Ouerlike verlof opdatering

Opdatering oor die WBDV: kraamverlof is uit en ouerlike verlof is in; die hooggeregshof maak die speelveld gelyk. Op 3 Oktober 2025 het die Konstitusionele hof Artikels 25, 25A, 25B en 25C van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes 75 van 1997 (WBDV) ongrondwetlik verklaar. Hierdie artikels reguleer kraam-, ouerlike -, aannemings- en opdraggewende ouerlike verlof. Die baanbrekende uitspraak is gelewer in die sake van Van Wyk en Ander v Minister van Indiensneming en Arbeid en Kommissie vir Geslagsgelykheid en ‘n Ander v Minister van Indiensneming en Arbeid en Ander [2025] ZACC 20.

Die Konstitusionele hof het erken dat Suid-Afrika se ouerlike verlofwetgewing onregverdig teenoor baie gesinne was en het bevind dat die artikels wat handel oor kraam-, ouerlike -, aannemings- en opdraggewende ouerlike verlof ongrondwetlik was omdat dit nie alle ouers gelyk en met waardigheid behandel het nie.

Dit is belangrik dat die hof bevestig het dat alle ouers, hetsy deur geboorte, aanneming of surrogaatskap, vry moet wees om saam te besluit oor hoe om die verantwoordelikhede gekoppel aan die grootmaak van hul kind te deel. Wette wat gesinne sonder enige geldige rede verhinder om daardie keuses te maak, diskrimineer nie net nie, maar maak ook inbreuk op hul persoonlike -/gesinslewe, wat hul menswaardigheid onnodig affekteer.

Voorheen

Voor hierdie baanbrekende uitspraak het die WBDV voorsiening gemaak vir gedifferensieerde verlofregte gebaseer op die rol van die ouer. Spesifiek:

 

  • Artikel 25 het ‘n biologiese moeder ten minste vier opeenvolgende maande onbetaalde kraamverlof toegestaan, wat tipies een maand voor die verwagte bevallingsdatum kon begin.
  • Artikel 25A het tien dae onbetaalde ouerlike verlof aan die vader of nie-biologiese ouer toegestaan, wat geneem mag word vir die eerste tien dae na die kind se geboorte of aanneming.
  • Artikel 25B het voorsiening gemaak vir onbetaalde aannemingsverlof van tien weke vir een aanneemouer, terwyl die ander aanneemouer slegs vir ouerlike verlof sou kwalifiseer ingevolge Artikel 25A.
  • Artikel 25C het ‘n soortgelyke raamwerk voorsien van onbetaalde opdraggewende ouerlike verlof vir opdraggewende ouers in ‘n surrogaatmoederskapooreenkoms, wat een ouer 10 weke onbetaalde verlof toelaat, terwyl die ander ouer vir ouerlike verlof sou kwalifiseer ingevolge Artikel 25A.
VERTOON JY DIE KORREKTE REGSPLAKKATE?
LAAT LWO JOU HELP!

Die nuwe ‘wet’ ingevolge die WBDV

Alhoewel die letterlike teks van die WBDV nog nie verander het nie, het die hof die Parlement 36 maande gegee om remediërende wetgewing in te stel wat die ongrondwetlikheid van hierdie artikels aanspreek. Tot dan het die hof ‘n tussentydse “inlees” van wysigings aan die WBDV verskaf om die ongelykheid in ouerlike verlof reg te stel. Dit word soos volg opgesom:

1. Ouerlike verlof

  • Enkelouers of die enigste ouer wat in ‘n diensverhouding is: ten minste vier agtereenvolgende maande se ouerlike verlof.
  • Indien beide ouers in diens is: ‘n gekombineerde totaal van vier maande en 10 dae se verlof wat gelyktydig of opeenvolgend geneem kan word soos op ooreengekom.
  • Indien daar geen ooreenkoms is nie: verlof word sover moontlik gelykop verdeel en neem in aanvang vanaf die kind se geboorte, met dien verstande dat vroulike werknemers wat aan die kind geboorte skenk, verlof vanaf vier weke voor geboorte kan begin neem, of vroeër indien medies so vereis word, en nie vir ses weke na geboorte mag terugkeer werk toe nie, tensy sy deur ‘n mediese praktisyn as geskik gesertifiseer is.

2. Aannemingsverlof

  • ‘n Enkellopende of enigste aanneemouer wat in ‘n diensverhouding is van ‘n kind onder twee jaar oud: ten minste vier maande se aannemingsverlof.
  • Indien ‘n aannemingsbevel ten opsigte van twee aanneemouers gemaak word, is beide partye altesaam geregtig op vier maande en 10 dae, wat op enige ooreengekome wyse (gelyktydig, opeenvolgend of ‘n kombinasie hiervan) geneem mag word.
  • Indien daar geen ooreenkoms gesluit is nie: aannemingsverlof word so na as moontlik aan die helfte vir elk verdeel, mits sodanige balans binne ‘n tydperk van vier maande vanaf die aanneming van die kind voltooi word.
  • Verlof kan begin op die datum waarop die aannemingsbevel toegestaan word of plasing deur ‘n bevoegde hof gedoen word hangende die finalisering van die aanneming, wat ook al vroegste is.
    Nog nie ‘n LWO lid nie?
    KYK NA ONS LIDMAATSKAPPAKKETTE.

    3. Opdraggewende ouerlike verlof

    • Begin vanaf die datum waarop ‘n kind gebore word as gevolg van ‘n surrogaatmoederskapooreenkoms.
    • ‘n Enkellopende opdraggewende ouer in ‘n surrogaatmoederskapooreenkoms: vier maande opdraggewende ouerlike verlof.
    • Twee opdraggewende ouers: hulle is altesaam geregtig op ‘n totaal van vier maande en 10 dae, wat op enige ooreengekome wyse (gelyktydig, opeenvolgend of ‘n kombinasie hiervan) geneem mag word. Indien daar geen ooreenkoms is nie, word die verlof gelykop verdeel, mits sodanige balans binne ‘n tydperk van vier maande na die kind se geboorte voltooi word.

    Interessant genoeg is die term “kraamverlof” uit hierdie artikels verwyder en vervang met “ouerlike verlof”. Hierdie uitspraak dui op ‘n beduidende verskuiwing na gelykheid en buigsaamheid in ouerlike verlof terwyl diverse gesinsstrukture erken word en daar meer gelyke toegang tot ouerlike verlof verseker word.

     

    Elke werksplek is uniek en hierdie uitspraak mag moontlik nie alle werkgewers in alle bedrywe dieselfde beïnvloed nie. Werkgewers moet die LWO kontak vir kundige advies oor hul individuele werksplekbehoeftes en interne beleide en praktyke opdateer om aan wetgewing te bly voldoen en alle ouers regverdig te ondersteun.

    Kontak die LWO vir enige advies of bystand!

    Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.

    VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?

    VIND NOU UIT.

    Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen. Ons help om enige leemtes te identifiseer ten einde te verseker dat jy binne wetlike riglyne besigheid doen.