Seksuele teistering in die werksplek: voorkoming, beskerming en verantwoordelikheid

‘n Werksplek sonder enige teistering en afknouery is noodsaaklik vir werknemers se welstand, produktiwiteit en organisatoriese sukses. Terwyl teistering baie vorme kan aanneem, bly seksuele teistering ‘n ernstige uitdaging vir werkgewers in Suid-Afrika wat ongelukkig dikwels voorkom. Dit ondermyn waardigheid, skep ‘n vyandige werksomgewing en stel werkgewers bloot aan beduidende regs-, reputasie- en operasionele risiko’s.
Om beskerming te versterk, het Suid-Afrika die Goeie Praktykkode oor die Voorkoming en Uitwissing van Teistering in die Werksplek, 2022 (“die Kode”) ingevolge die Wet op Billike Werksgeleenthede, 1998 (WBW) ingestel. Die Kode bied leiding aan werkgewers, werknemers en ander belanghebbendes in die werksplek oor alle vorme van teistering, insluitend seksuele teistering, en die voorkoming en aanspreek daarvan.
Seksuele teistering gedefinieer
Seksuele teistering word breedweg gedefinieer as ongewenste gedrag van ‘n seksuele aard wat ‘n werknemer se regte skend en gelykheid in die werksplek hinder. Om te beoordeel of gedrag seksuele teistering daarstel, word die volgende faktore in ag geneem:
- of die teistering op ‘n verbode grond is;
- geslag, geslagsgelykheid en/of seksuele oriëntasie;
- of die gedrag onwelkom was;
- aard en omvang van die gedrag; en die
- impak van die gedrag op die werknemer.
Seksuele teistering kan fisies, verbaal of nie-verbaal wees en kan plaasvind tussen kollegas, bestuurders en ondergeskiktes, kliënte en werknemers, of enige ander persone wat met die werksplek verbind is. Voorbeelde sluit in ongewenste seksuele toenaderings, onvanpaste aanraking, seksueel suggestiewe opmerkings of grappe, die najaag van ‘n werknemer (herhaalde ongewenste versoeke vir afsprake), die vertoon of verspreiding van seksueel eksplisiete materiaal en gedrag wat ‘n intimiderende, vyandige of aanstootlike omgewing skep. Dit is belangrik om kennis te neem dat die assessering fokus daarop of die gedrag onwelkom was en of dit die waardigheid van die betrokke persoon aangetas het.
Die primêre doel van die Kode is om vir werkgewers en werknemers leiding te gee oor wat teistering uitmaak en om maatreëls, beleide en prosedures uiteen te sit om dit te voorkom en uit te skakel. Dit bevorder werksplekke wat staan gemaak is op waardigheid, gelykheid, wedersydse respek en veiligheid, terwyl dit werkgewers se verpligtinge kragtens arbeidswetgewing versterk om werknemers teen onbillike diskriminasie en teistering te beskerm.
HET JY ‘N SEKSUELE TEISTERINGSBELEID IN PLEK?
Voorkoming
‘n Kerndoelwit van die Kode is voorkoming. Werkgewers word vereis om proaktiewe maatreëls in te stel om werksplekkulture te vestig waar teistering nie geduld word nie. Dit sluit in om duidelike beleide te ontwikkel, gedragstandaarde te kommunikeer, bewustheids- en opleidingsinisiatiewe uit te voer en te verseker dat werknemers hul regte en verantwoordelikhede verstaan.
Klagtes
Die Kode gee ook duidelikheid oor hoe om klagtes te hanteer. Werkgewers moet toeganklike en vertroulike rapporteringsmeganismes instel, klagtes vinnig, billik en sensitief ondersoek en binne ‘n redelike tydsbestek optree. Versuim om dit te doen, of onredelike vertragings in reaksie, kan werkgewers blootstel aan middellike aanspreeklikheid kragtens artikel 60 van die WBW. Werkgewers moet demonstreer dat hulle hulself van die gedrag distansieer. Slagoffers moet beskerm word teen viktimisering en vergelding, terwyl daar prosedureel billik teenoor beweerde oortreders tydens ondersoeke of dissiplinêre prosesse opgetree moet word.
Beskerming
Nog ‘n belangrike doelwit is om beskerming buite tradisionele werksplekgrense uit te brei. Die Kode erken dat teistering kan plaasvind tydens sakereise, werksfunksies, opleidingsgeleenthede, virtuele vergaderings, aanlyn kommunikasie en interaksies met derde partye. Werkgewers moet verseker dat hul beleide en voorkomende maatreëls die realiteite van moderne werksomgewings weerspieël.
Om aan die Kode te voldoen moet nie slegs as ‘n wetlike verpligting gesien word nie. Dit is ook ‘n geleentheid om vertroue, werknemerbetrokkenheid en organisatoriese veervermoë om terug te spring te bevorder. Werknemers wat gerespekteerd en veilig voel, is meer geneig om positief by te dra tot die werksplek se prestasie en kultuur.
Ten einde seksuele teistering te voorkom en uit te skakel, vereis dit toewyding van bestuur, effektiewe beleide, deurlopende opleiding en ‘n duidelike boodskap dat onbehoorlike gedrag nie geduld sal word nie. Deur die Kode se beginsels en doelwitte aan te neem, kan werkgewers ‘n kritieke rol speel om werksplekke te skep waar waardigheid, respek en gelykheid ‘n geleefde werklikheid is.
Kontak die LWO– vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.