Oortyd – moet ek my werknemer betaal?

In terme van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (WBDV), mag ʼn werknemer slegs oortyd werk indien daar so ʼn ooreenkoms is tussen die werkgewer en werknemer. Hierdie ooreenkoms is slegs geldig vir ʼn periode van 12 maande en moet jaarliks hernu word.

 

Indien ʼn werknemer bo die inkomsteplafon verdien, wat tans vasgestel is op R254 371.67 per jaar (R21 197.63 per maand) en wat van toepassing is vanaf 1 April 2024, is die oortyd klousule in die WBDV, soos hieronder uiteengesit, nie van toepassing nie. Hierdie bedrag sluit in vergoeding voor enige aftrekkings (bv. inkomstebelasting, pensioen, medies, ens.), maar sluit uit bydraes deur die werkgewer ten opsigte van pensioen en medies. Vervoertoelae, prestasietoekennings (bonusse) en betaling vir oortyd, sal ook nie ingereken word nie. Indien die werknemer dus bo die inkomsteplafon verdien, moet die partye ooreenkom wat die betaling of reëling vir oortyd sal wees, indien enige.

Oortyd is ook nie van toepassing op die volgende persone nie:

  • Senior bestuur
  • Verkoopspersone wat na die perseel van kliënte reis en wat hul eie werksure reguleer
  • Werknemers wat minder as 24 ure per maand werk

Betaal ek oortyd na 45 ure gewerk?

Normale werksure mag nie 45 ure per week oorskry nie en enige ure gewerk bo die normale werksure word as oortyd geag. Oortyd moet wel daagliks bereken word:

 

  • Indien die werknemer gewoonlik vyf dae per week werk, word die ure bo nege (9) ure per dag gewerk, geag as oortyd.
  • Indien die werknemer gewoonlik ses dae per week werk, word die ure bo agt (8) ure per dag gewerk, geag as oortyd.

HET JY OORTYDOOREENKOMSTE IN PLEK?

LAAT LWO JOU HELP!

Wat is die maksimum oortydure?

  • Tien ure per week; en
  • Drie ure per dag.

 

ʼn Werknemer mag nie meer as 12 ure op enige dag werk nie. Hierdie sluit oortyd in. ʼn Skriftelike ooreenkoms mag die maksimum ure oortyd per week vermeerder na 15 ure per week, maar mag nie vir meer as twee maande in enige 12 maande periode van toepassing wees nie.

Hoeveel moet ek my werknemer betaal?

Die werkgewer moet een en ʼn half keer die werknemer se normale tarief betaal vir elke uur oortyd gewerk. Die partye mag egter wel ooreenkom om die werknemer:

 

  • Die normale loon te betaal vir oortyd gewerk en 30 minute kwyt te skeld met volle betaling vir elke uur oortyd gewerk; of
  • 90 minute kwyt te skeld met volle betaling vir elke uur oortyd gewerk.

Wanneer moet ek hierdie tyd afgee?

Hierdie tyd af moet toegeken word binne een maand nadat die werknemer die oortyd gewerk het. Daar is wel die opsie om hierdie ooreenkoms te verleng na 12 maande indien dit skriftelik op ooreengekom word tussen die partye.

    Nog nie ‘n LWO lid nie?
    KYK NA ONS LIDMAATSKAPPAKKETTE.

    Werkgewers moet seker maak dat oortyd slegs by ooreenkoms gewerk word, sodat werknemers nie onnodige eise indien vir oortyd gewerk nie. Aangesien daar verskeie sektore en toepaslike wetgewing is, is dit noodsaaklik vir ʼn werkgewer om te alle tye bewus te wees onder watter sektor en wetgewing hulle klassifiseer. Op hierdie wyse, word die kontrakte met korrekte klousules saamgestel om beskerming vir die werkgewer te bied. Die werknemer sal dan ook bewus wees wat van hom/haar verwag word.

     

    Hierdie artikel is van toepassing op oortyd vir werkgewers en werknemers wat onder die bestek van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (WBDV) val. Om te verseker dat jy as werkgewer bewus is van die korrekte oortyd van toepassing in jou sektor, skakel die LWO by 086 110 1828.

     

    Kontak die LWO vir enige advies of bystand!

    Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.

    VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

    VIND NOU UIT.

    Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.