COIDA oudit en vereistes

Op 14 Julie 2022 het die Direkteur-Generaal van die Departement van Indiensneming en Arbeid ‘n kennisgewing onderteken wat besighede inlig oor nakoming van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (“COIDA”) en die voorneme om besigheidspersele te besoek om COIDA oudits uit te voer.
Die Departement het onlangs meer as 500 inspekteurs aangestel om te verseker dat besighede aan die voorskrifte van COIDA voldoen.
BESKERM JOU REGTE AS WERKGEWER
LAAT LWO JOU HELP!

COIDA oudit: vereistes vir besighede:

  • Artikel 80: alle besighede in Suid-Afrika wat een of meer werknemers in diens het moet binne sewe dae vanaf die eerste werknemer se aanstelling, registreer by die Vergoedingsfonds. Dit geld vir werknemers op ‘n permanente of vaste termyn dienskontrak (insluitende seisoenale werknemers). Die volgende inligting moet ook verskaf word: datum waarop die besigheid gestig is, die aantal werknemers in diens, en die salarisse wat aan die werknemers betaal word.

  • Artikel 81: personeelrekords moet gehou word, asook salarisinligting. Betaalstrokies moet uitgereik word aan werknemers. In die geval van ‘n besering aan diens, moet die betaalstrokie voorsien word aan die Vergoedingsfonds aangesien vergoeding gebaseer word op die salaris. Die strokie bekragtig ook die diensooreenkoms tussen die werkgewer en werknemer.

  • Artikel 82: besighede moet hul jaarlikse salarisrol verklaar aan die Vergoedingsfonds teen Maart, of teen die datum soos afgekondig deur die Vergoedingskommissaris.

  • Artikel 83: besighede word geklassifiseer in verskillende sub-klasse en elke subklas het ‘n eie tarief. Hierdie tarief, tesame met die salarisse wat verklaar is, stel die Vergoedingsfonds in staat om die bedrag te bepaal wat deur die besigheid betaalbaar is.
Daar is om en by 950 000 besighede geregistreer by die Vergoedingsfonds wat oor 13 klasse geklassifiseer word. Hierdie besighede het R9,5 miljard aan die Fonds betaal in 2020/2021. Met hierdie gelde betaal die Fonds sy personeellede, vergoeding vir werksbeserings, en doktersrekeninge vir die behandeling van beserings aan diens.

COIDA oudit:

Die Vergoedingsfonds sal begin om besigheidspersele te besoek om oudits te doen ten einde te bepaal of besighede wel aan die vereistes gestel deur COIDA voldoen. Die volgende dokumentasie kan vereis word met die oudit:
  • Voltooide salarisopgawevorm
  • Rekening uitgereik deur die Vergoedingsfonds
  • Bewys van betaling
  • Brief van Goeie Stand

Boetes betaalbaar vir nie-nakoming:

Ingevolge die Wet is boetes betaalbaar wanneer die werkgewer die salarisse te laat verklaar (na die sperdatum), asook wanneer die rekening laat betaal word. Indien besighede nie in ‘n posisie is om die volle rekening te betaal nie kan daar wel ‘n afbetalingsooreenkoms met die Fonds getref word.

Die proses om die salarisse te verklaar, betalings te maak en die Brief van Goeie Stand te verkry moet jaarliks herhaal word en is dit belangrik vir besighede om die media of die Departement se webtuiste dop te hou vir die aankondigings hieroor. Op dié manier kan besighede boetes vermy deur die salarisse tydig te verklaar.
Wanneer ‘n besigheid nie meer operasioneel is nie, moet daar per hand aansoek gedoen word by die naaste Departement van Indiensneming en Arbeid vir deregistrasie by die Vergoedingsfonds aangesien die proses nie aanlyn gedoen kan word nie. Die aansoek kan ook direk na die Vergoedingsfonds in Pretoria gestuur word.
As ‘n geregistreerde werkgewers-organisasie by die Departement van Indiensneming en Arbeid, spesialiseer die LWO in arbeidsreg en kan werkgewers daarom slegs in hierdie spesifieke veld bystaan en van hulp wees. Ons ondersoek egter altyd geleenthede om hande te vat met diensverskaffers op ander spesialis-gebiede ten einde oplossings vir ons lede op die tafel te plaas.

Kontak Stephan Pietersen van Work Accident Support vir COIDA bystand: 064 360 2638 | support@workaccident.co.za

VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

VIND NOU UIT.

Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.