Stappe ter voorbereiding van die nasionale minimum loon

Kragtens die Nasionale Minimum Loon Wet (NMLW) beoordeel en hersien die Nasionale Minimum Loon Kommissie jaarliks die nasionale minimum loon. Die Kommissie lê dan ‘n aanbeveling voor aan die Minister van Indiensneming en Arbeid om die nasionale minimum loon vir die 2022/2023 tydperk aan te pas, wat in werking sal tree op 01 Maart 2022.

Die kriteria wat die Kommissie gebruik vir die voorgestelde verhoging is die verbruikersprysindeks (VPI) plus 1,0%. Die VPI in September 2021 was 5,0% en kan die nasionale minimum loonverhoging gevolglik bereken word op 6,0%. Dit behels ‘n verhoging van die huidige nasionale minimum loon van R21.69 per uur na R22.99 per uur (gebaseer op September 2021’s VPI, beskikbaar tydens die skryf van hierdie artikel).

BELANGRIKE OPDATERING: NEEM KENNIS DAT DIE MINISTER VAN INDIENSNEMING EN ARBEID OP 07 FEBRUARIE 2022 IN DIE STAATSKOERANT 45882 DIE GEWYSIGDE NASIONALE MINIMUM LOON AFGEKONDIG HET: DIE LOON PER UUR IS VERHOOG NA R23.19 PER HUUR VANAF 01 MAART 2022 – LEES DIE VOLLEDIGE OPDATERING HIER (ENGLISH) OF HIER (AFRIKAANS).

Besigheid word bedryf in ‘n uitdagende omgewing en plaas die nasionale minimum loon en gepaardgaande verhogings addisionele druk op werkgewers aangesien die betaling van die loon nie onderhandelbaar is nie. Artikel 15 van die NMLW bepaal egter dat indien werkgewers nie die nasionale minimum loon kan bekostig nie hulle aanlyn aansoek om kwytskelding kan doen (http://nmw.labour.gov.za). Indien kwytskelding toegestaan word, sal die werkgewer steeds ten minste 90% van die nasionale minimum loon moet betaal. Kwytskelding is geldig vir ‘n periode van maksimum 12 maande.
BESKERM JOU REGTE AS WERKGEWER
LAAT LWO JOU HELP!

Wat van kwytskelding?

As deel van die kwytskeldingsaansoek, moet die werkgewer ‘n goeie rede aanvoer vir die kwytskelding, asook bewys dat daar sinvol met werknemers en verteenwoordigende vakbond(e) waar van toepassing gekonsulteer is. Die regulasies bepaal verder dat só ‘n aansoek nie toegestaan sal word indien die werkgewer nie die bekostigbaarheids-elemente met betrekking tot winsgewendheid, likiditeit en solvensie deurstaan nie. Die berekeninge vir hierdie toetse word verder ingesluit as deel van die skedules tot die wet. Kwytskelding sal slegs oorweeg word indien die werkgewer op datum is met alle wetlike betalings, insluitend die Werkloosheidsversekeringsfonds, die Beroepsbeserings- en vergoedingsfonds (Vergoedingskommissaris) en enige ander toepaslike heffings.

Die aansoek word aanlyn gedoen

Omdat die aansoek aanlyn gedoen word is die uitkoms onmiddellik beskikbaar, tensy die aansoek uitgesonder word vir ‘n oudit (wat binne 30 dae vanaf die datum van aansoek sal plaasvind). Die uitkoms sal die datum van inwerkingtreding van kwytskelding bevestig, die tydperk waarvoor dit toegestaan word, die lone wat die werkgewer verplig is om werkernemers te betaal, asook enige ander relevante voorwaardes. Indien kwytskelding toegestaan word, moet ‘n afskrif van die kwytskeldingsertifikaat in die werksplek vertoon word, asook aan die betrokke werknemers en verteenwoordigende vakbond(e) waar van toepassing verskaf word. Indien die aansoek onsuksesvol is, sal die werkgewer ‘n kennisgewing ontvang met die redes vir die weiering.

Wat van dispute?

‘n Dispuut oor die nie-nakoming van die NMLW kan óf na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), óf die Departement van Indiensneming en Arbeid verwys. Indien ‘n werkgewer versuim om aan die NMLW te voldoen, kan die werkgewer soos volg beboet word (watter bedrag ook al die meeste is):

  • Twee keer die waarde van die bedrag wat die werknemer onder die voorgeskrewe minimum loon betaal word; of
  • Twee keer die werknemer se maandelikse loon.

Beperkende arbeidsregulasies word geag as een van die mees problematiese faktore as dit kom by die doen van besigheid in Suid-Afrika. Werkgewers moet tot die besef kom dat deur ‘n kopskuif te maak en die besigheidsrisiko gekoppel daaraan om aan arbeidswetgewing te voldoen proaktief te bestuur, werkgewers hulself reg posisioneer vir die diensverhouding vorentoe, asook enige moontlike toekomstige dispute.

VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

VIND NOU UIT.

Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.