Het die werknemer bedank of nie?

Die werksplek is ‘n emosionele omgewing met verwysing na arbeidsverhoudinge. Dit kan dikwels lei daartoe dat ‘n werknemer sê “Ek bedank!”, of dat die werknemer uitgereikte toerusting inhandig en die werksplek verlaat. Maar kan die werkgewer dit so aanvaar, of moet ‘n bedanking slegs op skrif wees? Suid-Afrika se arbeidsomgewing is hoogs gereguleer. Elke werksplek is uniek en moet werkgewers daarop let om arbeidsverhoudinge in lyn met arbeidswetgewing te bestuur, veral wanneer die diensverhouding beëindig word. Deur teenstrydig met wetgewing op te tree, al is dit per abuis of onwetend, stel werkgewers hul besighede onnodig op risiko.

Wanneer die diensverhouding beëindig word, ongeag die rede hiervoor, is dit baie belangrik dat die werkgewer die korrekte prosedures volg en die nodige stawende dokumentasie in plek het, sou die werknemer ‘n saak verwys na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA).

BESKERM JOU REGTE AS WERKGEWER
LAAT LWO JOU HELP!

Die diensverhouding kan op die volgende wyses tot ‘n einde kom:

  • Die werknemer bedank vrywillig
  • Die werkgewer ontslaan die werknemer na afloop van ‘n dissiplinêre verhoorproses
  • Die werkgewer lê die werknemer af na afloop van ‘n personeelverminderingsproses
  • Die permanente dienskontrak bereik die einddatum (aftree ouderdom) en verval
  • Die vaste termyn dienskontrak bereik die ooreengekome einddatum en verval
  • Die werknemer kom tot sterwe

Werkgewers moet kennis neem van die feit dat ‘n werknemer hom-/haarself nie kan ontslaan nie. Wanneer ‘n werknemer dros is dit ‘n dissiplinêre oortreding en moet die werkgewer dus gepaste dissiplinêre stappe neem. Die enigste wyse waarop ‘n werknemer die diensverhouding kan beëindig, is deur te bedank. Hierdie bedanking kan op twee wyses plaasvind:

  • Bedank: Vrywillige bedanking – op skrif
    Die werknemer dien ‘n skriftelike bedanking in by die werkgewer en is daar geen onduidelikheid rondom die bedanking nie. Dit is ook duidelik dat die werknemer nie ontslaan is nie. Werkgewers moet sover moontlik poog dat werknemers skriftelik bedank.
  • Bedank: Vrywillige bedanking – verbaal en/of duidelike optrede
    Wanneer ‘n werknemer bedank sonder om dit op skrif te bevestig kan dit risiko skep vir die werkgewer deurdat dit moeiliker is vir die werkgewer om te kan bewys dat die werknemer nie ontslaan is nie. n Onlangse hofuitspraak in die Arbeidsappèlhof bemagtig werkgewers om ‘n vrywillige bedanking wat nie op skrif is nie te kan aanvaar, mits die werkgewer kan bewys dat die werknemer se optrede duidelik en ondubbelsinnig daarop gedui het dat die werknemer die diensverhouding vrywilliglik beëindig het. Voorbeelde van hierdie gedrag kan insluit:
    • ­ ‘n werknemer wat duidelik verbaal bedank en die werksperseel daarna verlaat;
    • ‘n werknemer wat die werkgewer se uitgereikte toerusting inhandig en die werksperseel daarna verlaat;
    • ‘n werknemer wat bogenoemde gedrag openbaar en diens aanvaar by ‘n ander werkgewer.
Om die werkgewer verder te beskerm is ons aanbeveling dat die werkgewer hierdie gedrag van die werknemer rekordeer en dit skriftelik bevestig dat die werkgewer hierdie optrede as ‘n vrywillige bedanking ag en as sulks aanvaar.
Werkgewers moet proaktief optree en verseker dat dienskontrakte, die dissiplinêre kode, prosedures en beleide in plek is en hierdie dokumentasie aan toepaslike wetgewing voldoen.

VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

VIND NOU UIT.

Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.