Effek van die nuwe inkomsteplafon 2021

Tesame met die nuwe nasionale minimum loon wat op 01 Maart 2021 inwerking getree het, moet werkgewers ook kennis neem van die verhoogde jaarlikse inkomsteplafon wat geïmplementeer is. Die vorige inkomsteplafon is sedert 1 Julie 2014 inwerking en is nou verhoog van R205 433.30 na R211 596.30. Die inkomsteplafon het ‘n effek op die bepalings van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 1997 (WBDV), die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (WAV) en die Wet op Billike Werksgeleenthede, 1998 (WBW).

Wat is verdienste (inkomste)?

“Verdienste” beteken ‘n werknemer se gereelde jaarlikse vergoeding voor aftrekkings (bv. inkomstebelasting, pensioenfondsbydraes, mediese fondsbydraes en soortgelyke betalings), maar sluit uit enige bydraes gemaak deur die werkgewer ten opsigte van die werknemer. Verblyf- en vervoertoelae ontvang, prestasietoekennings en betalings vir oortyd gewerk word ook uitgesluit binne die bestek van vergoeding.

BESKERM JOU REGTE AS WERKGEWER
LAAT LWO JOU HELP!

Plafon | WBDV

In terme van die WBDV, word werknemers wat bo die inkomsteplafon verdien uitgesluit van die bepalings wat die volgende reguleer: normale werksure, oortyd, saamgeperste werksweke, gemiddelde werksure, etensbreuke, daaglikse en weeklikse rusperiodes, Sondagbetaling, betaling vir nagwerk en betaling vir werk gedoen op openbare vakansiedae. Dit beteken dat die regulering van voorgenoemde onderling op ooreengekom moet word en nie deur die WBDV gereguleer sal word soos in die geval van werknemers wat onder die inkomsteplafon verdien nie.

Plafon | WAV

In terme van die WAV, is werknemers wat bo die inkomsteplafon verdien nie onderhewig aan die bepaling dat werknemers wat deur ‘n tydelike werksverskaffingsdiens/arbeidsmakelaar aangestel word, geag word as werknemers te wees van die werkgewer/kliënt vir doeleindes van die WAV nie. Daarbenewens val werknemers wat bo die inkomsteplafon verdien, buite die bestek van die bepalings wat verband hou met werknemers op ‘n vaste termyn wat geag word as permanente indiensname na drie maande (in die afwesigheid van ‘n regverdigbare rede vir die vasstelling van ‘n vaste termyn).

Plafon | WBW

‘n Werknemer wat bo die inkomsteplafon verdien en ‘n dispuut het onder Hoofstuk II wat verband hou met onregverdige diskriminasie, kan nie die dispuut na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys nie. So ‘n werknemer is verplig om die dispuut direk na die Arbeidshof te verwys vir beslegting (tensy die dispuut verband hou met beweerde onregverdige diskriminasie op die gronde van seksuele teistering, of indien die partye almal tot arbitrasie instem).

Dit is uiters belangrik vir elke werkgewer om te bepaal watter werknemers bo die inkomsteplafon verdien en watter werknemers onder die inkomsteplafon verdien, aangesien dit ‘n groot impak het op die bepalings en voorwaardes van indiensname waarop die werkgewer en werknemer kan ooreenkom. Werkgewers moet ingelig en op datum bly van arbeidswetgewing ten einde proaktiewe aksie te kan neem om hul regte, asook besigheid, te beskerm met verwysing na die diensverhouding vorentoe.

VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

VIND NOU UIT.

Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.