Plaaslike regeringsverkiesings: Nog ‘n openbare vakansiedag vir 2026

Suid-Afrika het gewoonlik 12 amptelike openbare vakansiedae per jaar. 2026 het egter ‘n gelukkige nommer 13 bygekry, met die regering wat ‘n bykomende openbare vakansiedag vir 4 November 2026 aangekondig het.
Wet op Openbare Vakansiedae
Openbare vakansiedae in Suid-Afrika word deur wetgewing gereguleer, spesifiek die Wet op Openbare Vakansiedae, Wet 36 van 1994. Ingevolge hierdie wet word die volgende dae gewoonlik as amptelike openbare vakansiedae regoor die Republiek van Suid-Afrika erken:
- Nuwejaarsdag – 1 Januarie
- Menseregtedag – 21 Maart
- Goeie Vrydag – Vrydag voor Paassondag
- Familiedag – Maandag na Paassondag
- Vryheidsdag – 27 April
- Werkersdag – 1 Mei
- Jeugdag – 16 Junie
- Nasionale Vrouedag – 9 Augustus
- Erfenisdag – 24 September
- Versoeningsdag – 16 Desember
- Kersdag – 25 Desember
- Welwillendheidsdag – 26 Desember
Plaaslike regeringsverkiesings
Vanjaar egter – soos in baie verkiesingsjare voorheen – is die datum vir die plaaslike regeringsverkiesings, Woensdag 4 November 2026, amptelik tot ‘n openbare vakansiedag vir die hele land verklaar. President Cyril Ramaphosa het hierdie verklaring gemaak ingevolge Artikel 2A van die Wet op Openbare Vakansiedae, soos gepubliseer in Proklamasiekennisgewing 346 van 2026 in die Staatskoerant nr. 55352 van 8 September 2026.
In ‘n persverklaring wat op 15 September 2026 deur die Presidensie uitgereik is, het die President alle geregistreerde kiesers aangemoedig om die geleentheid wat die openbare vakansiedag bied, te benut om hul demokratiese reg en burgerlike plig uit te oefen deur te stem in die verkiesing wat burgers in staat stel om plaaslike openbare verteenwoordigers te verkies en dienslewering in hul woongebiede te beïnvloed. Hy het werkgewers verder versoek om voorsiening daarvoor te maak dat werknemers op 4 November hul grondwetlike stemreg kan uitoefen.
WERK WERKNEMERS OP ‘N OPENBARE VAKANSIEDAG?
In die werksplek
Werkgewers word daaraan herinner dat hierdie bykomende vakansiedag dieselfde hanteer moet word as enige ander openbare vakansiedag. Dit is belangrik om te onthou dat dit ‘n alleenstaande toevoeging tot die kalender is kragtens die Wet op Openbare Vakansiedae, wat die President die mag gee om ‘n spesifieke dag as ‘n openbare vakansiedag te verklaar. Dit vervang of absorbeer nie ‘n bestaande vakansiedag nie; dit voeg bloot nog een by. Werkgewers moet dus 4 November 2026 op dieselfde manier hanteer as enige ander gepubliseerde openbare vakansiedag vir die doeleindes van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 75 van 1997 (WBDV).
Dit beteken dat werkgewers slegs ‘n paar weke het om betaalstelsels, operasionele beplanning en kalenders by te werk voor die openbare vakansiedag op verkiesingsdag. Voorbereidings moet nie tot op die laaste nippertjie uitgestel word nie. ‘n Bykomende openbare vakansiedag kan ‘n uitwerking hê op skofroosters, sperdatums vir salarisbetalings, verlofreëlings en operasionele vereistes, veral waar werknemers geskeduleer is om oor naweke en openbare vakansiedae te werk.
Werkgewers behoort eerder as later hul beplanning en reëlings te hersien om te verseker dat daar behoorlik vir die bykomende openbare vakansiedag voorsiening gemaak word en dat werknemers betyds van enige veranderinge in kennis gestel word. In sektore waar werknemers op openbare vakansiedae moet werk, behoort werkgewers ook – waar redelikerwys moontlik – voorsiening te maak daarvoor dat werknemers genoeg tyd het om die werk te verlaat en op 4 November te gaan stem.
Een verandering wat werkgewers dikwels oor die hoof sien, het betrekking op werknemers wat reeds goedgekeurde verlof vir daardie tydperk het. Ingevolge die WBDV tel ‘n openbare vakansiedag nie as ‘n dag van jaarlikse verlof nie. Waar werknemers dus vooraf goedgekeurde jaarlikse verlof het, moet werkgewers verseker dat die openbare vakansiedag korrek verreken en akkuraat in diensrekords weergegee word.
Die reg om te stem
Aangesien die verkiesing op ‘n Woensdag plaasvind, word werkgewers aangemoedig om buigsaam te wees en billike reëlings te tref sodat werknemers genoeg tyd het om hul stemreg uit te oefen. Hoewel 4 November 2026 ‘n openbare vakansiedag is, mag sommige werknemers steeds verplig wees om te werk, afhangende van operasionele behoeftes en regulasies. Werkgewers wat onseker is oor hoe werknemers vir werk op die openbare vakansiedag vergoed moet word, of hoe die regulasies op hul spesifieke sektor van toepassing is, kan die LWO te kontak vir advies en leiding.
Kontak die LWO vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.