Top 5 organisatoriese regte van vakbonde in die werksplek

Baie werkgewers is onbewus daarvan dat vakbonde sekere organisatoriese regte binne die werksplek kan verkry indien hulle die vereiste vlak van verteenwoordiging bereik. Hierdie regte word gereguleer deur die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 (WAV) en laat vakbonde toe om spesifieke funksies te verrig ten einde hul lede te verteenwoordig. Dit is dus belangrik vir werkgewers om die omvang van hierdie regte te begryp, wanneer dit kan ontstaan en watter verpligtinge dit op die werkgewer kan plaas.
Die belangrikste organisatoriese regte wat vakbonde kan nastreef om in die werksplek uit te oefen, sluit in:
1. Vakbondtoegang tot die werksplek
Enige amptenaar of ampsdraer van die vakbond word toegelaat om die werkgewer se perseel te betree ten einde nuwe lede te werf, hul lede se belange te dien en vergaderings te hou, of om enige verkiesing ingevolge hul grondwet te hou. Dit is belangrik om daarop te let dat vakbonde beperk is tot vergaderings met hul lede buite normale werksure, tensy anders op ooreengekom. Werkgewers moet sorg dra om ’n kollektiewe ooreenkoms met die betrokke vakbond te sluit om tydige kennisgewing te gee van hul voorneme om hierdie reg uit te oefen, dus 48 uur se kennis voor die hou van ’n verkiesing.
2. Aftrek van vakbond lidmaatskapgelde of heffings
Hierdie reg bepaal dat werkgewers die vakbond se heffings van hul lede aftrek en die gelde aan die vakbond oorbetaal. Hierdie reg is onderhewig aan die werknemer se magtiging wat herroep kan word deur die nodige kennis te gee. Wanneer die gelde aan die vakbond oorbetaal word, moet die werkgewer die volgende aan die vakbond gee:
- ’n Lys van name van elke lid uit wie se lone die werkgewer die aftrekkings gemaak het wat by die oorbetaling ingesluit is;
- Besonderhede van die bedrae wat afgetrek en oorbetaal is, asook die tydperk waarop die aftrekkings betrekking het; en
- ’n Afskrif van elke kennisgewing van herroeping, indien van toepassing.
IS DAAR ‘N VAKBOND IN JOU WERKSPLEK?
3. Vakbondverteenwoordigers
’n Geregistreerde vakbond, of twee of meer vakbonde wat gesamentlik optree, wat die meerderheid van werknemers in die werksplek verteenwoordig, is geregtig daarop om ’n vakbondverteenwoordiger (“shop steward”) deur sy lede te verkies. Die verteenwoordiger sal verantwoordelik wees om werknemers tydens dissiplinêre en griewe verrigtinge te verteenwoordiging, asook die werkgewer te monitor ten opsigte van nakoming van arbeidsreg en enige kollektiewe ooreenkoms. Die verteenwoordiger kan ook tyd af neem om sy pligte te vervul en in sy funksies opgelei te word.
4. Verlof vir vakbondaktiwiteite
Enige werknemer wat ’n ampsdraer van ’n verteenwoordigende vakbond is, mag redelike verlof neem om die verpligtinge van sy of haar amp te voltooi of te vervul. Die werkgewer en vakbond kan ooreenkom oor die aantal verlofdae, hoeveel verlofdae betaald sal wees en enige voorwaardes daaraan gekoppel. Werkgewers moet daarop let dat verlof vir vakbondaktiwiteite bykomend is tot die werknemer se jaarlikse betaalde verlof.
5. Openbaarmaking van inligting
Deur hierdie reg te verkry, kan die vakbond van die werkgewer vereis om relevante werksplek-inligting aan die vakbond openbaar te maak ten einde die vakbond in staat te stel om sy funksies doeltreffend te verrig of aan kollektiewe bedinging deel te neem. Dit is belangrik om daarop te let dat daar beperkings is op die inligting wat openbaar gemaak mag word (inligting wat regtens beskermd is of inligting wat daarop sou neerkom dat enige wet of hofbevel oortree word indien dit openbaar gemaak word). Werkgewers moet hul regsadviseurs raadpleeg om seker te maak dat hulle nie inligting openbaar maak wat hulle nie mag openbaar maak nie.
Erkenning van vakbondregte
Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie organisatoriese regte nie outomaties aan vakbonde verleen word nie. ’n Vakbond moet ’n proses volg om eerstens erkenning by die werkgewer van die betrokke regte te soek. Waar die partye nie tot ’n ooreenkoms kan kom nie, kan die aangeleentheid na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) vir konsiliasie verwys word. Indien konsiliasie onsuksesvol is, kan die geskil na arbitrasie oorgaan, waar ’n kommissaris ’n bindende uitspraak sal lewer. Alternatiewelik kan die vakbond kies om beskermde stakingsaksie ten opsigte van organisatoriese regte te voer.
Die omvang van die regte wat ’n vakbond kan verkry, hang grootliks af van sy vlak van verteenwoordiging in die werksplek. Vakbonde met voldoende verteenwoordiging (afhangend van die werksplek, maar oor die algemeen ongeveer 25% van die werknemers in die werksplek) kan beperkte organisatoriese regte verkry, soos toegang tot die werksplek en die aftrek van vakbond lidmaatskapgelde. Terwyl vakbonde wat ’n meerderheid van werknemers in die werksplek verteenwoordig (50% + 1), kan kwalifiseer vir die volle reeks organisatoriese regte wat hierbo bespreek is.
Werkgewers word laastens aangemoedig om verdere regsadvies in te win indien hulle deur ’n vakbond genader word wat hierdie regte wil uitoefen. Dit is noodsaaklik om te verseker dat statutêre prosedures nagekom word om enige potensiële ontwrigting of risiko’s in die werksplek te beperk.
Kontak die LWO– vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.