy word.
Kontak die LWO– vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.