Vakbonde en politieke partye in die werksplek

In die Suid-Afrikaanse arbeidsomgewing word die verhouding tussen werkgewers, werknemers en hul verteenwoordigers gereguleer deur die Wet op Arbeidsverhoudinge, Wet 66 van 1995 soos gewysig (WAV). Hierdie wet bepaal dat vakbonde wat amptelik geregistreer is by die Departement van Indiensneming en Arbeid, die werksverhouding tussen werknemer en werkgewer kan betree en onder andere werksplekgriewe en kollektiewe bedinging aanpak.
Wat van politieke partye?
Die Arbeidsappèlhof het in die saak van CCI South Africa (Pty) Ltd vs African National Congress Youth League and Others (2024) 45 ILJ 969 (LAC) bevestig dat politieke partye slegs toegelaat word om in ‘n adviserende hoedanigheid hul lede te kan bystaan. Hulle is egter nie vakbonde nie en kan nie aanspraak maak op organisatoriese regte in ‘n werksplek nie.
’n Arbeidshofsaak, Calgan Lounge (Pty) Ltd vs. National Union of Furniture and Allied Workers of South Africa and Others [2018] JOL 40495 (LC), werp lig op die gevare van sulke inmenging.
Vakbonde se rol
Histories is vakbonde noodsaaklik om werknemers se regte te bevorder. Die WAV vereis dat vakbonde geregistreer moet wees om te verseker dat hulle aan streng regulatoriese vereistes voldoen. Hierdie registrasie stel vakbonde onder die toesig van die Registrateur van Arbeidsverhoudinge, ten einde billike en deursigtige prosesse te verseker. Die WAV maak ook voorsiening vir werksplekforums en werkgewersorganisasies om geskille op te los, maar politieke partye word uitdruklik uitgesluit van hierdie strukture.
IS DAAR ‘N VAKBOND BETROKKE IN JOU WERKSPLEK?
Politieke inmenging en die aanhits van onwettige aktiwiteite
In die Calgan Lounge-saak het die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) hulself by ’n arbeidsgeskil betrek by ’n logistieke maatskappy. Die EFF het beweer dat hulle ’n mandaat gehad het om namens die werkers op te tree en het ’n memorandum met eise aan die maatskappy se uitvoerende hoof oorhandig. Volgens die hof het hierdie eise, wat op ’n EFF-briefhoof geskryf is, meer na ’n politieke manifesto gelyk as na wettige werksplekgriewe. Die maatskappy het die EFF gewaarsku daarteen dat hul aksies onvanpas is en dat daar bestaande grieweprosedures en vakbondverteenwoordiging in die werksplek was. Die werkers, ondersteun deur die EFF, het egter ’n sloerstaking en later ’n volle staking onderneem, wat tot dade van intimidasie, obstruksie en blokkade van die maatskappy se persele, asook skade aan eiendom gelei het.
Die maatskappy het op ‘n dringende basis aansoek gedoen vir ‘n interdik by die Arbeidshof om die staking te stop, wat as onbeskermd beskou is omdat dit nie aan die WAV se vereistes voldoen het nie. Die hof het eers ‘n tussentydse bevel uitgereik teen die EFF, waarin hulle die staking onwettig verklaar het, gelas het dat hulle moet ophou met hul onwettige optrede en dat hulle ongeveer twee maande later moet terugkom hof toe om redes te gee oor waarom die interdik laat vaar moet word.
Hofverrigtinge is hervat op die terugkeerdatum waarna die hof bevind het dat die EFF geen reg gehad het om by die geskil betrokke te raak nie, aangesien politieke partye geen plek in die WAV se strukture het nie. Deur in te meng, het die EFF die kollektiewe bedingingsproses ondermyn, wat uiteindelik daartoe gelei het dat die stakende werkers hul werke verloor het. Die hof het die interdik teen die EFF en die stakers bevestig, met kostes.
Politieke partye hoort buite die werksplek
Die Calgan Lounge-saak toon duidelik die risiko’s van politieke inmenging in werksplekgeskille. Politieke partye is nie onderhewig aan dieselfde regulasies as vakbonde nie en hul optrede kan die delikate balans van kollektiewe bedinging versteur. Werknemers kan dus slegs hul politieke partye se advies aanvra, maar die politieke partye kan nie namens die werknemer/vakbond oor arbeidsaangeleenthede onderhandel nie.
Werkgewers en werknemers moet die belangrikheid van gevestigde prosedures en die rol van geregistreerde vakbonde erken. Die WAV se strukture is ontwerp om orde en regverdigheid te verseker en politieke partye se betrokkenheid kan hierdie delikate prosesse ondermyn.
Kontak die LWO– vir enige advies of bystand!
Nog nie ‘n LWO lid nie? Kyk na ons lidmaatskap opsies.
VOLDOEN JOU BESIGHEID AAN ARBEIDSWETGEWING?
VIND NOU UIT.