Verstaan die Wet op Basiese Diensvoorwaardes in Suid-Afrika

Verstaan die Wet op Basiese Diensvoorwaardes in Suid-Afrika – Hannes Latsky

Vir werkgewers in Suid-Afrika is dit van kardinale belang om te begryp wat die wetlike raamwerk wat indiensneming beheer behels, ten einde nakoming te verseker en ‘n billike en produktiewe werksplek te handhaaf. Een van die fundamentele stukke wetgewing waarmee werkgewers vertroud moet wees, is die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (Wet 75 van 1997 soos gewysig) ook bekend as die WBDV. In hierdie artikel gee ons ‘n algemene oorsig van die WBDV en ‘n paar interessante bepalings.

Wat is die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (WBDV)?

Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, wat in 1997 verorden is, sit die minimum diensvoorwaardes vir werkers in Suid-Afrika uiteen. Dit is van toepassing op die meeste werkgewers en werknemers, met enkele uitsonderings, soos lede van die Nasionale Weermag, die Suid-Afrikaanse Nasionale Intelligensie-agentskap en onbetaalde vrywilligers wat vir liefdadigheid werk.

Belangrike bepalings van die WBDV:

1. Werksure: Die WBDV reguleer die maksimum normale werksure, oortyd en etensbreke vir werknemers. Volgens die Wet mag ‘n gewone werkweek nie 45 uur oorskry nie, en werknemers is geregtig op ‘n etensbreek van een uur na vyf ure se aaneenlopende werk. Hierdie etensbreek kan per ooreenkoms tussen die werkgewer en werknemer verminder word tot 30 minute.

2. Verlof: Die Wet stipuleer die minimum jaarlikse verlof waarop werknemers geregtig is, wat minstens 21 opeenvolgende dae per jaar vir voltydse werkers is. Werkgewers en werknemers kan instede ooreenkom dat verlof teen ‘n koers van een dag vir elke 17 dae gewerk bereken sal word. Dit sit ook bepalings vir ander vorme van verlof uiteen, soos siekverlof, gesinsverantwoordelikheidsverlof en kraamverlof om maar ‘n paar te noem.

3. Vergoeding: Die WBDV stel riglyne vir die berekening van lone, die maak van aftrekkings van die werknemer se vergoeding en die betaling van vergoeding.

4. Diensbeëindiging: Die Wet reguleer ook diensbeëindiging, insluitend kennistydperke en skeidingsvergoeding waar van toepassing.

5. Dienskontrakte: Daar word van werkgewers verwag om werknemers te voorsien van skriftelike besonderhede van diens, wat die bepalings en voorwaardes van hul diens uiteensit, insluitend werksure, vergoeding, reg tot verlof en besonderhede oor die werknemer se posisie en werksplek.

VERTOON JY DIE KORREKTE REGSPLAKKATE?
LAAT LWO JOU HELP!

Vyf interessante feite oor die WBDV:

1. Afdwingingsmeganismes: Die Departement van Indiensneming en Arbeid is verantwoordelik om voldoening aan indiensnemingswetgewing af te dwing, insluitend die WBDV. Werkgewers wat skuldig bevind word dat hulle die Wet oortree, kan penalisering, boetes en ander regstappe in die gesig staar.

2. Sektorale vasstellings: Benewens die WBDV, kan sekere bedrywe of sektore onderhewig wees aan sektorale vasstellings, wat spesifieke diensvoorwaardes uiteensit wat aangepas is vir die behoeftes van daardie sektor. Hierdie bepalings kan verskillende minimum lone, werksure en reg tot verlof voorskryf.

3. Beskerming van kinders: Die WBDV sluit streng bepalings teen kinderarbeid in en maak voorsiening dat geen persoon ‘n kind onder die ouderdom van 15 jaar, of wat onder die minimum skoolverlatersouderdom is, indien dit 15 of ouer is, in diens mag neem nie. Die Wet stel verdere beskerming vir kinders tussen die ouderdom van 15 en 18 in. Hierdie bepalings verseker dat hierdie werkers billike behandeling en diensvoorwaardes ontvang wat geen risiko inhou vir die kind se welstand, opvoeding, fisiese of geestelike gesondheid en geestelike, morele of sosiale ontwikkeling nie.

4. Wysiging en opdatering: Die WBDV het sedert sy inwerkingtreding verskeie wysigings ondergaan om by veranderende arbeidsmarktoestande aan te pas en opkomende kwessies aan te spreek. Werkgewers moet op hoogte bly van hierdie wysigings om deurlopende nakoming van die wet te verseker.

5. Rol van kollektiewe bedinging: Die WBDV laat toe dat kollektiewe ooreenkomste tussen werkgewers en vakbonde beding word wat in sekere omstandighede sekere bepalings van die Wet kan ignoreer, mits dit gelyke of beter voordele aan werknemers bied. Hierdie ooreenkomste speel ‘n deurslaggewende rol om diensvoorwaardes in spesifieke bedrywe of werksplekke te vorm.

Ten slotte vorm die Wet op Basiese Diensvoorwaardes die hoeksteen van arbeidsreg in Suid-Afrika, wat minimum standaarde vir regverdige en billike dienspraktyke daarstel. Werkgewers moet hulself vergewis van die bepalings van die Wet, asook ander indiensnemingswetgewing om nakoming te verseker en ‘n gunstige werksomgewing vir hul werknemers te skep.

Kontak ons gerus by 0861 101 828, of info@lwo.co.za met enige navrae, of indien jy enige arbeidsregadvies/-bystand benodig.

VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

VIND NOU UIT.

Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.