Beswaar teen con / arb by die kvba

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA – beter bekend in Engels as die “CCMA”) , is gestig as ‘n onafhanklike, apolitiese geskilbeslegtingsliggaam ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge (WAV). KVBA prosesse is daarop gemik om billike arbeidspraktyke te bevorder en arbeidsdispute in die werksplek op te los. ’n Werknemer kan ’n dispuut na die KVBA verwys op grond van ontslag, lone en werksomstandighede, onbillike arbeidspraktyke, werksplekveranderinge en diskriminasie. Die meeste sake wat na die KVBA verwys word, hou verband met onbillike ontslag.

BESKERM JOU REGTE AS WERKGEWER
LAAT LWO JOU HELP!

KVBA prosesse: die drie basiese opsies

Sodra die applikant ‘n dispuut na die KVBA verwys het, sal dit vir versoening neergelê word en ‘n kommissaris sal aangestel word om die dispuut te bereg. Indien versoening misluk, sal die saak vir arbitrasie uiteengesit word.
  • Konsiliasie: Dit is ‘n informele proses waar ‘n kommissaris aangestel word om met die partye in ‘n dispuut te vergader en maniere te ondersoek om die dispuut deur onderlinge ooreenkoms te skik. As die saak geskik word, word ‘n skikkingsooreenkoms onderteken en die dispuut word opgelos.
  • Arbitrasie: Dit is ‘n verhoorproses waar die partye die geleentheid het om hulle saak te stel. Tydens die proses word mondelinge getuienis aangebied asook enige ander vorme van getuienis ter ondersteuning van ‘n party se saak. Die kommissaris reik ‘n arbitrasiebevel uit wat bindend en gelykstaande aan ‘n hofuitspraak is.
  • Konsiliasie/Arbitrasie (“Con/Arb”): Hierdie is ‘n deurlopende proses waar konsiliasie en arbitrasie direk volg na mekaar. Indien versoening (skikking) nie bereik word nie, sal arbitrasie op dieselfde dag plaasvind.
‘n Werkgewer moet nooit enige dokumentasie wat direk van die KVBA ontvang is, of ‘n KVBA-verwysingsvorm wat van ‘n afgedankte werknemer ontvang word, ignoreer nie. Binne ‘n paar weke na ontvangs van so ‘n verwysingsvorm, sal die KVBA ‘n vasgestelde datum aan die werkgewer verskaf. Indien die werkgewer nie ‘n vasgestelde datum ontvang nie, is dit raadsaam om die KVBA te kontak om die vasgestelde datum op te volg. Indien ‘n werkgewer versuim om die arbitrasieverrigtinge by te woon sonder ‘n geldige rede, sal die verrigtinge voortgaan in hul afwesigheid en ‘n arbitrasiebevel sal teen hul naam uitgereik word.

Beswaar teen “Con/Arb”

Alhoewel “Con/Arb” ‘n doeltreffende manier kan wees om dispute vinnig en koste-effektief op te los, kan die proses kontroversieel wees en sommige partye kan geldige redes hê om beswaar teen hierdie proses aan te teken, soos byvoorbeeld:
  • Dit maak moontlik nie voorsiening vir ‘n regverdige verhoor (arbitrasie) nie. Tydens die “Con/Arb”-proses neem dieselfde kommissaris wat in die konsiliasieproses voorsit, ook die finale besluit tydens die arbitrasie. Dit beteken dat die kommissaris moontlik reeds ‘n opinie oor die dispuut gevorm het, wat hul onpartydigheid tydens arbitrasie kan beïnvloed. Indien ‘n kommissaris voel dat hulle ‘n opinie tydens konsiliasie gevorm het, kan hulle besluit om ‘n ander kommissaris vir die arbitrasie te versoek om regverdigheid en onpartydigheid te verseker.

  • Dit maak moontlik nie voorsiening vir ‘n deursigtige proses nie. In ‘n tradisionele arbitrasieverhoor word die partye toegelaat om getuies te roep, hulle te kruisondervra en hul sake volledig voor te lê. Wanneer konsiliasie die arbitrasie voorafgaan, is die verrigtinge oor die algemeen informeel met die doel om ‘n skikking te bereik en daar is moontlik nie dieselfde geleenthede vir getuies om geroep te word, of vir kruisondervraging om plaas te vind nie. Dit kan dit vir partye moeilik maak om getuienis wat deur die teenparty aangebied word, te betwis of te weerlê, wat die integriteit van die arbitrasiebesluit kan beïnvloed.
Partye tot ‘n dispuut wat geldige redes het om kapsie te maak teen die “Con/Arb”-proses, kan dit doen deur ‘n beswaar in te dien en by die KVBA sewe dae voor die datum van die verhoor en te versoek dat die aangeleentheid op ‘n latere datum na arbitrasie verwys word. Uiteindelik behoort die doel van enige geskilbeslegtingsproses te wees om regverdigheid, deursigtigheid en onpartydigheid te verseker.
‘n Onlangse Arbeidshof-uitspraak (Valinor trading 133 cc t/a Kings Castle v CCMA & Others) het bepaal dat indien ‘n party onmiddellik na konsiliasie beswaar maak teen arbitrasie, die kommissaris nie by magte is om te arbitreer nie, al is die beswaar nie gedoen in terme van die Reëls van die KVBA nie. Die KVBA het egter teen die uitspraak geappelleer en die werking hiervan is opgeskort hangende die uitslag van die appèl. Die LWO sal lede op hoogte hou van die uitslag van die appèl en die impak daarvan op KVBA-verrigtinge.
KVBA-prosesse kan intimiderend wees en dit is ‘n goeie idee om kundige advies in te win. ‘n Werkgewer kan verteenwoordig word deur enige werknemer/direkteur van die besigheid, of deur ‘n beampte.

VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

VIND NOU UIT.

Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.