Fout? 4 algemene foute met vastetermyn dienskontrakte

Oor die algemeen is dit ‘n fout om nie ingelig te wees nie… Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (“WBDV”) dikteer die minimum diensvoorwaardes waarop ‘n werkgewer en werknemer kan ooreenkom. Neem kennis dat arbeidswetgewing van toepassing is op alle werkgewers en werknemers, ongeag hoe die diensverhouding aangeteken word, of die termyn daarvan.
BESKERM JOU REGTE AS WERKGEWER
LAAT LWO JOU HELP!

Vier algemene foute rakende vastetermyn dienskontrakte sluit in:

Fout 1: geen skriftelike dienskontrak

Een van die grootste foute wat werkgewers maak is om nie ‘n skriftelike kontrak te implementeer nie, of om ‘n generiese dienskontrak te gebruik wat min beskerming bied wanneer daar ‘n dispuut is in die werksplek. Die werknemer is in diens vanaf die oomblik dat hy/sy diens aanvaar, ongeag hoe die verhouding aangeteken is – via ‘n mondelinge of skriftelike ooreenkoms. ‘n Skriftelike ooreenkoms (dienskontrak) skep egter duidelikheid deur die diensbepalings en -voorwaardes waarop ooreengekom is, te bevestig.

Dit beskerm die werkgewer in terme van die diensverhouding vorentoe. Die dienskontrak kan van onskatbare waarde vir die werkgewer wees indien dit doeltreffend gebruik word. Deur ‘n kopskuif oor dienskontrakte te maak van ‘n “administratiewe las” na “risiko-versagtende instrument” kan werkgewers oor die langtermyn baie tyd en geld bespaar.

Fout 2: om permanente indiensame te ontduik

Ongelukkig gebeur dit wel dat werkgewers poog om die statutêre verpligtinge ingevolge arbeidswetgewing geheel en al te ontduik, of poog om permanente indiensneming te ontduik deur werknemers op ‘n vastetermynbasis in diens te neem. Dit is egter ‘n ernstige fout en werkgewers moet duidelik verstaan dat dit onwettig is om permanente indienseming te verdoesel in die vorm van ‘n vastetermyn kontrak.

Dit is van kardinale belang dat ‘n werkgewer die korrekte tipe dienskontrak aangaan. Vra jouself af: is die posisie van ‘n permanente/onbepaalde aard; of is die posisie van ‘n tydelike aard, vir ‘n spesifieke tydperk of vir ‘n spesifieke projek? Werknemers wat vir langer as drie maande op ‘n vastetermynbasis in diens is, sal as permanente werknemers geag word, tensy die langer vastetermyn tydperk ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge (“WAV”)regverdigbaar is.

Fout 3: skep ‘n verwagting

Die werkgewer moet versigtig wees om nie ‘n verwagting van permanente diens by die werknemer te skep nie, wat maklik kan gebeur wanneer ‘n vastetermyn dienskontrak vir ‘n tweede of derde, soortgelyke tydperk hernu word. Hoe meer gereeld ‘n werkgewer ‘n vastetermyn kontrak hernu, hoe meer redelik word die werknemer se verwagting dat dit in die toekoms weer hernu sal word, wat ‘n verwagting van permanente indiensneming skep. Wanneer die werkgewer dan versuim om so ‘n kontrak te hernu, kan dit dan as onbillike ontslag gesien word.
Indien ‘n vastetermyn dienskontrak tot ‘n einde kom en die werknemer bly aan in hierdie posisie, bepaal wetgewing dat daardie werknemer as ‘n permanente werknemer beskou sal word. Dit beteken dat die kontrak geag sal word stilswyend op dieselfde voorwaardes hernu te wees, behalwe dat die verhouding nou permanent sal wees.

Fout 4: verskillende bepalings en voorwaardes

Daar is ‘n mite dat dieselfde wetgewing, dissipline, beleide en prosedures nie op dieselfde wyse op vastetermyn werknemers van toepassing is, as vir permanente werknemers nie. Die enigste verskil tussen ‘n vastetermyn en ‘n permanente werknemer, is die dienstermyn .

Werknemers op ‘n vastetermyn moet dieselfde as permanente werknemers behandel word met betrekking tot lone, verlof en ander voordele. Werknemers op vastetermyn kontrakte moet ook gelyke toegang kry tot geleenthede om vir vakatures aansoek te doen, asook geregtig wees op skeidingsvergoeding by diensbeëindiging waar die werknemer op ‘n vastetermyn kontrak van langer as 24 maande in diens is.

VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

VIND NOU UIT.

Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.