Die risiko van onbehoorlike vertraging

Tydige dissipline is noodsaaklik om vertroue, billikheid en stabiliteit te handhaaf in die werksplek. Wanneer werkgewers dissiplinêre stappe vertraag nadat wangedrag plaasgevind het, skep dit die indruk dat reëls nie ernstig opgeneem word nie. Werknemers begin onseker voel oor verwagtinge en diegene wat die reëls wel volg, kan motivering verloor om dit te doen wanneer wangedrag onaangespreek bly. Met verloop van tyd ondermyn vertraagde optrede vertroue en kan dit spanning of konflik veroorsaak, veral wanneer werknemers glo die werkgewer tree inkonsekwent op of begunstig sekere werknemers.
Vertragings
’n Vertraging in die reaksie op wangedrag kan die situasie onbedoeld vererger en dit kan lyk asof die werkgewer die gedrag kondoneer. Werknemers kan aanneem dat hul gedrag aanvaarbaar is, wat dit moeiliker maak vir werkgewers om later te bewys dat die diensverhouding onherstelbaar beskadig is. Hoe langer die vertraging, hoe swakker word die werkgewer se posisie, beide prakties en regtens.
Vertragings om aanklagte aanhangig te maak skep dikwels die persepsie dat die werknemer onbillik geteiken word. Sodanige vertragings kan daarop dui dat die wangedrag nie ernstig genoeg was om dissipline te regverdig nie, of dat die dissiplinêre stappe deur verborge redes gemotiveer is eerder as deur die beweerde wangedrag.
HOE HANTEER JY DISSIPLINÊRE AKSIE?
Arbeidsregbeginsels
Arbeidsregbeginsels vereis dat dissiplinêre prosesse binne ’n redelike tydperk in gang gesit en afgehandel word. Enige buitensporige of onverklaarde vertraging kan die prosedure onbillik maak, selfs waar die wangedrag van ‘n ernstige aard is. Verhore moet dus binne ’n redelike tydsraamwerk na die wangedrag tot die lig gekom het geskeduleer en afgehandel word. Onbehoorlike vertragings kan die indruk skep dat die werkgewer dissiplinêre stappe laat vaar het en kan in baie gevalle die werknemer benadeel.
Wanneer wangedrag plaasvind, is dit noodsaaklik om dit spoedig te ondersoek en bewyse in te samel. Vir minder ernstige oortredings, volg gevestigde prosesse doeltreffend en billik om waarskuwings uit te reik voordat soortgelyke wangedrag herhaal word en behou sodoende die geleentheid om verdere stappe te neem indien nodig. In gevalle wat ernstiger maatreëls vereis, soos ’n dissiplinêre verhoor, moet aanklagte akkuraat geformuleer word en die werknemer skriftelike kennisgewing ontvang om dit by te woon. Werknemers moet ten minste 48 uur vooraf skriftelik in kennis gestel word – naweke en openbare vakansiedae uitgesluit – met genoegsame besonderhede van die bewerings om voldoende voorbereiding moontlik te maak. Nakoming van hierdie tydlyn verseker dat bewyse spoedig ingesamel word en help om die vervaging van getuies se herinneringe of die verlies van relevante dokumente te voorkom.
Persepsies word gevorm
Eksterne belanghebbendes soos kliënte, vakbonde en arbiters vorm ook persepsies gebaseer op hoe spoedig ’n besigheid optree. Stadige of inkonsekwente dissiplinêre stappe kan beskou word as swak leierskap of swak interne beheermaatreëls, wat die besigheid se professionele reputasie kan skaad en vertroue in sy bestuurspraktyke kan ondermyn. In regsverrigtinge word vertragings dikwels noukeurig ondersoek en werkgewers moet elke tydperk van vertraging of gebrek aan aksie kan regverdig. Versuim om dit te doen kan lei tot bevindings van onbillikheid teen die werkgewer by die KVBA of Bedingingsraad, wat lei tot ’n arbitrasiebeslissing ten gunste van die werknemer. In ontslagsake kan sodanige bevindings lei tot heraanstelling (met of sonder terugbetaling), herindiensneming of vergoeding wat betaalbaar is.
Uiteindelik versterk spoedige en billike optrede vertroue, ondersteun dit ’n positiewe werksomgewing en beskerm dit die besigheid regtens. Om wangedrag vinnig aan te spreek verseker duidelikheid, konsekwentheid en geloofwaardigheid beide binne die werksplek en na die buitewêreld.
Kontak die LWO– vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.