Berading as progressiewe dissipline om wangedrag te hanteer

Berading is ‘n erkende vorm van progressiewe dissipline in die werksplek, maar die waarde daarvan word dikwels onderskat wanneer werkgewers met werknemers konsulteer oor oortredings in die werksplek.
Skedule 8 van die Wet op Arbeidsverhoudinge (WAV) sit die Goeiepraktykkode vir ontslag uiteen, wat riglyne aan werkgewers verskaf wat dissiplinêre prosesse en maatreëls oorweeg. Item 6(2) van die Kode beklemtoon die doel van dissiplinêre optrede as regstellend. Dit word hoofsaaklik behaal deur middel van gegradeerde maatreëls om ‘n werknemer se gedrag aan te spreek, wat afhangende van die omstandighede, berading kan insluit.
Berading kan dus verstaan word as ‘n gestruktureerde konsultasie met ‘n werknemer, wat daarop gemik is om hulle oor die probleem in te lig en die werknemer se gedrag vorentoe te probeer regstel en verbeter.
Beginsel van progressiewe dissipline
Die beginsel van progressiewe dissipline erken die doel van dissipline as om werknemers te help om die standaarde wat van hulle verwag word, te verstaan. Werkgewers moet redelike stappe neem om gedrag te verbeter of te verander deur die sistematiese gebruik van beradingsessies en waarskuwings.
‘n Skriftelike waarskuwing stel ‘n werknemer in kennis dat ‘n werksplekreël of -prosedure oortree is. Dit dui verder aan dat indien dieselfde wangedrag binne ‘n bepaalde tydperk herhaal word, ernstiger dissiplinêre stappe kan volg. Die uitreik van ‘n skriftelike waarskuwing beteken egter nie noodwendig dat die werknemer die werkgewer se dissiplinêre kode of die breër gevolge van die wangedrag ten opsigte van die werkgewer en mede-werknemers ten volle verstaan nie.
Berading is ‘n gepaste dissiplinêre maatreël in situasies waar ‘n werknemer se gedrag nie ooreenstem met ‘n werksplekreël of -standaard nie, of waar die werknemer onbewus is van ‘n reël wat gedrag reguleer. Dit is ook geskik in gevalle waar die wangedrag nie van ‘n ernstige aard is nie.
HOE BESTUUR JY WANGEDRAG?
Voorbeeld
‘n Algemene voorbeeld is waar ‘n werknemer herhaaldelik laat vir werk opdaag. Ingevolge die LWO se templaat dissiplinêre kode, kan ‘n werkgewer ‘n skriftelike waarskuwing uitreik na die eerste geval van laat aanmelding vir werk. Na ‘n derde voorval en nadat ‘n finale skriftelike waarskuwing uitgereik is, kan die werknemer (na ‘n dissiplinêre verhoor) vir ‘n vierde voorval ontslaan word. In sulke omstandighede word die werknemer ten volle bewus gemaak daarvan dat volgehoue laatkom onaanvaarbaar is en dat die werkgewer progressiewe dissipline toegepas het. Die vraag is egter of die werknemer werklik verstaan waarom stiptelikheid belangrik is.
In sulke gevalle kan berading as deel van progressiewe dissipline waardevol wees vir beide die werkgewer en die werknemer. Tydens ‘n formele beradingsessie kan die werkgewer die negatiewe impak en gevolge van laat aanmelding vir werk verduidelik, terwyl die werknemer die geleentheid kry om redes vir hul herhaalde laatkom te verskaf. Die konsultasie skep ook spasie om moontlike oplossings en praktiese stappe te bespreek ten einde die probleem op te los.
Hou rekord
Soos met waarskuwings, is dit noodsaaklik om rekord te hou van beradingskonsultasies met ‘n werknemer en enige besluite of voorstelle wat gemaak word, moet skriftelik gedokumenteer word. Dit dien as bewys dat berading as ‘n vorm van progressiewe dissipline toegepas is. Indien die wangedrag voortduur, sal die werkgewer geen ander keuse hê as om ander progressiewe dissiplinemaatreëls soos skriftelike waarskuwings, te implementeer nie.
Is dit altyd gepas?
Is berading altyd gepas? Nee. Berading as ‘n vorm van progressiewe dissipline is nie geskik in gevalle van ernstige wangedrag soos diefstal, growwe nalatigheid of oneerlikheid nie. Hierdie oortredings word tipies as ernstige wangedrag in die meeste werksplekke geag en lei dikwels tot ‘n onherstelbare verbrokkeling van die vertrouensverhouding tussen werkgewer en werknemer.
Progressiewe dissipline – en veral berading – kan effektief wees wanneer die werknemer ‘n opregte poging aanwend om hul gedrag reg te stel en te verhoed dat die wangedrag herhaal word.
Kontak die LWO– vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.